Flagstone Sauvignon Blanc bekroon as SA se beste jongwyn  

ʼn Ongehoute Sauvignon Blanc van Flagstone buite Somerset-Wes het die gesogte Generaal Smuts-trofee los geslaan as algehele SA Kampioen Jongwyn vir 2019 nadat dit ook bekroon is as die beste inskrywing in die Sauvignon Blanc-kategorie op vanjaar se SA Jongwynskou.

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die spesifieke oesjaar het vanjaar 115 sauvignon blanc-inskrywings gelok uit die altesaam 1 455 wyne wat beoordeel is. Dit was die vyfde keer in die kompetisie se 187-jarige bestaan – die oudste van sy soort ter wêreld – dat ʼn sauvignon blanc die louere inoes as 68ste wenner van die Generaal Smuts-trofee.

Die kompetisie se altesaam 19 SA kampioenwyntrofeë, insluitend die Pietman Hugo-trofee vir die meeste punte met vyf inskrywings, is soos gebruiklik by ʼn glansdinee oorhandig. Altesaam 49 wyne het klaswenner-status behaal en 99 het goue medaljes ontvang.

Die wenner van die Pietman Hugo-trofee was Badsberg Wynkelder van die Breedekloof wat as produsentekelder sy veelsydigheid getoon het uit inskrywings van  ʼn wyne spektrum oorsprongsgebiede en keldertipes.

Die totale getal inskrywings van 1 455 was effe minder as verlede jaar en reflekteer die relatief kleiner oes weens uitdagende droë en warm weerstoestande. Die resultaat was ongelyke rypwording, minder en oneweredige trosse en klein korrels by sommige kultivars. Hierdie omstandighede is egter, volgens die beoordelaars, puik deur die wyndruifprodusente en wynmakers hanteer.

Aan rooiwynkant het die 125 rooi versnitte goeie potensiaal getoon. “Ondanks die uitdagings toon hulle diep kleure en konsentrasie, met suiwerheid van vrug en gebalanseerde sure en tannien, dog sonder aggressiwiteit,” aldus Samantha de Morney-Hughes, sameroeper van een van die rooiversnit-panele.

Nog ʼn ster van die skou, met twee nasionale wenners, was Benguela Cove van Walker-baai met die SA kampioene Cabernet Sauvignon (gehout) en  Merlot  (gehout).

Die res van SA Kampioenwyne is:

  • Chardonnay – Glen Carlou Wingerde Chardonnay (gehout)
  • Sémillon – La Motte, Sémillon
  • Ander Wit Kultivar – Botha Kelder, Nouvelle
  • Wit Versnit – KWV, Sauvignon Blanc/Sémillon
  • Natuurlike Soet Witwyn – OWK Keimoes, natuurlike soet witwyn (RS >20g/l)
  • Edellaatoeswyn – Bon Courage Landgoed, edellaatoes
  • Shiraz – Namaqua Wyne – Shiraz (gehout)
  • Ander Rooi Kultivar – Diemersdal Landgoed, Petit Verdot (gehout)
  • Rooi Versnit – Riebeek Valley Wine Company, Shiraz/Mourvedré
  • Dessertwyn – Merwida Wynkelder, Hanepoot Jerepiko
  • Port-styl – Delaire Graff Wines, Cape Tawny

Die ander finaliste in die verskillende kategorieë was (by die stilwyne word gewoonlik ʼn ongehoute en gehoute wyn onderskeidelik as finaliste aangewys):

  • Chardonnay – Boland Kelder, Chardonnay
  • Chenin Blanc – Windmeul Kelder, Chenin Blanc
  • Sémillon – Spier Wyne, Sémillon (hout)
  • Ander Wit Kultivar – OWK Keimoes, Colombar (hout)
  • Wit Versnit – Spier Wyne, Sauvignon Blanc/Sémillon (hout)
  • Natuurlike Soet Witwyn – OWK Kakamas, muskaat, enige ander wit versnit, Colombar/Wit Muskadel (RS 12,1 – 30g/l)
  • Cabernet Sauvignon – Bonnievale Kelder, Cabernet Sauvignon
  • Shiraz –Namaqua Wyne, Shiraz
  • Pinotage – Wellington Wyne, Pinotage
  • Merlot – Wellington Wyne, Merlot
  • Ander Rooi Kultivar – KWV, Cabernet Franc (gehout)
  • Rooi Versnit – Darling Kelders, Cabernet Sauvignon/Merlot/Malbec (hout)
  • Dessertwyn – OWK Keimoes, Rooi Jerepiko
  • Muskadel – Montagu Wynkelder,  Rooi Muskadel Jerepiko
  • Portstyl – Calitzdorp Wynkelder, Oesjaar

Vir meer inligting, besoek www.youngwineshow.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>