Durbanville-wynvallei lig die kurk op nuwe wyne

Date posted:
February 3, 2012

’n Halfdosyn kelders in die Durbanville-wynvallei het pas tien nuwe wyne bekend gestel wat wynliefhebbers sal laat regop sit, onder meer die wynstreek se eerste chenin blanc – Anna de Koning van Phizantekraal.

De Grendel, D’Aria, Diemersdal, Phizante Kraal, Bloemendal en Altydgedacht is deel van ’n groep wynmakerye wat die besonderse terroir van die Durbanville-omgewing deel - ’n streek wat aangewys is as 2011 se SA Terroir Top Wynarea.   Daardie faset van die terroir wat die elf lede saamsmee, is die maritieme klimaat waar seisoenale mis vanaf die kus en koel briesies vanuit die suidooste potensieel hoë somerstemperature gematig hou. Die verlengde rypwordperiode sorg dan vir elegante wyne wat getrou is aan hul variëteite.

Die nuwe wyne is:

Phizante Kraal het pas die vallei se eerste chenin blanc, die Anna de Koning, bekend gestel teen ‘n kelderprys van R79. Die Anna de Koning Chenin Blanc 2011 spog met gekonsentreerde, maar elegante vrugte-, sitrus- en heuningrige amandelgeure. Dit is vir nege maande in Franse eikehoutvaatjies verouder en drie weke voor bottellering versny.

Die wyn is heel gepas vernoem na die dogter van ‘n slavin in die huishouding van Jan van Riebeeck wat die oog gevang het van die vername VOC-amptenaar, Olof Bergh.  Nadat hulle in 1676 in die eg verbind is, het hulle saam op Phizante Kraal geboer tot sy dood in 1724.  

D’Aria het die tweede oesjare van twee van hul rooiwyne bekend gestel - wyne wat die verbruiker se tong én sak sal pas. Wees op die uitkyk vir dié nuwe kelder op die 300-jaar oue plaas se 2009-bekendstellings van hul Shiraz/Viognier- en Cabernet Sauvignon/Merlot-versnitte vir minder as R70 ’n bottel. Hoewel die Shiraz/Viognier hoofsaaklik in Franse eikevate verouder is, voeg die kort rukkie in Amerikaanse eikevate ‘n genotlike karakter van witpeper en vanielje by. Die Terra D’Aria 1698 D’Urbanville Cabernet-Merlot 2009 is ’n Bordeaux-versnit met ryk donker pruim en elegante tanniene.

Diemersdal, waar ses generasies van Louws sedert 1885 van die land se voorste wyne maak, se Grenache 2010 is ’n medium wyn met komplekse geure van pruime en kersies, en ’n sweempie rokerige speserye. Die druiwe vir hierdie wyn is met die hand gepluk op optimale rypheid en die wyn is vir 13 maande in Franse eikehoutvaatjies van 225? verouder.

Altydgedacht is sedert die middel 1800’s in die Parker-familie se besit en die huidige wingerd- en wynkundespan benut steeds die terroir om uitmuntende wyne te maak. Hul Semillon Noble Late Harvest 2011 is nou op die rakke. Die neus van dié dessertwyn word gekenmerk deur geure van gedroogte appelkose, heuning en ‘n tikkie speserye. Op die tong talm ryk, fluweelagtige soet smake met genoegsame asiditeit om struktuur te verskaf. 

 

Die besonder warm weersomstandighede van die afgelope jaar, gebalanseer deur aanvullende besproeiing en die nabyheid aan die see, het veroorsaak dat De Grendel se wyne van die 2011-oesjaar met intense vrugtegeure spog. Die nuweling op die mark, die Viognier 2011, pronk met  heerlike appelkoos-, gedroogde perske- en pynappelgeure, en die vatverouderde helfte van die wyn verseker ’n botteragtigheid wat met ’n vars, droë smaak eindig.  

 

Sauvignon.com, ’n ander handelsmerk van die Louw-familie van Diemersdal wat ten doel het om bewustheid rakende die bedreiging van die natuur te verhoog, se Cabernet Sauvignon 2010 is ook pas bekend gestel. Die neus van hierdie wyn is speseryagtig, met ’n rooikersie- en sjokolade-kompleksiteit. Die smaak herrinner aan swartbessies en speserye, terwyl die delikate tanniene ’n talmende einde meebring.

 

Bloemendal het in 2011 ’n Chardonnay, Natural Sweet en Cape Blend bekend gestel. Die Chardonnay wat teen R90 per bottel te koop is, het ’n sweempie Franse eikehoutgeure wat die intense vrugte-aromas versterk en bied sitrus- en peergeure met botterkaramel wat op die tong talm.

Die Bloemendal Natural Sweet (R120 per 375 ml bottel) toon die veelsydigheid van Durbanville se spesialiteitskultivar, sauvignon blanc. Die druiwe is later gepars wat meer geur en verouderingspotensiaal meebring. Die wyn verras met geure van perskes, appelkose en sitrus in die neus en die smaak herrinner aan kanferfoelie.

Die Bloemendal Cape Blend begin as diep rooi fluweel met aardse ondertone en eindig met volronde moerbeigeure. ’n Delikate versnit van pinotage, malbec en shiraz verskaf aan die wyn sy tipiese Kaapse Versnit-karakter. Die wyn kos R45 per bottel.

Vir meer inligting oor die Durbanville-wynvallei, besoek www.durbanvillewine.co.za

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram