Die feit dat Durbanville Hills se wyne deur die landskap gevorm word, is pas weer beklemtoon toe die wynmakery in twee kategorieë op die Suid-Afrikaanse Terroir Wyntoekennings as nasionale wenner uit die stryd getree het. Durbanville Hills se Biesjes Craal Sauvignon Blanc 2009 en Merlot Rosé 2011 was die algehele wenners in onderskeidelik die Sauvignon Blanc- en Rosé-kategorieë.
Durbanville Hills se keldermeester, Martin Moore, is verheug oor die uitslae, veral oor die beoordelaars se reaksie op die Merlot Rosé wat maar onlangs bekend gestel is.
“Dis ’n eer om toekennings vir twee verskillende kultivars te ontvang wat die beste verteenwoordig uit Suid-Afrika se verskillende wynmakende areas. Ons is altyd verbaas oor die diversiteit van die heuwels rondom ons kelder, ons nabyheid aan sowel die Indiese as Atlantiese Oseane en die warrelende mis wat op ligte seebriesies oor die land beweeg. Hierdie unieke terroir stel ons in staat om buitengewone wyne regoor die reeks kultivars te maak.”
Die enkelwingerd- Durbanville Hills Biesjes Craal Sauvignon Blanc 2009 is natuurlik geen vreemdeling vir toekennings nie. Dit het verlede jaar ’n goue medalje los geslaan op die internasionale Michelangelo-wyntoekennings, asook by Veritas, en is as een van die tydskrif WINE se top tien sauvignon blancs vir 2009 aangewys.
Twee jaar se veroudering het aan die wyn ’n kompleksiteit van vrugtegeure en ’n sagte tekstuur verleen. In die neus is daar ’n goed gebalanseerde kombinasie van vrugtige soetrissie, appelliefie, aspersie en aardsheid. Die wyn is fris en vars in die mond met tropiese vrugte wat deur soetrissie en ’n ligte grasagtigheid ondersteun word.
Durbanville Hills se Merlot Rosé 2011 is ’n ligte en droë wyn wat uitsluitlik van merlot-druiwe gemaak is. Dis baie kosvriendelik en stel geure van moerbeie en framboos vry met sagte roosblare in die neus en lei tot ’n droë smaak met vars somerbessies in die mond.
Die Durbanville Hills Biesjes Craal Sauvignon Blanc 2009 is by die Vinoteque by info@Vinoteque.co.za of by (021) 809-8280 beskikbaar, terwyl die Merlot Rosé 2011 by vooraanstaande wynhandelaars teen sowat R37 per bottel verkrygbaar is.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast