Distell, op drie na die wêreld se grootste brandewynprodusent, het 'n 19de-eeuse chateau in die hartjie van die Cognac-streek in Frankryk gekoop as tuiste vir die Bisquit-handelsmerk wat hy onlangs verkry het. Die eiendom, wat voorheen deel was van die Raynal & Cie-perseel wat tot onlangs aan die Skotse maatskappy William Grant & Sons behoort het, sal tot Chateau Bisquit herdoop word.
Die maatskappy, wat die Bisquit-handelsmerk en gepaardgaande voorraad in Maart van Pernod Ricard gekoop het, gaan die produksie van hierdie beroemde cognac verskuif na Chateau Bisquit. Dié strategies geleë perseel, wat oor omvattende versnydings- en botteleringsgeriewe vir cognac beskik, beslaan 'n hele straatblok in die middel van stad Cognac.
Die transaksie van €3 miljoen vir die koop van die versnydings- en botteleringsgeriewe op die perseel asook die indrukwekkende chateau, is pas beklink. Volgens Distell is daar op die nuwe perseel meer as voldoende bergruimte is vir die cognac- en eau de vie-voorraad in veroudering wat as deel van die transaksie met Pernod Ricard verkry is. Die ligging van die chateau maak dit ook ideaal geskik as gewilde aanloopplek vir toeriste.
Caroline Snyman, hoof van Distell se spiritualieë-afdeling en self 'n brandewynmaker, het gesê Bisquit, met sy geskiedenis van byna 200 jaar en lang familietradisie, verdien 'n eie tuiste wat nie terugstaan vir dié van sy belangrikste mededingers nie.
“Die gebou vertoon al die grasie, adel en statuur wat 'n mens assosieer met 'n cognac met die aansien van Bisquit. Wanneer die chateau opgeknap en toegerus is met die geriewe wat 'n besoek daaraan 'n besondere ervaring sal maak, sal dit 'n tasbare basis vorm waarop ons kan voortbou aan die beeld van die handelsmerk.
“Die geriewe is sodanig dat ons 'n probleemvrye oorgang sal kan maak, vorentoe sal kan kyk en fokus op die uitbouing van produksie in ooreenstemming met markbehoeftes. Met ons Franse bestuurspan en 'n soliede infrastruktuur is ons nou goed geplaas om hierdie erfenishandelsmerk na 'n volgende vlak te neem.”
Bisquit is in 1819 deur die cognacpionier Alexandre Bisquit begin. Dit het vir byna 150 jaar die besit van die Bisquit-familie gebly. Danksy die pogings van Maurice Laporte-Bisquit het dit in 'n internasionaal bekende handelsmerk ontwikkel wat deur die Bisquit-familie besit en bestuur is tot dit in 1966 verkoop is aan Pernod Ricard, wat die handelsmerk op sy beurt verder uitgebou het tot een van die voorste ter wêreld.
Dit het vandag 'n sterk teenwoordigheid in dele van beide Wes- en Oos-Europa, met 'n ondersteuningsbasis in China en in die internasionale reisbedryf. Dit is 'n markleier in België, met 'n lojale gevolg in Luxemburg, Switserland, Rusland, Frankryk en Duitsland.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast