Drink en geniet: Rooies wat ‘n glimlag van genot teweeg bring!

Fors, volronde wyne versus maklik drinkbare wyne. Dinkwyne versus drinkwyne. Ernstige wyne versus vriendelike wyne. Hoe jy hulle ook al beskryf, daar is ’n groot verskil tussen hierdie wynstyle.

Hierdie artikel, die tweede in ’n reeks oor “vriendelike” rooiwyne, gaan oor daardie wyne wat mens elke dag kan geniet, op hul eie of saam met kos, nie volrond of swaar nie, eerder lig tot medium, gemaklik, toeganklik.

In die eerste artikel het ek reeds verwys na bevebilita, die Italiaanse woord wat “drinkbaarheid” beteken en vir my meer van toepassing is op wyne wat in ’n ligte tot medium styl gemaak word as fris, volronde keldertrotse.

Soos in die eerste artikel ken ek weer eens ’n bevebilita-punt toe aan die wyne. Dis ’n gemiddelde telling van twee eienskappe wat belangrik is vir drinkbaarheid, naamlik die drinkbaarheid self – wat neerkom op balans, varsheid en hoe maklik en genotvol die wyn drink – en die gemak waarmee die wyn met kos gekombineer kan word. Dis geensins ’n ideale stelsel nie en kan wissel van mens tot mens want wyn is baie persoonlik en subjektief.

My Bevebilita-Faktor (BF) is ’n telling tussen 0 – 10 en word bepaal deur die wyn se drinkbaarheid te tel by sy kosvriendelikheid. Wyne wat minder as 7½ punte verdien (suiwer omdat hulle buite die bevebilita-grens van “vriendelikheid” val) sal nie in die artikel verskyn nie, hoofsaaklik omdat hulle te fors en volrond is, m.a.w. te ernstig.

Goed, laat ons begin!

Die wyne vir hierdie tweede artikel kom vanaf Anthonij Rupert Wyne, Elgin Ridge, De Grendel, Vondeling, Newton Johnson, Van Loveren en Yonder Hill.

  • ANTHONIJ RUPERT WYNE

Van sy tuiste op die geskiedkundige L’Ormarins-landgoed in die Franschhoek-vallei onder die pieke van die Groot Drakensteinberge het Anthonij Rupert Wyne (ARW) sy net wyd gespan oor die lengte en breedte van die Kaapse wynlande op soek na dit wat die beste wyne skep in hierdie suidelike hoek van die wynwêreld. Die gevolg is dat ’n hele paar versigtig en noukeurig uitgesoekte plase intussen by L’Ormarins aangesluit het en deel van hierdie veelbekroonde wynhandelsmerk uitmaak.

Een van die vyf handelsmerke in die ARW-stal is Terra del Capo, ’n reeks wyne wat van Italiaanse kultivars gemaak word. Terra del Capo was eens op ’n tyd die visie en droom van die ontslape Anthonij Rupert wat intussen ’n werklikheid geword het danksy sy broer Johann. Anthonij se liefde vir Italië, die land se kos en wyn, was alom bekend.

Terra del Capo Sangiovese 2016 – BF 8,5

Die naam sangiovese is afgelei van die Latyns “sanguis jovis” wat “die bloed van Jupiter” beteken. Dit is die rooi kultivar wat die meeste met die sentraal Italiaanse streek van Toskane geassossieer word. Dit is veral bekend as die enigste komponent van die bekende Brunello di Montalcino en Rosso di Montalcino, en die vernaamste komponent van Chianti, Carmignano, Vino Nobile di Montepulciano en Morellino di Romagna. Dit word ook gebruik om die moderne “Super Tuscan”-wyne soos Tignanello te maak.

Maar terug na Terra del Capo. Die druiwe vir hierdie wyn kom uit die Darling-streek waar die toestande ideaal is vir hierdie kultivar. Hierdie Italiaanse “tenoor” (mens hoor ’n aria met elke sluk!) stel heerlike geure van ryp pruime, swart kersies, cassis en speserye in die neus vry wat deurgedra word na die mond. Die wyn is soepel en vertoon ’n pragtige balans tussen vrugte, suur en tanniene.

Kosmaats

Die wyn se ryp kersie-, soepel pruim- en speseryegeure sal tradisionele Italiaanse kos soos klassieke lasagne, stadig gesmoorde Osso Bucco of Pasta Napolitana soos ’n handskoen pas, maar hy sal ewe goed werk met ligter disse soos salami, olywe en piekels. Of geniet hom op sy eie.

Prys: R85

  • DE GRENDEL

De Grendel van de Tijgerberg is in 1720 toegeken aan die Deense setlaar, Claas Mayboom. In 1890 is dit deur die bekende Suid-Afrikaanse sakeman en politikus, Sir David De Villiers Graaff, aangeskaf. Sy kleinseun, ook Sir David De Villiers Graaff, het die eerste wingerd in 1999 op De Grendel aangeplant, byna 200 jaar nadat die laaste wingerdstokke vernietig is.

Sedertdien het De Grendel sinoniem geword met wyne van hoogstaande gehalte. Net so terloops, die naam beteken slot in Hollands.

De Grendel Merlot 2017 – BF 9,0

Merlot is die onbesonge held van Bordeaux. Dis die gevolg van ’n “huwelik” tussen cabernet franc en magdeleine noire des charentes, “a match made in heaven”!

Hierdie robynkleurige wyn bied uitlokkende aromas van soet pruime en framboos ondersteun deur sweempies mokka en kakao in die neus, en volg dit dan op met rooi-, braam- en bloubessiegeure in die mond met titsels anys, sederhout en droplekkers. Dis ’n buitengewoon elegante, vruggedrewe wyn met gebalanseerde tanniene en sweempies speserye.

Die wyn het die potensiaal om vir nog 5 – 8 jaar te verouder en sal met tyd meer satynagtig word namate die tanniene verder integreer en die vrugtegeure effe ryker word.

Kosmaats

Hierdie sappige rooiwyn kan op sy eie geniet word of saam met die meeste vleisgeregte, veral met oondgeroosterde lamsvleis bedien met soet, oondgeroosterde groente. Probeer dit ook gerus met pasta met ’n tamatiebasis of selfs oondgeroosterde eend.

Prys: R150

  • ELGIN RIDGE WINES

Elgin Ridge Wines is die tuiste van Elgin se enigste gesertifiseerde organiese en biodinamiese wynprodusent. Slegs klein hoeveelhede wyn word hier van gesertifiseerde organiese druiwe gemaak.

Maar daar’s ’n storie agter dié storie! Jare gelede, voordat Elgin Ridge selfs ’n vonkel in hul oë was, het die eienaars, Brian en Marion Smith, hul suksesvolle “IT”-onderneming verkoop en besluit om ’n gedeelde droom na te jaag, naamlik om klein volumes wyn van gehalte te maak wat hul passie weerspieël. En so het ’n soektog begin wat hulle na die meeste van Europa se wynproduserende streke geneem het … sonder om die “perfekte plek” te kry. Hulle het verder gesoek en in 2007 die Elgin-vallei ontdek. Hulle het hul visier gestel op ’n klein lappie grond, ’n verwaarloosde appelplasie van net 10 hektaar, en die res is geskiedenis!

Elgin Ridge 282 Pinot Noir 2016 – BF 9,0

“Ek was reg om myself te skiet – toe vind ek pinot noir! Vir my is dit ’n hemelse druif. Ek het nie verlief geraak op ’n vroumens wat die antwoord sou wees op al my probleme nie, maar op ’n druif, ’n druif wat my na lirieke hoogtes gedryf het.”

Die medeskrywer van die ikoniese 2004-fliek Sideways, Jim Taylor, is nie die eerste en enigste mens wat al sy hart op pinot noir verloor het nie.

Hierdie spesifieke wyn spog met ’n helder robynkleur en stel aromas van donker kersies en framboos in die neus vry met subtiele tekens van blomme. In die mond beklemtoon die natuurlike suur die varsheid van die wyn en word die kersie- en blommetema verder gevoer, terwyl sweempies speserye puik balans verleen. Sy tekstuur is fluweelagtig en hy spog met goed geïntegreerde, sappige tanniene.

Net so terloops, die 282 in die naam verwys na die hoogte bo seevlak (in meter) van die pinot noir-wingerd op Elgin Ridge.

Kosmaats

Geniet hom op sy eie, effe verkil in die somermaande, of saam met oondgeroosterde vark, salm, hoender of eend l’orange.

Prys: R250

  • YONDER HILL

Hierdie boetiekwynmakery van 13 hektaar lê aan die voet van die Helderberg net voor mens Somerset-Wes bereik. Die wingerde is teen die noordelike hange van die berg aangeplant en bestaan hoofsaaklik uit twee Bordeaux-kultivars, waaronder merlot. Seebriese uit Valsbaai help met die stadiger rypword van die druiwe.

Die kelder is in 1993 gebou, maar vier jaar later aansienlik gemoderniseer. Al drie die landgoed se wyne – die Nicola, Inanda en Merlot – word hier gemaak en verouder.

Yonder Hill Y-Merlot 2017 – BF 9,0

“Al wat mens nodig het, is liefde. Maar ’n bietjie merlot sal nie kwaad doen nie!”

Die Platter-wyngids van 2018 het aan hierdie wyn 3 sterre toegeken en dit as “uitsonderlik drinkbaar” en “goed geprys” beskou. Dis in ’n sagte, gladde en soepel styl gemaak met sagte, sappige tanniene. Na appelmelksuurgisting is 33% van die wyn in ouer vate verouder.

Die Y-Merlot (die Y staan glo nie net vir Yonder Hill nie, maar ook vir Why not?, bedoelende hoekom nie hierdie wyn probeer nie!) stel geure van pruime, sjokolade, vanieljespeserye en sweempies fyngedrukte swartpeperkorrels vry. In die neus kan daar ook aromas van aarbeie en moerbeie bespeur word.

Kosmaats

Hierdie wyn is gemaak om op sy eie geniet te word, maar hy sal die ideale maat vir ’n vleisbraai wees en ook pas by “ligter” hoender-, lamsvleis-, pasta- en selfs seekosgeregte.

Prys: R60

·         VONDELING WINES

Vondeling lê in die skadu van die Paardeberg agter die Paarl. Die grond is in 1704 toegeken aan die Sweedse immigrant, Oloff Bergh, en drie eeue van wynmaaktradisie is gevestig. Vandag word ’n omgewingsvriendelike benadering tot boerdery gevolg met minimale inmenging tydens die wynmaakproses.

Vondeling is egter meer as ’n produsent van puik wyn. Sy omgewing is ryk aan inheemse fynbos met vier spesies uniek aan die area, naamlik babiana noctiflora, Erica hippuris, oscularia paardebergins en serruria roxberghii. Vondeling is aktief betrokke by die bewaring en beskerming van sy natuurlike erfenis, en van die landgoed se wyne het fynbosname.

Die plaas behoort vandag aan drie “Rooinekke”, Julian Johnsen, Anthony Ward en Richard Gower. Julian is die charismatiese man aan die roer van sake. Sy twee mede-eienaars is Britse entrepreneurs.

Vondeling Baldrick Shiraz 2017 – BF 8,0

Vir hierdie smaaklike wyn is terreine en klone gekies wat groter aroma en ’n meer toeganklike mondgevoel bevorder. Altesaam ses klone word gebruik en elkeen dra by tot die finale eindproduk. Die wyn het appelmelksuurgisting in tweede- en derdevul- Franse eikehoutvate van 500 liter ondergaan wat gehelp het om die natuurlike geure te versterk. Dit het meer as ’n jaar in die vate deurgebring om meer geure te ontbloot.

Die Baldrick Shiraz het ’n diep perskleur en stel geure van ryp pruim en moerbei vry ondersteun deur kersiebloeisels en viooltjies. Die mondgevoel is sag en elegant en die tanniene vars sonder om skerp te wees. In die mond is daar ook bloubessiegeure met titsels swart olywe en soet speserye.

Kosmaats

Hierdie veelsydige wyn sal vele disse (en geleenthede) komplementeer. Probeer dit met oondgeroosterde lamsvleis of biefstuk met kapokaartappels en gekaramelliseerde uiesous.

Prys: R98

Vondeling Petit Rouge Merlot 2017 – BF 8,5

“Merlot is ’n omhelsing in ’n glas.”

Die druiwe vir hierdie wyn is ontstingel maar nie fyn gedruk nie. Die heel korrels is teen lae temperature gegis om ’n breë spektrum helder vrugte en speseryagtigheid te verseker sonder swaar tannien-ekstraksie. Na gisting is die wyn oorgepomp na ou Franse eikehoutvate van 300 liter.

In die neus onthul die wyn lewendige aromas van kersies, subtiele framboos en sagte swart peper. Dit dra pragtig deur na die mond waar die geure ondersteun word deur verfynde tanniene en ’n gladde einde.

Kosmaats

Hierdie dinamiese wyn kan op vele vlakke geniet word. Dit is ’n tradisionele Suid-Afrikaanse vleisbraai se “lewensmaat”, maar sal ’n ete van oondgeroosterde vleis (bees, skaap, vark of hoender) ook puik komplementeer.

Prys: R78

  • NEWTON JOHNSON FAMILY VINEYARDS

Onder die aanvoering van Dave, ’n Kaapse Wynmeester wat sy tesis oor pinot noir gedoen het, en sy vrou, Felicity (née Newton), het die Newton Johnson-gesin in 1995 na die Hemel-en-Aarde-vallei getrek, ’n kelder gebou en wingerd begin aanplant. Hierdie entoesiasme vir wyn in die algemeen en pinot noir in die besonder is oorgedra en gretiglik aanvaar deur hul seuns Bevan en Gordon. Op hulle beurt het Bevan en Gordon die landgoed na nuwe hoogtes gevoer met voortgesette verkenning en ontdekking van die nuanse van pinot noir en hul wingerde.

Newton Johnson Felicité Pinot Noir 2018 – BF 9,0

Die ontdekkingsreis van pinot noir kan ’n baie lonende ervaring wees, sommige beweer die heel lonendste. Die geurige vrugteprofiel van hierdie kultivar is baie kenmerkend, en die elegante, fluweelagtige tekstuur verlei baie mense. Newton Johnson se mense glo hul Felicité is die eerste tree op hierdie reis van ontdekking, en ek stem saam.

Hierdie Pinot Noir is nie net bekostigbaar nie, maar dit stel helder en ongekompliseerde vrugtegeure vry wat kenmerkend van die kultivar is. Helder kersies en framboos, omhul in warm speserye en aardse geure, ’n byna wellustige mondgevoel en fluweelsagte tanniene kenmerk hierdie wyn. Die delikate vrugtegeure word regdeur ervaar.

Kosmaats

Hierdie wyn is so drinkbaar dat mens bang is om enige kosmaats aan te beveel, maar hy sal nommerpas wees vir ligte geregte soos groen slaai met feta- of blou kaas en repies halfgaar beesvleis, varkfillette of vellose hoenderborsies, besprinkel met (hope) olyfolie en bietjie balsamiekasyn, of sekere pasta-, vark- of hoendergeregte.

Prys: R98

  • VAN LOVEREN FAMILY VINEYARDS

As jy nog nooit van Four Cousins gehoor het nie, is jy beslis nuut in die opwindende wêreld van wyn, baie nuut!

Van Loveren in die Robertson-wynvallei is gebou op drie geslagte se toewyding en passie, maar kan sy storie so ver soos 1699 terug vat toe Cristina van Loveren Holland per skip met haar man, Willem van Zyl, verlaat het om ’n nuwe begin in die Kaap die Goeie Hoop te maak.

Blaai ’n paar eeu vorentoe en jy kom uit by 1937 toe die Retief-familie die plaas aangeskaf het. Jean Retief het haar man, Hennie Sr, oortuig om die plaas Van Loveren te noem vanweë haar voorvaderlike konneksie.

In die sestigerjare het Wynand en Nico Retief, die seuns van Hennie Sr en Jean, wyn vir die groothandel begin maak. Later het hulle hul eie wyn begin botteleer, en in 1980 is die Van Loveren-handelsmerk gebore. Wynand se seuns, Phillip en Neil, en Nico s’n, Bussell en Hennie, het by die familieplaas aangesluit na afloop van hul universiteitstudies. In 2000 het die vier neefs die Four Cousins-handelsmerk bekend gestel. Dit is vandag Suid-Afrika se bes verkopende wynhandelsmerk.

Van Loveren se bydrae tot natuurbewaring in Suid-Afrika is sy The Rhino Run-reeks wyne. Hierdie reeks wyne van gehalte vier die manjifieke renoster en die pogings wat aangewend word om hierdie spesie van uitwissing te red.

The Rhino Run Ian Player 2016 – BF 8,0

Hierdie versnit van cabernet sauvignon en merlot is geskep met minimale inmenging om elke kultivar in staat te stel om sy eie karaktertrekke uit te druk. Die gevolg is ’n wyn met ryk amandel-, pruim- en kruisement-aromas in die neus en ryp bessie-, cassis– en rooi-aalbessiegeure in die mond. Versigtige houtbehandeling verseker ’n sagte, roosteragtige einde.

Kosmaats

As daar rooivleis in jou dis is, is dit die wyn om daarmee geniet te word, maar wees avontuurlustig en moenie jou aan voorskrifte steur nie. Kos- en wynkombinasies is nie in graiet vasgelê nie. Speel rond met jou eie kombinasies, of geniet ’n glas of twee op sy eie.

Prys: R71

Die Rhino Run Cabernet Sauvignon 2015 – BF 7,5

Verwag geure van ryp bessies, cassis en rooi-aalbessies in die mond. Houtveroudering bring ’n sagte, roosteragtige einde na die wyn.

Kosmaats

Geniet hierdie wyn met ryk vleisdisse, vark en wildsvleis.

Prys: R71

Die Rhino Run Pinotage 2015 – BF 7,5

Dié wyn het ’n komplekse neus van piesang, cassis en aarbei wat uitloop in lae vrugtegeure, vanielje en speserye in die mond.

Kosmaats

Dis die ideale pasmaat vir rooivleisdisse, ryk stowegeregte, kerries en gerookte kosse.

Prys: R71

Onthou, wyn is nie ’n bestemming nie, eerder ’n reis van ontdekking en verkenning. Moet dus nie by een soort of een styl vashaak nie. Proe, proe, proe totdat jy ’n gunsteling of twee ontdek, en dan proe jy verder want daar gaan beslis nóg gunstelinge op jou pad kom.

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>