Net wit? Aikôna! Oorspronklik bekend as ‘n uitsoekplek vir uitsonderlike witwyne vanweë sy koeler klimaat, het die Durbanville-wynvallei nou weer eens bewys dat dit van die land se top wynstreke is ten opsigte van druifsoort sowel as wynstyl deur ‘n uitmuntende vertoning te lewer by die onlangse internasionale Michelangelo-wyntoekennings.
Nie slegs het die Sue van Wyk Pinotage-trofee – toegeken aan die Diemersdal Pinotage Reseve 2010 – vir die tweede agtereenvolgende jaar sy pad teruggevind na die Durbanville-wynvallei nie, maar het dié klein wynroete ook ‘n indrukwekkende aantal dubbelgoue, goue en silwer medaljes versamel.
Omdat 10 uit ‘n totaal van 16 goue medaljes aan rooiwyne toegeken is, het hierdie wynvallei se wynmakers verdere bewyse gelewer van hul bekwaamheid met veral die maak van rooiwyn.
Die Diemersdal Pinotage Reserve 2010 het boonop een van die twee gesogte Grand D’Ors (dubbele goue medaljes) verower wat deur ‘n Wyn van Oorsprong Durbanville ingepalm is. Die wynlandgoed het ook goud gewen vir sy Diemersdal Shiraz 2009, sowel as sewe silwer medaljes. Die landgoed se Sauvignon.com Sauvignon Blanc 2010 en Sauvignon.com Cabernet Sauvignon 2010 het ook goue medaljes gewen.
Nog ‘n top presteerder uit die vallei vir beide wit- en rooiwyne, is Altydgedacht, wat ‘n Michelangelo Grand D’Or vir sy 2011- Sauvignon Blanc – die vallei se uithaler- wit druifsoort – ontvang het. Dié familieplaas het ook drie goue toekennings ontvang vir sy Tygerberg Chatelaine 2011, Barbera 2010 en Gewürztraminer 2011, sowel as ‘n silwer medalje.
Durbanville Hills het drie goue en drie silwer medaljes ingepalm, ‘n aanduiding van dié kelder se vermoë om uitsonderlike wyne oor ‘n breë spektrum van druifsoorte te lewer. Goud is toegeken aan sy Rhinofields Merlot 2008, Caapmans Cabernet Sauvignon/Merlot 2008 en Durbanville Hills Sauvignon Blanc 2011.
Bloemendal het twee goue medaljes ontvang vir sy Malbec 2010 en Shiraz 2003 onderskeidelik. Maastricht het goud verower met sy Pinotage 2010 en Cabernet Sauvignon 2010. Klein Roosboom het goud ontvang vir sy Sauvignon Blanc 2010, Hillcrest vir sy Hillcrest Quarry 2008 (‘n merlot) en Nitida vir sy Nitida Coronata Integration 2010 (‘n sauvignon blanc/sémillon-versnit).
“Dié uitmuntende vertoning by Michelangelo is weer eens ‘n aanduiding van die Durbanville-wynwyk se status as heelwaarskynlik die land se top terroir vir gehaltewyne,” sê Righard Theron, voorsitter van die Durbanville-Wynvallei-Assosiasie. “’n Verdere pluimpie vir ons was die toekenning vroeër vanjaar van die Novare Trofee vir die SA Terroir Top Wynarea.”
Die internasionale Michelangelo-wyntoekennings is in 1997 gestig. Dit word volgens die reëls van die Franse Office International de la Vigne et du Vin in Parys georganiseer, met proepanele bestaande uit 15 internasionale wynkenners afkomstig van 15 lande. Volledige uitslae is beskikbaar by www.michelangeloawards.com.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast