Drostdy Hof wil wynloopbaan van ’n jong vrou in die snelbaan plaas

Drostdy Hof wil die loopbaan van ʼn belowende jong vrou in die wynbedryf in die snelbaan plaas. Hierdie gewilde wynhandelsmerk werk hierin saam met die Pinotage Youth Development Academy (PYDA) op Stellenbosch, ʼn onafhanklike organisasie wat voorheen benadeelde jong matrikulante voorberei vir werksgeleenthede in die wynbedryf, -toerisme en verwante sektore. Sy holistiese, jaarlange programme sluit in tegniese en indiensstudie, met ʼn sterk klem op persoonlike ontwikkeling.

Benewens die befondsing in 2019 van 50 studente vir die kern-wynkwalifikasie wat deur die Universiteit van Stellenbosch gefasiliteer word, sal Drostdy Hof ook, in oorleg met die akademie, ʼn begaafde jong vrou uit die groep vir verdere opleiding kies. Keuringsvereistes sluit in wyn-akademiese uitnemendheid, aanleg en interpersoonlike vaardighede.

Sy sal dan aan die einde van die kursus vir ʼn jaar as intern blootstelling aan die verskillende aspekte van die wynbedryf ondergaan, van produksie en beplanning tot bemarking en verkope. Gedurende hierdie tyd sal sy vier weke in Swede, ʼn sleutelmark vir Drostdy Hof, deurbring waar sy lede van dié land se kleinhandel en plaaslike wynliefhebbers sal ontmoet. Daarbenewens is die plan dat sy ʼn rol speel in die aanbieding van verskillende wynskoue vir verbruikers in Suid-Afrika. Sy mag selfs by die ontwikkeling van ʼn nuwe wyn vir Drostdy Hof betrokke wees.

Die gelukkige jong vrou sal haar internskap in 2020 deurbring by Drostdy Hof se moedermaatskappy, die Distell-groep, Suid-Afrika se grootste wynonderneming wat wêreldwyd sake doen.

Tamsyn Parkins, wat die program as deel van Drostdy Hof se meer omvattende sosiale en ekovolhoubaarheidsveldtog ontwikkel het, het gesê PYDA beskik oor ʼn uitstekende prestasierekord. “Ons glo hulle is vir ons die regte vennoot in ons doelwit om die loopbaan van ʼn begaafde en verdienstelike jong vrou te bevorder.”

PYDA, wat werk met studente tussen die ouderdomme van 18 en 25, het in 2012 tot stand gekom. Dit word gesteun deur ʼn verskeidenheid plaaslike en internasionale liefdadigheidstigtings en skenkers in die private sektor. Sy kursusse word opgestel in oorleg met die wyn- en toerismesektore om die doelmatigheid daarvan te verseker. Meer as 90% van die studente wat die kursus voltooi, vind werk binne ses maande.

As deel van hul wynopleiding moet studente Vlak 1-sertifisering van die internasionaal geakkrediteerde WSET (Wine and Spirit Education Trust) verkry. Die studente wat wynmaak die primêre fokus van hul jaarlange studie wil maak, kry die geleentheid om ook WSET se Vlak 2-kursus te voltooi.

Nikki Munro, PYDA se uitvoerende direkteur, sê sinvolle werk vir afgestudeerdes in aanvraag gedrewe bedrywe (demand-led industries) is “die fundamentele uitkoms van ons programme. Dit is waarom ons werklik opgewonde is om hierdie nagraadse loopbaangeleentheid vir die regte vrouestudent beskikbaar te stel. Dit is ʼn uitsonderlike geleentheid om verder te kan leer. Geoordeel aan die kaliber van ons afgestudeerdes – byna 200 tot op hede – verwag ons uitstekende standaarde en dit gaan uiters moeilik wees om die enkele beste kandidaat te identifiseer.”

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>