Elmarie Botes skryf haar eie storie op Nederburg

Dinamiet kom in klein pakkies, of so lui die gesegde, maar dis só gepas vir die jongste lid van die Nederberg-wynmaakspan, die 31-jarige Elmarie Botes. Sy voltooi tans haar eerste oes vir dié bekende Paarlse wynkelder, een van Suid-Afrika se mees bekroonde kelders.

 

“Ek het baie groot skoene om vol te staan om die ongelooflike hoë standaard wat só deel is van die Nederburg-handelsmerk te ewenaar en vol te hou,” verduidelik Elmarie met verwysing na haar voorganger, Natasha Boks, wat die afgelope vyf jaar baie nou betrokke was by die maak van sommige van Nederburg se mees bekroonde wit- en dessertwyne.

 

Elmarie sê sy geniet haarself gate uit ten spyte van die lang werksdae gedurende parstyd wat sy sy-aan-sy met die keldermeester, Andrea Freeborough, die rooiwynmaker, Samuel Viljoen, en die assistent- wit- en rooiwynmakers, Chandré Petersen en Heinrich Kulsen, meemaak.

 

“Daar is niks meer opwindend as om die eerste druiwe die kelder te sien inkom vir ’n nuwe oesjaar nie. Die afwagting is tasbaar. En om die wyn te sien ontwikkel van die grond tot die bottel, is net ongelooflik!

 

“Ek is versigtig opgewonde oor wat die 2018-oesjaar in uiteindelike wyngehalte gaan lewer ten spyte van die uitdagings wat veral die droogte oor ons pad gebring het. Tog kom elke oesjaar met sy eie unieke uitdagings wat oplossings verg en dis iets wat ek verwelkom. Ek vind die onsekerheid op ’n snaakse manier besielend. Dis letterlik soos ’n dors vir ontdekking en meer weet.”

 

Wat geniet sy die meeste? “Waardige uitdagings, die natuur wat ons almal onderhou en ’n goeie wyn.” Dis da nook geen wonder sy het halsoorkop verlief geraak op die idee van wynmaak toe sy as ’n graad 11-skolier ’n keldertoer meegemaak het nie. “My sintuie het onmiddellik ontwaak en dit was tot daarnatoe. Net daar het ek besluit om in te skryf vir die BSc-graad in Wyn- en Wingerdkunde wat by die Universiteit van Stellenbosch aangebied word.”

 

Elmarie, wat in die Kaapse Wynlande grootgeword en haar hoërskoolloopbaan by die gesiene Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch voltooi het, het geweet dis ’n uitdagende bedryf. Maar waar fisiese krag dalk ontbreek, vergoed sy beslis met deursettingsvermoë en dryfkrag. Haar ouers is haar inspirasie. “Hulle het hard gewerk om te verseker dat ek en my ingenieur-broer ons drome kon bereik.”

 

Nadat sy haar studies voltooi het, het sy haar wynmaak-loopbaan met ’n kort oes by Lanzerac buite  Stellenbosch begin voordat sy ook by Groot Constantia, Steenberg, Kanonkop en Jordan as ’n intern gewerk het. Sy het groot potensiaal getoon en is in 2011 gekies om ’n driejaar-internskap saam met die Kaapse Wynmakersgilde (KWG) as deel van sy Protégé-program te voltooi. “Ek was bevoorreg om saam met uitsonderlike wynmakers te werk en het die geleentheid gehad om ongelooflike plaaslike en internasionale wyne te proe.”

 

Die wyn wat sy gedurende haar tyd as protégé gemaak het, was die The 43 Bush Pinotage, die eerste wyn wat sy haar eie kon noem en haar hoogtepunt sover. “Dit was heerlik om hierdie wyn te maak. Dit het my die geleentheid gebied om elke stap van die wynmaak-proses self te behartig – van die druiwe proe tot die pluk en tot ontvangs daarvan in die kelder, die verwerking, deurdruk, bottelering en etikettering. Dit het my ’n groot waardering gegee vir elkeen se rol in die wingerd en kelder wat deel van die proses uitmaak.”

 

Sy het in 2013 die geleentheid aangegryp om ’n oes in Frankryk mee te maak waar sy gehelp het om chardonnay by Domain Pattes Loup in Courgis, Chablis, te maak. “Hierdie onvergeetlike ervaring het my gewys hoe fassinerend die wynmaakproses kan wees. Dit het ’n heel nuwe vlak van nuuskierigheid by my laat ontbrand. Terwyl ek in Frankryk was, was ek ook bevoorreg om die wêreldbekende Domaine de la Romanée-Conti in Boergondië te besoek. Dit was heerlik. Hulle het my – ten spyte van die taal-hindernis – so welkom laat voel! Ek sal nog graag na die Mosel-wynstreek in Duitsland en die Rhône-wynstreek in Frankryk wil reis en ook die hele Italië wil ontdek. Mens kan nooit ophou leer en ontdek nie.”

 

Sy het in 2013 by Fleur du Cap in Stellenbosch as assistent witwynmaker aangesluit en is in 2016 as witwynmaker aangestel. Sy het hierdie rol vervul voor sy laat verlede jaar by Nederburg as witwynmaker aangesluit het.

 

Elmarie glo minder is meer. “Ek probeer so min as moontlik met die wynmaakproses inmeng. Volgens my moet ’n wyn sy ware karakter en terroir weerspieël. En as ’n wynmaker sien ek my rol as ’n begeleiding om die druiwe tot hul vole individuele potensiaal te lei. Wanneer jy wyn met passie maak, is dit sigbaar! Dit beteken dat jy alles oor elke wingerd wat die druiwe verskaf waarvan die wyne gemaak word, moet leer, en voortdurend moet eksperimenteer om jou vaardighede te slyp om te verseker dat wynliefhebbers net die beste in elke bottel kry.”

 

Haar liefde vir wynmaak oorheers haar hele lewe. “Wanneer jy ’n glas wyn drink, neem dit jou na ’n spesifieke plek of tyd in jou lewe, en dit word deel van jou storie. Ek geniet die manier hoe wyn verskillende mense saamsnoer en vriende maak en hoe goed mens dit met kos kan pasmaak. Ek glo dis meer kuns as wetenskap.

 

“Ek geniet dit om veral met chenin blanc, een van Suid-Afrika se vroegste en mees aangeplante druifkultivars, te werk omdat dit so veelsydig is. Internasionale wynkritici, -skrywers en smaak-vormers het die afgelope paar jaar begin om chenin blanc as Suid-Afrika se troefkaart te erken. Ek glo ons land se sterkste eienskap is ons vermoë om hierdie wyn in ’n wye verskeidenheid style te maak.”

 

Oor naweke sal jy hierdie vurige wynmaker heel moontlik in die gym gewaar, of aan’t voetslaan in die berge, of waar sy op die strand ontspan, of waar sy lekker kuiertyd met vriende, goeie pasta en wyn inruim. Elmarie is passievol oor die natuur en oor Suid-Afrika, só passievol dat sy ten doel het om te leer om Xhosa vlot te praat en haar MBA in die volgende tien jaar te voltooi.

 

“Daar is soveel potensiaal in ons land, maar ons moet almal saamwerk om hierdie hoogtes te bereik. Wees braaf. Wees veerkragtig. Wees honger vir sukses.”

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>