Distell koop aandeel in BrandPhoenix

Date posted:
May 25, 2011

Ten einde die teenwoordigheid van sy wynhandelsmerke in die VK verder te versterk, het Distell ’n beduidende belang in die Britse wynverspreider, BrandPhoenix, vir ? onbekende bedrag verkry. BrandPhoenix besit FirstCape, die topverkoper onder Suid-Afrikaanse wynhandelsmerke wat tans die algehele derde plek in die VK se kleinhandelsmark beklee.

 

Die ooreenkoms sal Distell in staat stel om, in vennootskap met BrandPhoenix, die blootstelling van sy wyne in die VK se grootste kleinhandelkettings te verhoog.

 

Carina Gous, Distell se hoof van wyn, het gesê die maatskappy is vol vertroue dat met sy belegging in BrandPhoenix die twee maatskappy hul gesamentlike teenwoordigheid in die VK sal kan uitbrei.

 

“BrandPhoenix beskik oor ? gebalanseerde portefeulje internasionale wynhandelsmerke wat gerugsteun word deur sterk bemarkings-, verkoops- en logistiese vaardighede. Deur die markpotensiaal van FirstCape en Distell te kombineer, sal ons die Britse kleinhandel tot groot hoogte ’n eenstop-oplossing vir Suid-Afrikaanse wyn kan bied.”

 

Greg Wilkins, ’n direkteur van BrandPhoenix, het gesê sy maatskappy se verspreidingsvermoë het verlede jaar ? hupstoot gekry toe SHS, wat die verspreiding van FirstCape aan die geriefsketting, Impulse, behartig ook ? aandeel in Phoenix bekom het.

 

“Die ooreenkoms met Distell sal ons produkportefeulje grootliks versterk met handelsmerke soos Nederburg, Two Oceans en JC le Roux se vonkelwyne. Die verbintenis sal ook BrandPhoenix se wynvoorsieningsbasis in Suid-Afrika vergroot.”

 

Sy kollega, Steve Rosser, ook ’n BrandPhoenix-direkteur, het gesê hulle beplan ? aggressiewe veldtog om verkope van Suid-Afrikaanse wyne deur die kleinhandel-voedselkettings te verhoog.

 

Distell is op nege na die grootste wynbemarker ter wêreld en dryf op elke vasteland handel. As deel van sy globale uitbreiding skep hy sterk handel- en verspreidingsnetwerke in talle wêrelddele.

 

Gous het gesê taai handelstoestande het talle produsente orals ter wêreld genoop om hulle aan die VK te onttrek.

 

“Ons glo egter die VK, as een van die grootste wyninvoerders ter wêreld, bied steeds opwindende potensiaal en winsgewendheid indien dit korrek bestuur word.”

 

Sy het gesê met sy lae-bokostebenadering is BrandPhoenix gefokus op verbruikers om aan hulle wynhandelsmerkte te voorsien wat goeie gehalte en uitstekende waarde bied.

 

“Hierdie benadering word onderskraag deur sterk promosie-aktiwiteite om hoë sigbaarheid in winkels te bewerkstellig. Dié formule werk, en die maatskappy het ook ’n sterk aanhang vir die wyne met ’n lae alkoholvlak in sy portefeulje geskep. Met sy sterk kontakte in die kleinhandel en sy vermoë om te innoveer, sien ons daarna uit om ten nouste met BrandPhoenix saam te werk. Ons glo daar is talle geleenthede wat ons wedersyds kan verken.”

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram