Diemersdal Private Collection wys die gehalte van die 2016-oesjaar

Ofskoon hy ‘n selferkende sauvignon blanc-fanatikus is, glo Thys Louw van Diemersdal in die Durbanville-wynvallei in sy vermoë om sommige van die beste rooiwyne in Suid-Afrika en die wêreld op te lewer.

“Die wortels van Durbanville se wingerdkunde en wynmaak was nog altyd stewig geanker in rooiwyn, lank voor dit bekend geword het as ‘n wêreldklas sauvignon blanc-streek,” sê Thys.

“As die sesde geslag Louw op Diemersdal is ek die eerste een wat ‘n plaas bestuur wat hoofsaaklik betrokke is by witwynproduksie. In die 1970s en 1980s was ons egter bekend vir rooiwyne, veral cabernet sauvignon. Die feit dat waarskynlik Suid-Afrika se beste rooiwyn ooit, die GS Cabernet 1966, van Durbanville-druiwe gemaak is, beklemtoon ons area se rooiwynbloedlyn.”

Thys is veral opgewonde oor die Diemersdal Private Collection-wyn, ‘n Bordeaux-versnit bestaande uit vyf kultivars wat tans groot sukses in die mark geniet, soveel so dat produksie aansienlik verhoog is om te voldoen aan die groeiende aanvraag uit die restaurant- en kleinhandelbedryf.

Die Diemersdal Private Collection 2016 is onlangs vrygestel en is ‘n versnit van cabernet sauvignon  (54%), merlot (25%), malbec (18%), cabernet franc (2%) en petit verdot (1%).

Volgens Thys weerspieël die wyn die gehalte van die 2016-oesjaar wat gekenmerk is deur perfekte, eweredige rypwordtoestande. Dit het hom in staat gestel om ‘n wyn te maak waarin al vyf kultivars komponente kon vorm wat in totale harmonie met mekaar is, en ‘n rooiwyn met elegansie, krag en teenwoordigheid kon skep.

“Die feit dat Diemersdal ‘n plaas is waar droëlandboerdery toegepas word, help ons om druiwe te verbou met ‘n getroue vingerafdruk van elke oesjaar se fisiese toestande,” sê hy. “Boonop is die druiwe wat gebruik word vir hierdie wyn afkomstig van wingerde wat tussen 19 en 30 jaar oud is wat bydra tot die kompleksiteit van die finale produk.”

Die druiwe is gepluk teen optimale rypheid, en die verskillende komponente is apart ge-oes en voorberei in die kelder. Gisting het plaasgevind in oop tenke vir vyf tot sewe dae teen 24°C tot 28°C, en deurdrukke van die doplaag is elke vier ure gedoen tot die wyn droog gegis het op die doppe. Appelmelksuurgisting het spontaan in die gistenke plaasgevind waarna die aparte wyne oorgetap is na Franse eikehoutvate van 225ℓ waarvan 25% nuut was. Hier het die wyne afsonderlik verouder vir 18 maande voor versnyding.

“Ons het nog altyd ‘n klassieke rooiwynbenadering by Diemersdal gehad vandaar die 18 maande se houtveroudering”, sê Thys. “Dit is relatief lank gemeet aan moderne standaarde, maar dit is wat die beste werk vir ons rooi kultivars. Dit verleen struktuur en finesse met soepel tanniene.”

Die Diemersdal Private Collection 2016 het kenmerkende, diep donkersjokolade- en aanloklike sederhoutaromas, gevolg deur talmende braambessiekonfyt, kersie en swart aalbessie. In die mond is daar goeie struktuur, met kragtige dog soet tanniene en ‘n wye reeks geure wat wissel van swartkersie tot rooivrug, afgerond deur sweempies ryk eikehout en vanielje.

“Die wyn is heerlik toeganklik op die oomblik en drink uitstekend,” sê Thys. “Tog verseker die kombinasie van Bordeaux-rooikultivars, ou wingerde en intense houtveroudering dat die wyn sal aanhou ontwikkel vir die volgende 10 tot 15 jaar.”

Die aanbevole kleinhandelprys vir hierdie spogwyn is R150.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>