Hoe kan een soort wyn verskillende smake hê? Hulle word dan almal van dieselfde druiwe gemaak! Dan moet hulle mos dieselfde smaak! Bier en koeldrank smaak dan dieselfde, jaar in en jaar uit! Wat maak wyn dan nou kamstig anders?
Ja, dit was ook maar my siening so tien jaar gelede voordat ek my op die ongelooflike wynreis begeef het, en vandag nog hoor ek hoe mense smalend verwys na die sogenaamde wynsnobs wat verskillende aromas en geure op wyne van dieselfde druifsoort ervaar. Maar nie almal wat daai verskillende aromas en geure ervaar, geniet en waardeer, is wynsnobs nie.
C. Louis Leipoldt het ‘n oompie dood gehad aan snobs, veral wynsnobs, en ek verstaan vandag hoekom. Wynsnobs is eintlik niks anders nie as mense wat hul persoonlikheidsdefekte agter hul sogenaamde “groter wynkennis” wegsteek. Soos Kobus Basson van Kleine Zalze dit eendag gestel het: “Wyn gaan oor eenvoud. Dit gaan oor genot. En dit is uiters subjektief.”
Oorlede Ronnie Melck, ‘n groot gees in die wynwêreld, het baie jare gelede aan ‘n onkundige SAUK-joernalis gesê: “Die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou!” Dit was 35 jaar gelede baie waar toe hy daai stelling kwyt geraak het. Dit is vandag nog net so waar en sal môre, oormôre en al die dae daarna net so waar bly.
Kennis is egter mag, en elke bietjie kennis wat mens van wyn opdoen, maak die wynwervaring net soveel beter en lekkerder. Moet dus nooit ophou vrae vra en nooit ophou leer nie. En onthou, daar bestaan nie iets soos ‘n dom vraag nie, net dom mense wat nooit vra nie.
Maar ek dwaal af. Wat wyn anders maak as bier en koeldrank, byvoorbeeld, is dinamika. Waar die ander twee drankies enkeldimensioneel is en jaar na jaar dieselfde smaak (vervelig, met ander woorde!), is wyn multi-dimensioneel en dinamies (opwindend!). Wyn se karakter verander met elke oesjaar, en dit gaan alles oor terroir. Wel, hoofsaaklik oor terroir. O ja, vir diegene wat nie weet nie, terroir is die Franse woord wat, in ‘n neutedop, grondsoort, ligging en klimaat saamvat. En dan is daar natuurlik ook nog dinge soos klone en hout.
Onthou, daar is net een perfekte wynmaker, en Hy gee die res op aarde elke jaar iets anders om mee te werk. ‘n Bietjie minder reën, ‘n bietjie meer wind, ‘n bietjie minder sonskyn, ‘n bietjie meer koue. Dis dus feitlik onmoontlik om jaar na jaar dieselfde aromas en geure in ‘n enkelkultivarwyn soos byvoorbeeld pinotage of sauvignon blanc te kry.
Om te illustreer hoe wyne van dieselfde druifsoort binne ‘n spesifieke area van mekaar kan verskil, om nie eers te praat van uit verskillende streke nie, het ons ‘n paar wynstreke genader om te help. Uit die Stellenbosch-streek het ons 6 pinotage’s gekry, terwyl die Weskus-wynroete ons ses sauvignon blancs gestuur het. Saam met die wyne het hul onderskeie wynmakers hul proenotas gestuur.
Die volgende wyne is ontvang:
Jacobsdal Pinotage 2008
Clos Malverne Reserve Pinotage 2009
Koelenbosch Pinotage 2009
Neethlingshof Pinotage 2007
Lanzerac Pionier Pinotage 2008
Neil Ellis Pinotage 2009
Namaqua Sauvignon Blanc 2011
Malkopbaai Sauvignon Blanc 2011
Sir Lambert Sauvignon Blanc 2010
Fryer’s Cove Bamboes Bay Sauvignon Blanc 2010
Fryer’s Cove Bay tot Bay Sauvignon Blanc 2010
Lutzville Sauvignon Blanc 2010
Kom ons kyk eers na Suid-Afrika se eie trots, pinotage.
Die menere, van links na regs, is Neil Ellis Pinotage 2009, Jacobsdal Pinotage 2008, Koelenbosch Pinotage 2009, Clos Malverne Reserve Pinotage 2009, Neethlingshof Pinotage 2007 en Lanzerac Pionier Pinotage 2008.
Die Jacobsdal Pinotage word as volg beskryf: ‘n Boeket vol bessievrugte, pruime en kersies met ‘n sweempie spesery in die agtergrond. In die mond kom intense bessievruggeure na vore en subtiele eikespesery.
Clos Malverne se Reserve Pinotage: Die wyn toon ‘n ryp bessiekarakter wat deur vanielje- en speserygeure gekomplementeer word.
Koelenbosch s’n lees soos volg: Aromas van ryp framboos en ‘n titsel spesery in die neus, met ryk kersiegeure in die mond wat met geure van wit peper eindig.
Neethlingshof Pinotage: Die boeket is vrugtig met heelwat aromas van ryp piesang en kaneel, met sweempies pruim en pruimedant. Op die tong is daar ‘n oorvloed bessiegeure.
Lanzerac se Pionier Pinotage: Die kultivar se tipiese aromas van ryp, rooi vrugte kom in die neus voor, terwyl ‘n groot en komplekse mondgevoel met aardse ondertone volg. Vyf tot 10 jaar se veroudering in die bottel sal die wyn weelderige sjokolade- en karamel-geure gee.
Neil Ellis Pinotage: Aromatiese soet vrugte met speseryagtigheid, en sederagtige ondertone in die mond.
Sauvignon blanc bly een van Suid-Afrika se wit gunstelinge.
En in die wit hoek, kloksgewys beginnende links onder, is Fryer's Cove Bay to Bay Sauvignon Blanc 2010, Lutzville Sauvignon Blanc 2010, Namaqua Sauvignon Blanc 2011, Fryer's Cove Bamboes Bay Sauvignon Blanc 2010, Malkopbaai Sauvignon Blanc 2011 en Sir Lambert Sauvignon Blanc 2010.
Namaqua se proenotas lees: Tropiese geure word gebalanseer deur groen ondertone. Geure van groenbone tot aspersie, en selfs sekondêre “dusty”-aromas kom ook na vore.
Malkopbaai se Sauvignon Blanc: Vuursteenagtig aanvanklik met vars tropiese vrugte en ‘n sweempie aspersie. Die mond word gevul met eksotiese vrugte.
Sir Lambert se proenotas: Aanvanklik vuursteenagtig met vars, groen aspersie en ‘n sweempie appelliefie. ‘n Mondvol eksotiese vrugte.
Fryer’s Cove se Bamboes Bay: Aromas van appelliefie, lietsjie en groenertjies met ‘n bietjie mineraalagtigheid. Geure van soet groenertjies, lietsjie en groen vy.
Fryer’s Cove se Bay to Bay: Grenadella, lietsjie, koejawel en groen vy in die neus, en geure van grenadella en minerale in die mond.
Lutzville se Sauvignon Blanc: ‘n Wyn met aardse, vuursteenagtige en grasagtige geure met sweempies aspersie.
Ek hoop bogenoemde help ‘n bietjie om die dinamika van wyn te verduidelik, asook wyn se multi-dimensionele karakter, en ek hoop dat dit genoeg is om almal nuuskierig te maak om op die wonderlike reis van wyn te gaan en sommer baie meer van hierdie wonderlike produk van die wingerdstok te leer.
Net so terloops, gegewe die regte omstandighede, kan ‘n wynmaker twee heeltemal verskillende pinotage- of sauvignon blanc-wyne uit die druiwe van dieselfde wingerd maak!
Volgende keer kyk ons na chenin blanc uit die Worcester-wynstreek en merlot uit die Durbanville-wynvallei.
Onthou asseblief om te alle tye wyn verantwoordelik te geniet!
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast