‘fire water: SOUTH AFRICAN BRANDY’ die beste in die wêreld

Date posted:
July 20, 2009

Suid-Afrika maak reeds die beste brandewyn in die wêreld  - ‘n sege wat gestaaf word deur die feit dat dit gereeld “Beste Brandewyn in die Wêreld”-toekennings by internasionale wyn en spiritus-kompetisies verower. Nou het ‘n Suid-Afrikaanse boek oor brandewyn hierdie segetog voortgesit deur die “Beste in die Wêreld”- Gourmand-boektoekenning te ontvang.

 

“fire water: SOUTH AFRICAN BRANDY”, wat deur Quivertree en die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting uitgegee word, is pas aangewys as die “Beste boek in die wêreld” in die Wyn- en Spiritus-kategorie by die jaarlikse, toonaangewende Gourmand- wêreldkookboek-toekenningsgeleentheid in Parys.

 

Die Gourmand-wêreldkookboektoekenning is in 1995 begin om diegene wat “met woorde kook” te beloon en om lesers te help om die beste boeke uit die menigte wat elke jaar gepubliseer word, te vind, asook om kennis en respek vir die kos - en wynkultuur uit te brei.

 

Die Gourmand-beoordelaars het die volgende kommentaar op die boek gelewer: “fire water: SOUTH AFRICAN BRANDY is ‘n wêreldklas-naslaanboek vir wêreldklas-produkte met opspraakwekkende fotografie en fassinerende teks. Die deskundige, Michael Fridjhon, beskryf brandewyn so raak, as vurig en ontoeganklik in sy jeug - maar die beste brandewyn ontwikkel op so ‘n manier dat sy ware herkoms ontplooi word. Die skoenlapper verrys uit sy kokon van eik.”

 

Suid-Afrika het ook die derde plek vir die “Beste Wynfotografie in die Wêreld” ontvang – die beoordelaars was dit eens dat fotografie vir hierdie tipe boeke nie maklik is nie.

 

Volgens Dr Caroline Snyman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting, is Suid-Afrikaanse brandewyne produkte van wêreldgehalte met unieke smake, karakter en styl. Deur die toekenning vir “die beste boek in die wêreld” te wen, word die verhaal van ‘n nasionale skat waarop elke Suid-Afrikaner trots kan wees, verder vertel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram