Eikendal stel sy veelsydige Sauvignon Blanc 2010 bekend

Date posted:
July 26, 2010

 

Die Eikendal-wynlandgoed buite Stellenbosch het onlangs sy Sauvignon Blanc 2010 vrygestel, 'n veelsydige en ryk gegeurde wyn wat die perfekte keuse vir enige sauvignon blanc-liefhebber is.

 

Eikendal se sauvignon blancs het oor die afgelope paar jaar goeie blootstelling gekry by die Berlynse- en Decanter-wynskoue, en het getroue volgelinge in Suid-Afrika. Boonop het hierdie wyne 'n spesiale herkoms. Die wingerdboukundige en assistent-wynmaker, Edward Jonsson, verduidelik: “Hier by Eikendal het ons besluit om ons daaraan toe te wy om ons wingerdbou-aanplantings oor tyd te verbeter. Ons is tans besig met die hernuwingsfase van ons sauvignon blanc-wingerd en dit laat ons toe om in hierdie tyd wingerde van ander gebiede te oorweeg. Dit is alombekend dat die koel klimaat van die Kaapse Weskus sorg vir druiwe van ’n baie goeie kwaliteit. Dit was dus net logies dat ons daar begin soek het. Die Weskus-druiwe vul die Stellenbosch-druiwe aan, en dit sorg vir 'n baie interessante geurprofiel en versnit.”

 

Die aanloop tot vanjaar se oes was uitdagend. “Dit was 'n intense oesjaar vir Eikendal!” sê die wynmaker, Nico Grobler. “Sterk winde en onstuimige weer in die maande voor die oes het daartoe gelei dat die tonnemaat van die druiwe baie afgeneem het in vergelyking met vorige jare. Terwyl 2009 geprys word as een van die beste oesjare die afgelope tyd, wil dit blyk asof 2010 alle verdere verwagtinge gaan oortref met besonderse druif- en wynkwaliteit. In die kelder is dit nie net die sauvignon blanc wat goed vertoon nie, al die witwyne is volrond en ryk gegeur met skitterende elegansie en finesse wat die wyne laat blink.”

 

Nico is veral baie opgewonde oor die sauvignon-oes en hy reken dat hierdie van die beste druiwe is waarmee hy nóg gewerk het. Die druiwe is in twee fases geoes: die druiwe van die eerste fase is gepluk om die varsheid en liniêre profiel van die druiwe te behou, terwyl die druiwe van die tweede fase ryper was wat die wyn lyf gee. Dertig persent van die wyn is in ouer Franse vate gegis en verouder, wat die wyn 'n aangename diep en ronde gevoel in die mond gee. Hierdie wyn het alles waarvoor Nico soek in 'n sauvignon blanc. Die “neus” het sagte geure van wit blomme met appelliefie, ryp vye en vars aspersie. Verder gee die kalksteeninhoud van die grond subtiele mineraal-ondertone in die mond wat die diepte en langlewendheid van die wyn komplementeer. Die vol, blywende smaak hou aan lank na die laaste druppel gesluk is.

 

Die vrystelling van hierdie wyn val ook gepas saam met die forelseisoen wat in volle swang is. Eikendal kan nou met oorgawe mense nooi om self hulle slag te kom wys met vlieghengel of by die restaurant te kom aansit vir ’n eksotiese smaakervaring. Een van die geliefkoosde disse om met sauvignon blanc te geniet, is ‘n rooibosteegerookte forel bedien met 'n bokmelkkaasgroenslaai. Eikendal se  restaurateur sal ook graag enige vis wat in een van die damme gevang word voorberei – ’n varser gereg sal mens moeilik êrens anders kry.

 

Die Eikendal Sauvignon Blanc 2010 kos sowat R60 en is beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante. Kontak Eikendal by (+27) 21 855 1422 vir enige navrae of plaas bestellings by orders@eikendal.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram