Eerste protégé van die Kaapse Wynmakersgilde voltooi sy internskap

Date posted:
December 1, 2009

Howard Booysen, die eerste vooruitstrewende wynmaker wat gekies is om deel te neem aan die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program het pas sy driejaar-internskap voltooi waartydens hy sy kennis en vaardighede van die wynbedryf geslyp het onder toesig van die land se beste wynmakers.

 

“My internskap het tot ‘n einde gekom, maar my soektog om my eie styl te vind deur gebruik te maak van inligting vanaf raadgewers, voorgangers en ander wynmakers sal steeds voort duur. Dit was ‘n onvergeetlike ervaring waarvoor ek baie dankbaar is,” vertel Howard wat op die drumpel staan van ‘n loopbaan in die wynbedryf.

 

Danksy die Protégé-program, befonds deur die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-Ontwikkelingstrust, is Howard die geleentheid gegun om by van die land se voorloperwynmakers kers op te steek, insluitende Charl Schultz van Hartenberg, Bruce Jack van Flagstone, Pieter Ferreira van Graham Beck en Gary Jordan van Jordan. Howard se onlangse besoek aan die VSA tydens sy internskap by Flagstone het ook gesorg vir die geleentheid om wynmakers by Ravenswood in die Napa-vallei by te staan, sowel as om die Sonoma-vallei in Kalifornië van naderby te ontdek.

 

Howard het sy internskap afgesluit onder die wakende oog van Pieter Ferreira, wynmaker by Graham Beck. “Howard is met die loop van tyd onder leiding van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program aan verskillende aspekte blootgestel. Hy dien as ‘n rolmodel en ons kan trots wees op hom,” deel Pieter mee. Howard was die eerste kandidaat om deel te neem aan die program nadat hy in 2006 sy studies by die Elsenburg Landboukollege voltooi het.

 

Praisy Dlamini, die Gilde se eerste vroue-protégé, is tans besig om die tweede fase van haar internskapprogram af te sluit as assistent-wynmaker onder leiding van David Finlayson by Edgebaston by Stellenbosch. Praisy begin haar laaste jaar as protégé in 2010 saam met Pieter Ferreira van Graham Beck, terwyl twee nuwe protégés in 2010 by die program sal aansluit.

 

Die gilde bied ook jaarliks twee beurse aan studente wat hul finale jaar óf by die Elsenburg Landboukollege of die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Die eerste twee beurse is reeds in 2009 toegeken, terwyl twee nuwe studente van die Elsenburg Landboukollege in 2010 beurse sal ontvang.

 

Die Protégé-program is in 2006 begin om transformasie in die wynbedryf aan te moedig deur wynmakers van voorheen benadeelde groepe by te staan met hulle ontwikkeling om sodoende hul eie puik wyne te maak. Die doel is om jong wynmakers van mentors te voorsien sodat hulle hul voete kan vind in die wynbedryf waar kompetitisie straf is.

 

Slegs derde- en vierdejaarstudente wat Wingerdboukunde en Enologie aan die Universiteit van Stellenbosch of die Elsenburg Landboukollege studeer, kan aansoek doen vir die program. Tydens die internskap is lede van die gilde verantwoordelik vir die mentorskap van die protégé vir ? minimum-tydperk van ses maande. Hulle is toegewyd om die nodige vaardighede en ervaring aan die protégés oor te dra.

 

Behalwe vir die ondersteuning wat aan tersiêre onderrig verleen word deur middel van finansies en internskappe, steun die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-Ontwikkelingstrust ook 20 leerlinge van Landbouskool Boland in die Paarl tydens hul hoërskoolloopbaan, sowel as twee leerlinge by Bloemhof Meisiesskool in Stellenbosch.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram