Eikendal se nuwe wynmaker wys haar staal met elegante rosé

Eikendal lui ’n nuwe era in met die amptelike aanstelling van Maryke Botha as wynmaker. Sy was tot onlangs Nico Grobler, die keldermeester, se assistent. Nico vertrek ná 11 jaar om sy eie wynprojek te ontwikkel.

Maryke span die kroon op haar bevordering met ’n goue medalje vir die Eikendal Rosé 2020, die eerste wyn wat sy bekend stel. Die toekenning is op die onlangse Gilbert & Gaillard International Challenge aangekondig.

“Ons is beïndruk met haar persoonlikheid en vaardighede in sowel die wingerd as die kelder,” sê Chris Saager, wie se Switserse familie die landgoed sedert 1981 besit, “dis ’n ware getuigskrif vir Nico se uitstekende mentorskap.”

Maryke (regs) het nes haar voorganger haar loopbaan in 2016 as wynmaak-intern by Eikendal begin. Sy is oorspronklik van Gauteng, maar ’n skuif Kaap toe het haar belangstelling in wyn vlerke gegee en sy het ’n wynmaakgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, cum laude nogal!

Onder Nico se voogdyskap was haar talente gou duidelik en sy het haar vaardighede verder geslyp met oeste by Domaine Lorenzon in Boergondië en DuMOL in die Russian River Valley AVA in Kalifornië.

Vanjaar se oes was die eerste wat sy as Eikendal se wynmaker voltooi het. Al 2020 se witwyne is onder haar leierskap gemaak. Sy het ook die verantwoordelikhede vir Eikendal se 2019-rooiwyne en die vorige jaar se Eikendal Classique Bordeaux-versnit gedeel.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die wyn,” sê sy oor die Eikendal Rosé 2020. “Dit het die mooiste kleur en ’n ongelooflike geurprofiel – ’n kombinasie van rooibessies, spookasem en rooswater – met ’n sagte, lewendige, vars en verfrissende suur.”

Die grootste gedeelte van die versnit bestaan uit merlot, wat van die hoogste wingerd op die landgoed kom, en dié kultivar se karakter word verder geslyp met skeutjies grenache, cinsault en mourvèdre. Dis ’n goeie, eerste ambassadeur vir Maryke se talente en insigte, maar ook ’n trotse nuwe toevoeging tot die bekroonde Eikendal-portefeulje.

Maryke is gelukkig met vanjaar se oes en sê die gehalte is uitstekend. Gematigde temperature aan die begin van die somer het ideale stadige en eweredige rypwording tot gevolg gehad.

Die Eikendal Rosé 2020 kos R125 en is by die kelder en ’n paar uitgesoekte restaurante beskikbaar. Dit kan ook aanlyn – saam met ander wyne in die portefeulje – bestel word en in Suid-Afrika afgelewer word.

Vir meer inligting, kontak Eikendal op 021 855 1422 of stuur ’n epos aan orders@eikendal.co.za vir bestellings.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>