Drie ‘baie vriendelike’ wyne sluit by Fryer’s Cove-reeks aan!

Fryer’s Cove is die enigste wynmakery binne die Bamboesbaai-wyk aan die Kaapse Weskus. Dit is nie net die kleinste wynwyk in Suid-Afrika nie, maar spog ook met die wynkelder naaste aan die see. Om die waarheid te sê, as Fryer’s Cove se kelder, geleë in die ou vissershawe van Doringbaai, enigsins nader aan die see was, sou mens heelwaarskynlik in elke glas wyn die Atlantiese Oseaan se branders hoor breek teen die keldermure!

Nader aan die see kry jy nie sommer nie!

Tot onlangs het hierdie handelsmerk twee wynreekse bemark, die vlagskip- Bamboes Bay-reeks wat uit drie wyne bestaan en die wynliefhebbervriendelike Doring Bay-reeks wat ook uit drie bestaan.

Nou het die wynmakery ’n nuwe reeks van drie wyne bekend gestel wat netjies tussen dié twee reekse pas, naamlik die Fryer’s Cove-reeks wat uit ’n Sauvignon Blanc, ’n Chenin Blanc en ’n Grenache Cinsault bestaan. Hulle word gemaak om die “robuuste terroir en landskap van die Kaapse Weskus te weerspieël” en die druiwe is afkomstig uit wingerde in die omgewing van die kelder.

Die Fryer’s Cove Sauvignon Blanc 2021 se druiwe is in die koelte van die nag en vroegoggend gepluk, sagkens fyn gedruk en die sap is in staaltenks gegis. Die doel was om ’n wyn te skep “met konsentrasie en diepte wat op ’n elegante wyse die terroir van die kuslyn van die Weskus uitbeeld”.

Hierdie heerlike witwyn spog met gekonsentreerde aromas van koejawel, papaja, groenvy en lemmetjie. Die wyn is vars en verfrissend en ontplof in die mond met geure van sitrusvrugte, pomelo en ’n heerlike, soutagtige geurigheid wat dit ideaal maak vir disse soos sashimi, oesters, ceviche (’n Suid-Amerikaanse seekosdis), geroosterde hoender en slaaie. Soos Jan Ponk van Zyl, een van die oorspronklike mense agter die ontstaan van Fryer’s Cove, dit stel: “As dit uit die see kom, is dit die wyn daarvoor!”

Die Fryer’s Cove Sauvignon Blanc 2021 kos sowat R110.

Die meeste van die druiwe vir die Chenin Blanc 2021 (62%) is in vlekvrye staaltenks gegis vir varsheid en die res in derde- en vierdevul- Franse eikehoutvate van 300ℓ vir bykomende kompleksiteit. Die komponente is vir 4 maande verouder voor versnyding en bottelering om die wyn se “gewig” en mondgevoel verder te versterk.

Hierdie helderkleurige wyn se pragtige suur ondersteun watertandgeure van suurlemoen, nektarien en wit perske, en sy talmende mineraliteit dra by tot sy lewendige en versadigende einde. Die subtiele gebruik van eikehout word weerspieël in die wyn se sagte speseryagtigheid. Geniet hom op sy eie, verkil, of saam met skulpvis en speseryagtige Thai- en Indiese kerries.

Die Fryer’s Cove Chenin Blanc 2021 kos ook ongeveer R110 per bottel.

Vir die rooiwynliefhebbers het Fryer’s Cove die Grenache Cinsault 2021 bekend gestel. Die gemiddelde ouderdom van die wingerde is oor die 20 jaar en hulle is naby die koue Atlantiese Oseaan geleë. Volgens die wynmaker het gisting in oop tenks plaasgevind en sagte deurdruk is drie keer per dag gedoen om kleur, geur en soepel tanniene te bewerkstellig en sodoende ’n harmonieuse wyn met karakter en finesse te skep.

Hierdie wyn, in ’n medium styl gemaak, oorweldig die neus en mond met onder meer verruklike geure van framboos en sweempies naeltjiespeserye. Sy soepel tanniene en gebalanseerde suur gee hom ’n verleidelike afronding: voorwaar ’n versnit wat jou aanhou uitnooi om hom te geniet!

Die Fryer’s Cove Grenache Cinsault 2021 kos sowat R118 per bottel en is glo die ideale pasmaat vir wildsvleisdisse of “vleiserige” vis soos tuna. Bedien effe verkil wanneer met speseryagtige geregte bedien word.

Vir meer inligting oor Fryer’s Cove en sy lipleklekker wyne, skakel +27 27 215 1092 of besoek www.fryerscove.co.za, en vir bestellings, stuur ’n epos aan finewines@dgb.co.za,

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>