Durbanville-wynvallei bied meer as net puik wyn

Date posted:
August 3, 2011

Net buite Kaapstad, maar steeds deel van die Kaapse Skiereiland, lê een van die Kaap se mooiste wyngebiede waar mens nie net puik wyn kan geniet nie, maar waar ‘n verskeidenheid eetplekke ook jou ander behoeftes kan bevredig. En hier’s lekker verblyf ook. En baie dinge om te doen. En alles is skaars 20 minute se ry van die Moederstad af.

Die Durbanville-wynvallei is nie groot nie en beskik oor net ‘n handvol wynprodusente, van klein boetiekwynmakers tot reuse-wynkelders, maar met bekende name soos De Grendel, Durbanville Hills, Nitida en Diemersdal is dit beslis ook een van die bekendste wynareas.

Dis ‘n vallei wat veral vir sy sauvignon blanc- en merlot-wyne bekend geword het, maar moet vir geen oomblik glo dis al wyn wat hulle maak wat toekennings kan wen en smaakkliere kan bedwelm nie.

Omdat ek lanklaas in daai vallei gaan kuier het, het ek en vroulief besluit om eendag ‘n paar wynprodusente te gaan besoek en sommer by een vir middagete te stop. ‘n Mens moet egter nie suinig wees met die lewe se veelvuldige, genotvolle aanbiedinge nie, en toe vra ons goeie vriende om die dag en al sy juwele saam met ons te geniet. Alan en Anna-Marie Botes is eintlik witwyndrinkers, maar ek het gehoop dat ek hulle die dag aan sommige van die Durbanville-wynvallei se heerlike rooies kan bekend stel.

Ons wiele vir die dag was Honda se Jazz Hybrid met sy soomlose CVT-ratkas wat nuwe betekenis aan die begrip “rygerief” gee. Maar dit was nie alles maanskyn en rose nie! Lees die volledige ry-indrukke by http://www.planeetwyn.co.za/node/2478.

Links: Alan, Sharon en Anna-Marie wag in spanning dat Kate Jackson (staande) met die sjokolade- en wynproe begin. Lekker was nog nooit sleg nie!

Ons het ons besoek by Durbanville Hills (021-558-1300 / info@durbanvillehills.co.za) met sy asemrowende uitsigte op Kaapstad, Tafelberg en Tafelbaai begin. Hier het Kate Jackson, handelsmerkbestuurder, ons ingewag met ‘n wyn- en sjokoladeproe wat ons nog lank sal onthou. Terloops, Durbanville Hills bied ook ‘n wyn- en biltongproe aan.

Ons het vyf wyne met vyf verskillende sjokolades geproe, van ‘n Durbanville Hills Cabernet Sauvignon en Equador 72% Grand Cru-sjokolade deur ‘n Bastion (‘n versnit van cabernet sauvignon en shiraz) en Venezuela 49% Grand Cru-sjokolade tot ‘n Rhinofields Chardonnay en White Lemon Verbena-versoeking. Durbanville Hills het drie wynreekse, die Hills, die Rhinofields Reserve en die Single Vineyard.

Durbanville Hills, wat ook sy eie eetplek het, @ the Hills Restaurant, se ledeplase is almal in die skaars renosterveld geleë en meer as 230 hektaar is reeds geïdentifiseer vir bewaring. Dit sluit uiteraard die uitwis van indringerplante in.

Ons volgende afspraak het gewag en ons het onsself met moeite los geskeur van Durbanville Hills se lekker wyne en sjokolade en die paar kilometer na Hillcrest (021-976-1110 / cellardoor@hillcrestfarm.co.za) aangepak.

Hillcrest is ‘n boetiek-wyn- en olyfplaas met net sulke skouspelagtige uitsigte op Tafelberg en Tafelbaai as Durbanville Hills, terwyl die Hillcrest Restaurant Tuskaanse en Mediterreense disse met ‘n Suid-Afrikaanse kinkel bied. Hier’s ook ‘n lekker bergfietsroete wat wonderlik deur ontbyt in die restaurant afgerond sal word!

Graeme Read, Hillcrest se wynmaker, het ons te woord gestaan en ‘n paar wyne uit die plaas se wynreeks laat proe terwyl hy elkeen se geskiedenis vir ons uitgelê het. Drie sauvignon blancs, van die 2007-, 2009- en 2010-oesjare, het vir my weer eens gewys hoe lank ‘n witwyn kan verouder in die bottel as dit deeglik gemaak is. Die twee wyne uit die Metamorphic-reeks, Quarry en Hornfels, het die proe afgesluit. Albei is versnitte. Die Quarry bestaan uit merlot en cabernet franc, terwyl die Hornfels ‘n tipiese Bordeaux-versnit is en uit al vyf kultivars bestaan, naamlik cabernet sauvignon, merlot, cabernet franc, malbec en petit verdot. Graeme het my die 2008- en 2009-oesjare van albei laat proe om die verskillende geurprofiele te ervaar.

Dit was tyd vir middagete, maar ons moes darem nog een wynproe inpas. Ons het die paar kilometer Nitida toe baie rustig afgelê terwyl Alan en Anna-Marie vertel het hoe baie hulle die witwyne tot in daardie stadium geniet het, maar dit was duidelik ek was besig om die stryd vir rooiwyn te verloor. Maar dit wys jou weer hoe smaak verskil! En hoe subjektief wyn is!

Jacus Marais het ons in Nitida (021-976-1467 / info@nitida.co.za) se lekker informele proelokaal ingewag. Nitida is die kleinste van die plase in die Durbanville-wynvallei en het slegs sowat 16 hektaar onder wingerd. Die plaas ontneem sy naam van die inheemse protea nitida.

Toe Bernhard en Peta Veller die plaas in 1990 gekoop het, het hulle seker nie geweet hoe suksesvol hierdie nuwe onderneming van hulle sou word nie. Bernard is ‘n chemiese ingenieur van beroep en Peta was in die advertensiewese.

In 2001 is hulle semillon aangewys as die maatstaf vir wyn van hierdie druifsoort en 8 jaar later is Nitida as die top produsent aangewys op die internasionale Michelangelo-wyntoekennings! Hulle het ook al ‘n dubbelgoue medalje los geslaan vir hul sauvignon blanc-wyn.

Ek het sewe wyne getel wat ons geproe het. Oukei, ek het sewe wyne geproe. Allan en Anna-Marie het vasgesteek by die wittes. Ek moet sê, dis nie maklik om ‘n gunsteling te kies uit ‘n klomp wyne wat omtrent ewe lekker is nie, maar Nitida se Coronation, ‘n versnit van sauvignon blanc en semillon, het onmiddellik die aandag van my tong gevang. Onder die rooies het veral hul Bordeaux-versnit, Calligraphy, ‘n ou gunsteling van my, weer eens ‘n glimlag op my gesig gesit.

Regs: My "toergroepie" geniet die wintersonnetjie onder die sambreel op die patio by Tables. Lekker kos, lekker wyn en lekker geselskap!

Ons sou middagete op Nitida geniet en ons het sommer afgestap na Tables @ Nitida (021-975-9357). Omring deur hoë bome en met ‘n lowergroen grasperk aan die een kant en wingerd aan die ander, asook ‘n kinderspeelpark op die grasperk, lyk Tables beslis na dié eetplek vir gesinne. Gelukkig was dit die middel van die week en was kinders afwesig. Jip, ek en gesinsrestaurante is nou nie juis die grootste pêlle nie!

Ons het buite onder ‘n groot sonsambreel gaan sit en elkeen iets ligs bestel. Ons middagete is vergesel van Nitida se Coronation. Behalwe dat die kos baie goed was, bied Tables @ Nitida ‘n heerlike en ontspanne atmosfeer so in die middel van die week en reken ek dat ons twee, dis nou ek en vroulief, meer gereeld daar sal stop.

Daar het nog een besoek op ons gewag voordat ons huiswaarts kon keer en ons is na ‘n lekker kuiertjie op Tables se stoep vort na D’Aria (021-801-6772/ 021-979-3650), weer eens net so ‘n paar kilometer verder.

D’Aria bestaan eintlik uit twee plase, naamlik Doordekraal en Springfield. Laasgenoemde dateer uit 1698. Al die wingerde lê teen hellings in die vallei en skaars 10 km van die see af. Die nuwe, moderne kelder het sy eerste wyn in 2008 die lig laat sien hoewel die eerste wyn wat van die plase se druiwe gemaak is reeds drie jaar tevore bekend gestel is. Dit was die D’Aria Sauvignon Blanc 2005.

Links: Nicola Viljoen en 'n kelder-assistent besig om ons uit die vat te laat proe in D'Aria se kelder, die perfete manier om 'n perfekte dag af te rond!

Toekennings is ook nie juis ‘n vreemde verskynsel vir D’Aria se wyne nie, maar ons wou vir ‘n slag jong wyne uit die vate in die kelder proe. Die assistent-wynmaker, Nicola Viljoen, was gaaf genoeg om ons op ‘n toer deur die kelder te vat en sowel wit- as rooiwyne uit die vat te laat proe. Daar is sauvignon blanc en viognier geproe aan die wit kant, asook merlot en shiraz van ou bosstokke.

Nou-ja, alle goeie dinge kom tot ‘n einde en ons vier het toe maar terug geklim in die Honda Jazz Hybrid en die pad huistoe gevat. Alan en Anna-Marie kon nie uitgepraat raak oor die lekker witwyn wat hulle heeldag geproe het (‘n paar voorbeelde daarvan was in die Honda se klein bagasieruim!) en die pragtige natuurskoon van die Durbanville –wynvallei nie, maar ek het ongelukkig nie in my doel geslaag om ons vriende tot rooiwyn te bekeer nie. Wel, niks wat die moeite werd is, is mos maklik nie. Ek sal maar volhard!

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram