Elgin Vintners laat die smaakkliere rieldans van pure genot!

Elgin Vintners is in ’n sogenaamde koelklimaatstreek geleë … en dis miskien een van die redes hoekom hul wyne so cool is, om ’n hedendaagse term te gebruik. Toe die gawe mense van dié wynlandgoed in die Elgin-vallei my einde verlede jaar met twee van hul keldertrotse verras, het ek geweet 2021 gaan op ’n hoër noot afsluit as waarmee dit begin het.

Die landgoed se The Century 2019 is ’n asemrowende versnit van sauvignon blanc (53%) en semillon (47%). Hierdie Bordeaux-styl wit versnit is ’n huldeblyk aan mnr. Douglas Moodie van Eikenhoff wat in September 2011 ’n honderdtal in jare bereik het. Hy was een van die stigterslede van die vrugtebedryf in die Elgin-vallei.

Nadat die sauvignon blanc-druiwe ontstingel en fyn gedruk is, is dit 8 uur lank onder droë ys toegelaat op die doppe. Toe is ’n dubbele gistingsproses toegelaat.

Die semillon-druiwe is ook ontstingel en fyn gedruk en die sap is toegelaat om in beton-“eiers” te gis. Na die gistingsproses afgehandel is, is albei komponente vir ’n maand lank op die moer gelos waarna dit oorgepomp en versny is. Die versnit is toe terug na die beton-“eiers” van 1 500 liter en toegelaat om vir nog 6 maande op die moer te bly voor bottelering.

Wat eerste opval van hierdie tweede oesjaar van Elgin Vintners se The Century-versnit is sy helder, liggeel kleur met ’n effense groen skynsel. Maar dis in die neus en mond waar hy tot sy reg kom. Heerlike aromas van koejawel, veselperske, vinkel en vye, met subtiele kamferfoelie, word in die mond gevolg deur die uitlokkende geure van vrugte soos kwepers en Golden Delicious-appels, met ’n verfrissende mineraliteit wat mens laat uitsien na die volgende sluk. Die wyn se weelderige romerigheid en gebalanseerde suur dra by tot sy algehele genot.

Volgens die wynmaker, Marinda Kruger-Claassen, kan hierdie wit versnit selfs groter kompleksiteit bereik met verdere veroudering. Sy stel voor mens geniet hom saam met vars oesters, pangebraaide koningklipvis met ’n romerige okkerneut-kaassous, suurlemoen-en-kruie-hoender, aspersies in ’n béarnaise-sous of oondgeroosterde eend.

Die Elgin Vintners The Century 2019 kos sowat R230 by die kelder, en hy’s elke sent werd! Sy toekennings spreek vanself.

Merlot word dikwels beskryf as die onbesonge held van Bordeaux. My liefdesverhouding met rooiwyn het met hierdie onbesonge held begin en nooit opgehou nie. As hy reg gemaak word, staan hy vir geen ander rooi kultivar terug nie.

Die Elgin Vintners Merlot 2019 is ’n volbloed weergawe, m.a.w. dit is 100% van merlot gemaak. Nadat die trosse ontstingel is, is die druiwe toegelaat om natuurlik in oop houttenks te gis. Die sap is toe na Franse eikehoutvate van 300ℓ oorgeplaas waar appelmelksuurgisting plaasgevind het. Hierna is die wyn vir 20 maande verouder.

Hierdie wyn, wat medium in gewig is, het ’n diep robynkleur, ’n eksotiese neus van pruime, bloubessies, viooltjies en okkerneut wat in die mond voortgesit word waar ’n heerlike speseryagtigheid en ligte tanniene bydra tot sy kompleksiteit en elegansie. Dis ’n ware jentelman van ’n rooiwyn!

Marinda stel voor mens geniet hom op sy eie of saam met disse soos krakerige eend, sampioen-galette, kabeljou of forel.

Elgin Vintners se Merlot 2019 kos ook sowat R230 by die kelder, en ook hy is elke sent werd. Ek meen, 90 punte by Gilbert and Gaillard en 91 by Tim Atkin MW is beslis nie te versmaai nie.

As jy ’n ware entoesias is en jouself ’n guns wil bewys, koop ’n kissie van elke en maak oor die volgende 6/12 jaar elke jaar een bottel van elk oop en kyk hoe hul “persoonlikhede” ontwikkel. Dis wat ek gaan doen.

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>