Du Toitskloof se Chenin Blanc is aangewys as die beste bokswyn in die witwynkategorie op die derde jaarlikse Spit or Swallow Box Wine-toekennings wat op 29 November by Mercury Live in Kaapstad gehou is. Die kelder se Pinotage Merlot Ruby Cabernet het in 2010 die titel as die beste rooiwyn in ’n boks los geslaan.
Die paneel beoordelaars, wat soos Freddy Mercury-ewebeelde gelyk het, het van alledaagse wyndrinkers tot wynkenners ingesluit. Hulle moes die beste wit- en rooiwyne in ’n boks uit 33 inskrywings aanwys. Die beoordelingsproses het ’n “blinde” proe ingesluit waar deelnemers hul tellings uit tien ge-tweet het.
Die drieliter- Du Toitskloof Chenin Blanc het reeds ’n groot gunsteling onder wynliefhebbers geword omdat die geboksde wyn presies dieselfde is as dié in die 750ml-bottel. Hierdie medium wyn is goed gebalanseerd en het heerlike aromas van appel, peer, pynappel en tropiese vrugte. Dit het ’n aangename, fris einde.
Du Toitskloof-Wyne is geleë by die ingang tot die Du Toitskloofpas met sy skouspelagtige berge en natuurskoon en is bekend vir sy gehaltewyne teen bekostigbare pryse. Die kelder het die toekenning vir die kelder wat die beste waarde vir geld bied reeds vyf keer ingepalm, insluitende vanjaar. Die toekenning word jaarliks deur Ramsay Media se Best Value Wine Guide gedoen. Geen ander kelder het hierdie toekenning al meer as een keer ingepalm nie.
Du Toitskoof-kelder is in 1962 deur ses boere as ’n koöperatiewe wynkelder gestig en het onlangs sy 50ste verjaarsdag gevier.
Die drieliterboks Du Toitskloof Chenin Blanc is by alle vooraanstaande drankwinkels beskikbaar teen sowat R79, terwyl die 750ml-bottel sowat R32 kos.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast