Dis somer, dis tyd vir Stellenbosch se straatmakieties!

In Europa noem hulle dit “straatkultuur”, of “sypaadjiekultuur”. Dis wanneer mense op sypaadjies voor eetplekke bymekaar kom en heerlike samesyn vier met kos en wyn. Of in strate wat tydelik gesluit is vir verkeer.

Elke jaar bring die Eikestad bietjie van daai “straatkultuur” na die Kaap met sy gewilde straat-soirees. Kom geniet, vanaf 28 November, ’n glasie wyn en iets te ete saam met plaaslike inwoners wanneer hierdie straatkuiers weer eens ’n draai in die strate van dié Bolandse dorp maak.

Hierdie straatkuiers, aangebied deur die Stellenbosch-wynroete, is soos ’n puik versnitwyn, ’n “versnyding” van plattelandse gasvryheid, kulinêre vernuf, wyngenot en raakvat-musiekvermaak! Stellenbosch se straat-soirees vind minstens een keer ’n maand plaas, op ’n #WynWoensdag, en al die vermaak gebeur in een sentrale area, die historiese Drostdystraat, waar die verkeer letterlik tot stilstand gebring word.

Ervaar smullekker “straatkos”, bekroonde wyne uit die streek se kelders en lekker musiek in ’n feestelike atmosfeer by hierdie buitelug-kuiers.

“Wie hou dan nie van ‘n lekker straatpartytjie nie, en dit is ‘n goeie verskoning om jou ‘bure’ beter te leer ken. Met die Stellenbosch-wynroete is jy altyd in goeie geselskap, so kom maak jou bolla los en ontspan saam met ons na werk,” sê Elmarie Rabe, Bestuurder van die Stellenbosch-wynroete.

Elke straat-soiree vind plaas vanaf 18:00 tot 20:00 en elke kuier bied ‘n verskillende keurspel van kelders en kokke wat smaak aan die aand verleen. Vir R100 kry jy ‘n wynglas en 12 wynproe-koepons en daar is ook heerlike kos en happies te koop. Kinders is ook welkom.

Die datums vir Stellenbosch se straat-soirees is:

28 November

12 Desember 2018*

16 & 30 Januarie

13 & 27 Februarie

13 & 27 Maart 2019* 

Vir meer inligting, skakel 021 886 4310, besoek www.wineroute.co.za, volg die Stellenbosch Wynroetes op Twitter @StellWineRoute of sluit aan by hul Facebook-blad STBStreetSoirees. #VisitStellenbosch.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>