Distell het sy eko-beeld grootliks versterk deur in net 10 maande 333,5 ton glas te spaar. Dit is bewerkstelling deur 2,9 miljoen wynbottels van 'n ligter gewig te gebruik, het Jacques Rossouw, die maatskappy se omgewingsbestuurder, gesê.
Dié besparing is gelyk aan 733,7 ton koolstof wat andersins in die atmosfeer vrygestel sou gewees het, en beklemtoon die maatskappy se deurlopende pogings om ’n kleiner koolstof-voetspoor te skep. Dié program het in 2008 op dreef gekom toe ’n projek van stapel laat loop is om koolstof wat met die gisting van sy appelsiders vrygestel word, op te vang, te suiwer en dan weer te gebruik.
“Vandat ons verskeie van ons 750ml-wynbottels met ’n gemiddelde gewig van 570 g vervang het met bottels van 455 g, het ons die maatskappy se koolstofvrystelling reeds beduidend verminder,” het Rossouw bygevoeg. “Dis maar net ’n begin. In die volgende paar maande gaan ons bottels van 350 g bekend stel en nóg meer spaar.”
Hy sê Distell werk ten nouste saam met die VK se Waste & Resources Action Programme (WRAP) wat daarop gemik is om die gebruik van glas te verminder. Hy werk ook met plaaslike bottelvervaardigers saam om geskikte en volkome veilige ligte verpakkings te ontwikkel. Volgens hom het Distell as deel van sy betrokkenheid by volhoubare wynproduksie ’n sleutelrol in die ontwikkeling van die nuwe bottel van 350 g gespeel.
“Eugene Mostert, ons verpakkingsontwikkelingsbestuurder, het die ontwerp in oorleg met Consol ontwikkel, maar dit is vir die hele bedryf beskikbaar.
“Distell se klem op wynproduksie wat ook omgewingsverantwoordelik is, bestaan reeds meer as ’n dekade lank. Nederburg was byvoorbeeld betrokke by ’n gidsstudie wat in 1998 op die totstandkoming van die Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW) uitgeloop het. Tans geniet alle produsente wat druiwe en wyn vir die maatskappy se produkte lewer ’n IPW-akkreditasie. Boonop gaan op al die maatskappy se gesertifiseerde wyn, vanaf die 2010-oesjaar, die volhoubaarheidseël verskyn wat die Wyn- en Spiritusraad onlangs bekend gestel het.”
Hy het bevestig dat sommige van vanjaar se wyne wat reeds uitgevoer is, ook die nuwe seël op het. Die seël kom net op wyne wat oor die hele produksiekanaal, van die plaas na die kelder en oplaas bottelering, aan die IPW se beginsels vir volhoubare produksie voldoen. Dié wyne sluit in onder meer die maatskappy se eie handelsmerke, asook wyne wat namens groot internasionale kleinhandelkettings gemaak en onder hul eie etikette verkoop word.
“Die volhoubaarheidseël waarborg die integriteit van die produksie, van hoe die wingerde gevestig is en versorg word, tot hoe die wyne geproduseer en dan gebotteleer word. Benewens die aandag wat ons aan die verpakking gee, het ons ook strategieë ingestel om minder water en krag te gebruik.”
Volgens Carina Gous (foto), die hoof van wynbemarking by Distell, sal die nuwe liggewigbottel van 350 g vir sekere maatskappy-handelsmerke gebruik word, asook vir sommige internasionale kopers se eie handelsmerke wat deur Distell gemaak word.
“Die bottel van 455 g is egter steeds ’n baie gewilde keuse vir handelsmerke soos Nederburg en Two Oceans, wat teen die wêreldwye ekonomiese afswaai in steeds bly groei,” voeg sy by.
“Wêreldwyd kom ons agter dat die handel én verbruikers positief reageer op sigbare pogings om volhoubare produksie te handhaaf. Ons kan inderdaad dié twee handelsmerke se stewige groei in verkoopsvolumes in lande soos Brittanje, Duitsland, Nederland, Kanada en die VSA deels aan ’n gunstige reaksie op ons mededelings oor ons eko-vriendelike inisiatiewe toeskryf.”
Gous het gesê die nuwe volhoubaarheidseël word gerugsteun deur ’n gesofistikeerde opsporingstelsel wat dit moontlik maak om die inhoud van elke bottel in elke stadium van die voorsieningskanaal na die bron terug te voer om die integriteit van die produksie te bevestig. Dit verskyn reeds op handelsmerke soos Fleur du Cap, Durbanville Hills, Zonnebloem en Drostdy-Hof.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast