Eksklusiewe nuwe trio Zonnebloem Limited Edition-wyne nou beskikbaar

Date posted:
November 23, 2009

Zonnebloem het pas 'n nuwe drietal in hul besonderse Limited Edition-wynreeks bekend gestel. Vanjaar bestaan die spesiale versameling wyne uit 'n Sauvignon Blanc wat reeds uitgeblink het by Veritas, 'n Shiraz en 'n Chenin Blanc, die jongste toevoeging tot dié uitsoek- Zonnebloem-reeks.

 

Zonnebloem Sauvignon Blanc Limited Edition 2009 het 'n goue medalje by vanjaar se toonaangewende Veritas-toekennings ingepalm, terwyl die Zonnebloem Chenin Blanc Limited Edition 2009 en die Zonnebloem Shiraz Limited Edition 2007 ook aanspraakmakers op medaljes was.

 

Slegs die beste vaatjies van uitgesoekte wingerde word vir die Zonnebloem Limited Edition-reeks gekies en dié wyne wissel van oesjaar tot oesjaar na gelang van die wynmakers se keuse in die kelder. Die wyne word met die hand gemaak en sorgvuldig gepamperlang totdat hul gehalte volmaak is om sodoende te verseker dat die druiwe uiting gee aan hul ware karakter en die wyn van optimale gehalte is.

 

Die Zonnebloem Sauvignon Blanc Limited Edition 2009 is gemaak van druiwe afkomstig van wingerde wat hoofsaaklik in die Darling-omgewing geleë is, met 30% wat van Stellenbosch kom.

 

“Hierdie volronde wyn is propvol tipiese sauvignon blanc-aromas, soos groen soetrissies, groenvye, vars gesnyde gras en aspersies, met die groenvye- en aspersiegeure wat deurvolg na die mond," is hoe die wynmaker, Deon Boshoff, dié Veritas-wenner beskryf.

 

Hierdie Sauvignon Blanc is die perfekte somerswyn: geniet hom op sy eie of sit hom voor saam met pasta- en hoendergeregte met ligte, effens gegeurde souse.

 

Die Zonnebloem Chenin Blanc Limited Edition 2009 is gemaak van druiwe wat met die hand gepluk is van droëlandwingerde in die Darling-omgewing.

 

“Dit is regtig baie mooi wingerde en sit teenaan die see wat meebring dat die seewind direk in die rye af waai tydens die rypwordingsproses wat sodoende baie voordelig is vir die kwaliteit van die druiwe en die behoud van al die geure," het die wingerdboukundige, Annelie Viljoen, gesê.

 

In die neus is hierdie komplekse en volronde wyn ryk aan prominente koejawel- en pynappelgeure, terwyl die smaak behaag met 'n romerige tekstuur en 'n heerlike ontploffing van pynappelgeure.

 

Boshoff beveel aan dat jy hierdie wyn op sy eie of as 'n heerlike pasmaat met vis, witvleis of vars slaaie geniet.

 

Die Zonnebloem Shiraz Limited Edition 2007 is gemaak van druiwe wat met die hand gepluk is van wingerde geleë in die Stellenbosch-kloof, die Helderberg en Devonvallei.

 

“Dié Shiraz met sy diep robynkleur is ryk in aromas van ryp bessies en pruime met 'n sweempie leer en eikehoutspeserye op die neus, terwyl die smaak volrond en ryk is met 'n komplekse vermenging van bessiegeure, sagte tanniene en goed saamgestelde houtgeure,” het Bonny van Niekerk, wynmaker van Zonnebloem se rooiwyne, gesê.

 

Die wyn is ewe lekker op sy eie of voorgesit saam met wildsvleis of rooivleisgeregte.

 

Die Chenin Blanc Limited Edition 2009 sal sowat R58 kos, die Sauvignon Blanc Limited Edition 2009 dieselfde en die Shiraz Limited Edition 2007 sowat R90.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram