Drie nuwe wynplase vir Durbanville-wynvallei

Date posted:
October 18, 2010

Die Durbanville-wynvalleivereniging het drie nuwe plase in hul midde verwelkom, Die drie is De Vallei Boutique Wyne, Phizante Kraal Wyne van Groot Phesantekraal en Klein Roosboom.

 

“Nou kan ons ’n kis wyn van 12 bottels volmaak met een bottel elk van al ons lede!” lag Martin Moore, keldermeester van Durbanville Hills, wat saam met Nitida, Meerendal, Hillcrest, Durbanville Hills, Diemersdal, De Grendel, D’Aria, Bloemendal en Altydgedacht die ander lede van die Durbanville-wynvalleivereniging uitmaak.

    

“Alhoewel hulle nuwelinge tot die assosiasie is, is hul bydrae tot die vallei se goeie reputasie as ’n top wynproduserende streek lank reeds gevestig,” voeg Righard Theron, die vereniging se voorsitter, by.

 

Al drie plase en die families aan wie die plase behoort, het lang wynmaakbande met die Durbanville-streek wat oor verskeie generasies strek. Twee van die plase, nasate van die De Villiers-familie van De Vallei en Klein Roosboom, en die Brinks van Groot Phesantekraal, het nou begin om hul eie wyn onder hul eie etikette te bottel. Hulle het ook nou hul kelderdeure vir wynliefhebbers oopgegooi en bied wynproeë en -verkope aan.

 

Die De Villiers-familie het, as deel van die golf Franse Hugenote wat in 1866 aan die Kaap geland het, in die vallei aangekom om Katolieke vervolging van Protestante in hul geboorteland vry te spring. Die 11de geslag boer tans op die Durbanville-grond.

 

De Vallei Wynkelder

 

Op Morgenster, tuiste van De Vallei-wyne, het die jong wynmaker, Nikie de Villiers, in 2006 sy eerste wyn gemaak. Hy het uitgesoekte druiwe van die 110 ha wat deur sy pa, Koos, versorg is vir lewering aan Durbanville Hills terug gehou. En die res is geskiedenis!

 

Die plaas se 140 ha, wat voorheen onder bosstokke was, is in die sewentigerjare herplant met meestal sauvignon blanc, shiraz, cabernet sauvignon en merlot.

 

Nikie het sy eerste 2006 Sauvignon Blanc en Syrah in ’n buitegebou gemaak, maar het die kelder laat herleef om sy handjievol klein vlekvryestaaltenks en nuwe-, tweede- en derdevul- Franse eikevate te huisves.

 

Behalwe die wennende Sauvignon Blanc en Syrah (die huidige 2010 en 2009 was albei goue medaljewenners op Michelangelo), sluit sy klein, keurige reeks ook twee wyne in wat aan sy ouers opgedra is. Die Annerose (ook ’n goue wenner op Michelangelo), wat na sy ma vernoem is, is ’n droë rosé bestaande uit ’n versnit van chardonnay en pinot noir. Die Jakobus, wat na sy pa vernoem is, is ’n versnit van cabernet sauvignon, merlot en shiraz, wat vir 12 maande verouder is in ’n kombinasie van nuwe-, tweede- en derdevul- Franse eikehoutvate.

 

Besoekers aan die klein, intieme kelder, sal Saterdae en Sondae van 11:00 tot 15:00 deur die wynmaker en sy vrou, Natasha, verwelkom word om tussen die vate in die kelder wyn te proe.

 

Klein Roosboom

 

Karin de Villiers, die kreatiewe en energieke vrou van die Durbanville Hills-boer Jean de Villiers, het in 2007 begin wyn maak, aangevuur deur ’n lewenslange droom om “sjampanje te maak voor ek doodgaan” en die ondersteuning van haar nefie, Nikie de Villiers, wat haar spasie aangebied het in die kelder wat hy op die nabygeleë De Vallei laat herleef het.

 

Haar man, Jean, het die plaas in 1985 van sy oom, Toelas de Villiers - wat ook die leisels van  Morgenster (De Vallei Wyne) aan Jean se broer, Koos, oorgegee het - oorgeneem. Die plase was voorheen deel van ’n groter eiendom wat deur die broers se oupa, Nicol de Villiers, besit is. Jean, ’n Elsenburg Kollege-gegradueerde, het al die bosstokke op die 260ha-eiendom herplant met opgeleide sauvignon blanc, chardonnay, cabernet sauvignon, shiraz en merlot, en eers druiwe gelewer aan Distillers (nou Distell) en later aan Durbanville Hills, as een van die aandelehouers.

 

Karin het haar eerste 2007-oes van ’n paar bottels MCC (betyds vir haar dogter, Marné, se 21ste verjaardag in Januarie 2011 en ook om moontlik “per tender” aan besoekers aan die plaas verkoop te word!) gemaak, asook ’n Sauvignon Blanc en Merlot.

 

Albei haar wyne het lof ontvang en sodoende die vallei se reputasie vir uitsonderlike sauvignon blanc en merlot gestand gedoen. Die 2008- Klein Roosboom Sauvignon Blanch het lof ontvang op die International Wine & Spirit Comptition in Londen, terwyl die- 2008 Merlot ’n silwer medalje op Veritas los geslaan het.

 

Hoewel sy beskikbaar is om wynliefhebbers deur die week te ontmoet as afsprake vroegtydig gemaak is, hou Karin die plaas se ou kelderdeure met sy sementtenks Saterdae tussen 11:00 en 15:00 oop, indien besoekers wil inval.

 

Phizante Kraal Wyne

 

Groot Phesantekraal-plaas, tuiste van Phizante Kraal Wyne, is een van Durbanville se oudste plase wat in 1698 deur Goewerneur Simon van de Stel aan skeepskaptein Olof Bergh toegeken is. Die plaas is sedert die laat 1800’s in die Brink-familie se besit en die 900ha-eiendom fokus steeds hoofsaakliks op gemengde boerdery (graan, beeste en skape), plus 50ha wingerde wat deur André Brink sedert 1996 nuut aangeplant is.

 

Toe André en Ronelle Brink in 2005 besluit het om klein hoeveelhede wyn onder hul eie etiket te bottel, het hulle die nabygeleë historiese wynlandgoed Diemersdal genader, waar die jong Thys Louw nou hul Phizante Kraal Sauvignon Blanc, Shiraz en Cabernet Sauvignon maak.

 

“Op hierdie stadium hou ons dit klein: omtrent 4 000 bottels Sauvignon Blanc en 2 000 bottels elk Shiraz en Cabernet Sauvignon. Ons wil hê wynliefhebbers moet na die plaas kom en ons wyne hier kom geniet,” sê Ronelle.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram