Distell stel omgewingskundige aan

Date posted:
April 23, 2009

Distell het pas ? omgewingsbestuurder, Jacques Rossouw, aangestel om sy koolstofvoetspoor te help verklein. Volgns Dr. Gert Loubser, die maatskappy se direkteur van gehaltebestuur en navorsing, sal Rossouw onder meer betrokke wees by die meting en bestuur van kweekhuisgasse wat deur Distell se bedrywighede vrygestel word. 

 

Rossouw, wat voorheen in Australië by omgewingsregulering betrokke was, was tot onlangs die bestuurder van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se omgewingsvolhoubare Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW)-program wat as die mees progressiewe van sy soort ter wêreld beskou word.

 

In hierdie hoedanigheid het hy ten nouste met Distell saamgewerk aan ? internasionale projek om ? globaal aanvaarbare grondslag te vind aan die hand waarvan wynprodusente hul kweekhuisgasvrystellings kan bereken. Die stelsel, wat as die “International Wine Industry Greenhouse Gas Accounting Protocol & Calculator” bekend staan, verskaf ? grondslag vir die berekening van CO2-vrystellings deur die hele proses heen, van die kweek van die druiwe en die maak van die wyn tot die verpakking en verspreiding daarvan.

 

“Met die metodologie vir die berekening van die koolstofvoetspoor tot ons beskikking, kan ons nou begin om vrystellings te meet en strategieë te ontwikkel om ons impak op die omgewing verder te verminder,” het Loubser gesê. “Hoewel dit allereers vir wynprodusente bedoel is, kan die protokol aangepas word om Distell se impak op die omgewing in ander produksie-areas soos spiritualieë, siders en reg-om-te-drink-drankies te meet.”

 

Die maatskappy het reeds internasionale lof ingeoes vir die herbenutting van die CO2 wat gedurende die gisting van sy siders vrygestel word. Die gas word opgevang en gesuiwer en dan gebruik om die vonkel in die siders te plaas. 

 

Rossouw, wat ook voorheen aan die Wes-Kaapse Departement van Waterwese en Bosbou verbonde was, glo water is die mees kritieke natuurlike hulpbron wat met klimaatsverandering verband hou.

 

“Wat Distell betref, sal die fokus op waterbestuur in alle afdelings van die besigheid val. Die maatskappy wil die herbenutting van afvalwater vir wingerdbesproeiing wat reeds by Durbanville Hills, Stellenzicht, Neethlingshof en Le Bonheur benut word, waar moontlik ook na sy ander kelders uitbrei.”

 

Distell werk saam met die Universiteit van Stellenbosch en ander navorsingsinstansies om strategieë te ontwikkel om die gebruik van water elders in sy wynmaakbedrywighede, asook in die produksie van sy ander handelsmerke te beperk.

 

Rossouw het gesê ? belangrike aspek van Distell se waterbestuursprogram was die uitroeiing op al sy plase van dorstige indringerplante. Dit skakel ten nouste in by die bedrywighede van die plaaslike wynbedryf se Biodiversiteit- en Wyninisiatief  (BWI) wat hom beywer vir die beskerming van die ryke biodiversiteit van die Kaapse Blommeryk deur  areas te identifiseer waar inheemse plantegroei beskerm of herstel kan word.

 

Rossouw het ? meestersgraad in mikrobiologie van die Universiteit van Stellenbosch.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram