Distell stel nuwe hoof-wynmaker aan

Distell het ’n nuwe hoof-wynmaker aangestel. Andrea Freeborough, wat sedert 2015 Nederburg se keldermeester was, sal van Junie af die produksie van Suid-Afrika se grootste wynportefeulje oorneem.

Distell se uiteenlopende wynreeks, wat wêreldwyd bemark word, strek van sy premie-handelsmerke soos Nederburg, Durbanville Hills, Fleur du Cap en Alto (wat saam met ander handelsmerke nou deel uitmaak van Distell se nuwe premie-wynmaatskappy, Libertas Vineyards & Estates) tot die meer hoofstroom-aanbiedings soos 4thStreet, Two Oceans en Drostdy Hof.

“Andrea sal noukeurig na ons handelsmerke omsien en alle aspekte van die wynmaakproses ten nouste bestuur saam met ons talentvolle wynmakers en wingerdboukundiges,” sê Johan Venter, wat aan die hoof staan van Distell se Centre of Excellence: Intrinsic en aan wie sy sal verslag doen in haar nuwe rol.

“Met haar indrukwekkende kwalifikasies, uitstekende sensoriese instinkte en byna twee dekades se suksesvolle wynmaakervaring agter die blad, het Andrea reeds haar vermoëns in die bestuur van top wynmaakspanne bewys, asook haar vermoë om te innoveer en te eksperimenteer, en om tegelykertyd spesialiswyne en wyne vir die hoofstroom te skep.”

Met ’n BSc Hons-graad in wingerdbou en wynkunde van die Universiteit van Stellenbosch in die sak, het Freeborough haar wynmaakloopbaan begin as assistent-wynmaker op Neethlingshof buite Stellenbosch. Minder as drie jaar later is sy as volwaardige wynmaker op Nederburg aangestel onder die landgoed se destydse keldermeester, Razvan Macici, waar sy die witwyne gemaak het. Sy was duidelik puik in haar werk want 4½ jaar later, steeds in haar vroeë dertigs, is sy aangestel as die hoof van Distell se Die Bergkelder, ’n werk wat sy ’n dekade lank gedoen het voordat sy in 2015 terug gekeer het na Nederburg om by Macici oor te neem.

Freeborough se beroepsloopbaan gaan egter oor veel meer. Haar vele toekennings vir onder meer Nederburg- en Fleur du Cap-wyne wat onder haar wakende oë gemaak is, dui op ’n vrou met aansienlike talent en leierskapsvaardighede, om nie eens te praat van haar indrukwekkende vermoë om ’n balans te vind tussen haar werk en gesinslewe nie. Sy beskik beslis oor al die “bestanddele” om die wynmaaksepter by Distell te swaai.

Andrea is getroud met Michael-John en hulle het twee kinders, Leah-Jessica en Josh.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>