Drie Nederburg-wyne amptelik gelisensieer vir 2010-wêreldbekertoernooi

Date posted:
December 18, 2009

Nederburg, onlangs aangewys as Suid-Afrika se suksesvolste wynprodusent op die 2009- International Wine & Spirit Competition (IWSC) in London, en FIFA het 'n ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan dié bekende Paarlse wynkelder 'n reeks wyne sal kan produseer en bemark vir die 2010 FIFA-wêreldbekertoernooi wat volgende jaar in Suid-Afrika plaasvind.

 

Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, het ’n reeks van drie wyne spesiaal hiervoor geskep wat plaaslik en in die buiteland verkoop sal word. Die drie is ’n cabernet sauvignon, ’n droë rosé en ’n sauvignon blanc.

 

Rudolph du Toit, Nederburg se bemarkingsbestuurder, het gesê as deel van die opwindende aanloop tot die toernooi gaan die wyne wêreldwyd bekend gestel word. “Ons eerste prioriteit is markte waar sokker 'n groot aanhang het, maar ons sal ons deur die vraag laat lei.”

 

Die wyne is reeds plaaslik beskikbaar by gekeurde handelaars landwyd, asook van Nederburg self.

 

Die wyne, in bottels van deels-herwonne glas, sal tot Desember 2010 bemark word. Die wit- en rosé-wyne sal ’n skroefdop hê.

 

Macici het gesê die drie wyne, wat die oesjare 2007 tot 2010 dek, is vir hul breë aanvaarbaarheid gekies, maar word desondanks in kleiner hoeveelhede as Nederburg se gewilde Winemaster’s Reserve-reeks gemaak omdat slegs die druiwe van baie spesifieke plaaslike wingerde daarvoor gebruik word.

 

“Die drie wyne wat die embleem van die 2010 FIFA-wêreldbeker™ sal dra, weerspieël Nederburg se kenmerkende kombinasie van vrugtigheid en finesse. Hulle is terselfdertyd intens en elegant, en uitgesproke Suid-Afrikaans hierin dat die intense vrugtigheid deur ’n beheerste klassieke styl gebalanseer word. Hulle is fris en toeganklik, en ideaal saam met kos. Gegewe ons assosiasie met so 'n belangrike sportinisiatief, wil ons hê hulle moet toonbeelde van Suid-Afrikaanse voortreflikheid wees.”

 

Die rugetiket van elk van die 2010 FIFA- wêreldbeker™-wyne sal dit vir verbruikers moontlik maak om oombliklik toegang tot inligting oor Nederburg te bekom deur met hul selfoonkameras op 'n unieke QR-kode te kliek. Die gevraagde inligting sal dan op hul selfoonskerms verskyn.

 

Die kleinhandelprys van die Sauvignon Blanc en droë rosé sal na verwagting sowat R55 per bottel wees en die Cabernet Sauvignon ongeveer R70 per bottel.

 

Om die wynmaakspan se bespreking rakende die 2010 FIFA- wêreldbeker™-wyne te sien, volg asseblief hierdie skakel: http://www.youtube.com/watch?v=Ri-3Rtu8bRg.

 

Nederburg het ook onlangs 'n splinternuwe, gebruikersvriendelike webwerf geloods wat 'n 360° panoramiese uitsig van die plaas bied. Besoekers sal voel hulle staan in die wingerde terwyl hulle in die rigting van die historiese herehuis, met die Drankensteinberge as agtergrond, kyk. Om die nuwe webwerf van nader te bestudeer, besoek gerus www.nederburg.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram