Distell se brandewyne maak goue debuut op 2010- Veritas-toekennings

Date posted:
October 10, 2010

Distell se brandewyne het hul indrukwekkende vertonings in wêreldklas-kompetisies voortgesit deur nie minder nie as vier dubbelgoue en sewe goue medaljes op die 2010- Veritas-toekennings in te palm.

 

Aan die voortou was Van Ryn’s met twee dubbelgoue en twee goue medaljes in die potketelbrandewyn-kategorie met hul 12 Year Old Distillers Reserve en 20 Year Old Collectors Reserve wat dubbelgoud gewen het, en die 10 Year Old Vintage en 15 Year Old Fine Cask Reserve wat goud gebuit het. Vroeër vanjaar het die 10 Year Old Vintage ook ’n goue medalje op die International Spirits Challenge gewen, terwyl die 12 Year Old Distillers Reserve en die 15 Year Old Fine Cask Reserve albei goue medaljes (beste in klas) op die International Wine & Spirit Competition (IWSC) ingepalm het. Die 15 Year Old het ook goud op die International Spirits Challenge (ISC) gewen.

 

“Die plaaslike en internasionale goue toekennings bewys weereens dat Van Ryn’s-brandewyne oortuigend van die beste in die wêreld is,” sê Adele Ankiewicz, woordvoerder vir Distell se brandewynportefeulje.

 

Die Oude Meester Reserve 12 Year Old en Klipdrift Gold OVM het ook dubbelgoud op in die potketelbrandewyn-kategorie op Veritas gewen, terwyl die Oude Meester Demant met ’n goue medalje weg gestap het. Goue medaljes in die potketelbrandewyn-kategorie is ook toegeken aan Collison’s White Gold en Nederburg Solera Brandy.

 

In die kategorie vir standaard-brandewyn het Klipdrift Export Brandy en Oude Meester VSOB Brandy goud ingepalm om Distell se brandewyn-portefeulje byna skoonskip te laat maak. Klipdrift Export het vroeër vanjaar ook goud op die IWSC gewen, terwyl Oude Meester VSOB goud (beste in klas) op dieselfde kompetisie gebuit het.

 

Veritas se paneel plaaslike en buitelandse beoordelaars volg streng internasionale riglyne en alle proeë word “blind” gedoen. Individuele beoordelaars ken punte toe uit 20 waarna die puntetellings bespreek en konsensus bereik word.

 

Byskrif: Oude Meester het ook dubbelgoud los geslaan op vanjaar se Veritas-toekennings.

 

’n Dubbelgoue medalje word aan ’n wyn of brandewyn toegeken wat 18 of meer uit 20 behaal, terwyl ’n telling van 17 punte ’n wyn of brandewyn ’n goue medalje sal besorg. Silwer beteken ’n telling van 16 punte en brons ’n telling van 15.

 

Veritas, die “Oscars” van wynkompetisies, vier vanjaar twee dekades as Suid-Afrika se voorste en mees gerespekteerde kompetisie vir markklaarwyne. Brandewyn is vanjaar uitgenooi om vir die eerste keer die trotse Veritas-tradisie te deel met byna 1 700 wyne wat deur sowat 300 produsente vir die 2010-proeë ingeskryf is.

 

Die Veritas-toekennings gee erkenning aan wyne en brandewyne van buitengewone gehalte en die kenmerkende Veritas-simbool van uitnemendheid dien as gesaghebbende gehalteriglyn vir wynliefhebbers en -kenners.

 

Toe hy gevra is hoekom Veritas uiteindelik ’n brandewyn-kategorie ingesluit het in hierdie gesaghebbende kompetisie, het Dave Hughes, veteraan-distilleerder, wyn- en spiritualieëskrywer, nasionale en internasionale beoordelaar, konsultant en lid van die Brandewyngilde, gesê: “Ek dink dit was ’n uitstekende geleentheid vir ons brandewyne wat so buitengewoon goed doen in groot internasionale kompetisies om aan ’n top plaaslike kompetisie deel te neem en hul grootsheid aan plaaslike verbruikers ten toon te stel deur die bemarking en media-aandag wat hierop volg.

 

“Die twee, wyn en brandewyn, staan sy aan sy en dikwels, na my mening, is hulle so verstrengel dat dit moeilik is om te besef waar die een eindig en die ander begin.

 

“Moderne Suid-Afrikaanse brandewyne het ’n suiwerheid waarna ander steeds streef. Ondanks hierdie hoë vlak van suiwerheid of ‘skoonheid’, het hulle steeds hope geur en karakter. Ons is ook spesiaal in die sin dat ons verskillende soorte en style van brandewyn maak wat vir sowel die menger- as die suiwer drinkmark voorsiening maak. Ons probeer nie een brandewyn maak wat almal tevrede moet stel nie.”

 

Hy het bygevoeg dat moderne Suid-Afrikaners moderne Suid-Afrikaanse brandewyne moet ontdek as die moderne spiritus van die nasie.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram