As jy na ’n wyn soek wat vrugtig, buitengewoon sag en ’n uitstekende metgesel vir ete is, probeer dan gerus die 2011- Du Toitskloof Pinotage.
Dié wyn met sy lewendige vrugtegeure bied aromas van ryp pruime, kersies, sjokolade en so ’n sweempie gedroogde piesang. Die agt maande wat dit in hout deurgebring het, het die sagte tanniene geskep wat tot die fluweelsagte mondgevoel bydra. Hierdie pinotage is ’n veelsydige wyn wat ewe goed pas by sappige biefstuk as by die geselskap met wie jy dit deel. Dit is gemaak om vroeg geniet te word, maar as jy die geduld het, kan jy dit tot drie jaar lank hou.
Die wyn bied ook uitstekende waarde vir geld. Volgens Shawn Thomson, Du Toitskloof se hoofwynmaker, strewe hy en sy span na volgehoue gehalte en geur jaar na jaar sodat mens vanjaar se wyn net so aanloklik soos vorige oesjare s’n sal vind.
Die Du Toitskloof Pinotage 2011 is by talle drankwinkels beskikbaar teen sowat R35 per bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast