Distilleerdery op Wellington vier 125ste verjaarsdag!

Date posted:
October 12, 2011

Die James Sedgwick-distilleerdery, die enigste volwaardige whiskydistilleerdery in Afrika en vandag een van die modernste ter wêreld, vier vandeesmaand sy 125ste bestaansjaar.

 

Die aanleg, wat vernoem is na die 19de-eeuse seekaptein, James Sedgwick, wat as een van die pioniers van die Suid-Afrikaanse drankbedryf beskou word, is die tuiste van Three Ships en Bain’s Cape Mountain Whisky. Andy Watts, meesterdistilleerder, vier terselfdertyd 20 jaar aan die hoof van die aanleg.

 

Sedgwick, wat maar 22 was toe hy aangestel is as kaptein van een van die skepe van die British East India Company wat tussen Engeland en die Verre Ooste gevaar het, het hom omstreeks 1850 aan die Kaap gevestig. Benewens as skrywer van tegniese publikasies vir 'n internasionale maritieme gehoor, het hy homself ook spoedig as 'n slim sakeman bewys. In1859 het hy die maatskappy J Sedgwick & Company begin wat drank, tabak en sigare verkoop het.

 

Na sy dood in 1872 het twee van sy seuns, Charles en Alfred, die bestuur van die besigheid met welslae oorgeneem. Onder hul leiding het die maatskappy sterk gegroei. As deel van die uitbreiding daarvan het hulle in 1886 'n distilleerdery op die wal van die Bergrivier by Wellington bekom.

 

Die aanleg is 20 jaar gelede in 'n whiskydistilleerdery omgeskep toe die produksie van Three Ships daarheen verskuif is. Die skuif het saamgeval met die aanstelling van Andy Watts as bestuurder. Watts, 'n gewese beroepskrieketspeler, het die kuns van whisky-maak in Skotland geleer.

 

Die twee dekades sedertdien was 'n tyd van groot innovering en prestasies. In  omvattende opgradering van die aanleg is sterk klem daarop gelê om terselfdertyd te verseker dat die distilleerdery op 'n volhoubare, omgewingsensitiewe manier funksioneer.

 

Links: Andy Watts, die meester verantwoordelik vir die hemelse geure wat vandag in Three Ships en Bain's Cape Mountain Whisky ervaar word.

 

As deel van die opgraderingsprogram is Forsyth’s van Skotland opdrag gee om koperketels soortgelyk aan dié wat by die beroemde Bowmore-distilleerdery op die eiland Islay aan die Skotse kus in gebruik is, te vervaardig. Om te verseker dat vaardigheid en vakmanskap deur die jongste tegnologie ondersteun word, is 'n hoogs gesofistikeerde beheerkamer geskep.

 

Met die jare is probleme wat opgeduik het op verbeeldingryke wyse opgelos. Om die distilleerdery van toegang tot 'n konstante waterbron te verseker, is 'n vleiland langs die aanleg in 'n dam omgeskep wat met water uit die rivier gevul word. Met sy ryk voëllewe dien dit vandag as 'n rustige enklawe langs die distilleerdery.

 

Ter erkenning van die hoë vlak van innovering wat die opgradering van die distilleerdery en sy produkte gekenmerk het, het Whisky Magazine in April vanjaar sy “Icons of Whisky”-toekenning aan die James Sedgwick-distilleerdery gemaak.

 

“Die belegging in die opgradering van die aanleg het dit vir ons moontlik gemaak om ons reeks whiskies na 'n volgende vlak te neem wat gehalte betref,” sê Watts. “Dit het ons ook die vertroue gegee om – en dan met groot sukses – in die internasionale arena mee te ding. Ons jongste Three Ships 10 jaar-oud enkelmout het vanjaar reeds goue medaljes by sowel die Concours Mondial de Bruxelles as die International Wine and Spirit Competition behaal.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram