Elke keer as ek dink die Kaapse wynlande kan my nie meer verras nie, doen hy dit tog weer! Soveelso dat ek nou tot die slotsom gekom het dat hierdie pragtige, natuurskone, veelsydige wynwêreld van ons ‘n byna onuitputlike skatkis is.
So vind ek toe mos uit van die Worcester-wynroete, ‘n relatief nuwe wynroete wat nog heerlik onaangeraak is deur toerbusse en hordes mense, en ek besluit ek moet daar gaan kuier voordat die res van die wêreld van hulle uitvind en ek vertrap word!
So ‘n paar kilometer buite Worcester op die R60 na Robertson begin die roete. Ek draai links by die bord wat sê Nuy. Hierdie been van die roete het drie kelders waarvan ek beplan om twee te besoek. Ek begin by die Nuy-Wynmakery (023-347-0272) aan die voet van die Langeberge anderkant Conradie Family Vineyards waar Christo Pienaar, bestuurder/wynmaker, en Elzabé Morkel van die Worcester-wynroete my inwag.
So vind ek uit dat net sowat drie persent van hierdie klein koöperatiewe kelder se totale produksie van 10 000 ton onder die Nuy-etiket gebottel word en dat slegs die beste druiwe hiervoor uitgesoek word. Hul Barrel Selection Syrah (wat pas goud op Michelangelo gewen het!) en Barrel Selection Cabernet Sauvignon is op hul eie die ry werd, en dan praat ek nie eers van die Sauvignon Blanc, Chardonnay, Colombard en Muskadel nie.
Links: Met rustende wingerde en die Langeberge in die agtergrond, poseer Jandre Human (Overhex), Elzabe Morkel (Worcester-wynroete), Elsabe Conradie en CP Conradie (albei van Conradie Family Vineyards) en Henk Swart (Alvi's Drift) by Nissan se Navara met XL-kajuit, 'n bielie van 'n bakkie.
En terwyl ons daar in die proekamer sit en ons smaakkliere vrye teuels gee, vertel Elzabé my van al die verblyfplekke, eetplekke en buite-aktiwiteite soos roei, fietsry (pad én berg), piekniek en 4x4-roetes in dié geweste. Die Worcester-wynroetevereniging (023-342-8710) en die plaaslike toerismekantoor (023-348-2795) kan meer inligting verskaf.
Hiervandaan is ek die paar kilometer terug na Conradie Family Vineyards (023-342-7025) waar broer en suster, C.P. en Elsabé Conradie, die vyfde geslag is wat hier wyn maak. Die plaas Werda is reeds sedert 1871 in die familie se besit.
Hierdie privaat kelder maak op klein skaal wyn van hoogstaande gehalte vir “diegene wat die tyd vat om die goeie smake wat die lewe bied, te geniet”. En dis nie ‘n liegstorie nie! ‘n Goue medalje vir hul Sauvignon Blanc op vanjaar se Michelangelo-kompetisie getuig daarvan.
Die Conradies bied ook verblyf vir tot 75 mense in ‘n oorspronklike Kaaps-Hollandse huis, stylvolle en suite-kamers met lieflike uitsigte en’n gerestoureerde wynkelder wat ideaal is vir toer- of ander groepe. En dan’s daar ook ‘n restaurant (waar ons ‘n heerlike middagete geniet het) en ‘n swembad.
My volgende besoek was by die tuiste van Eagle’s Cliff-wyne op die R43 na Villiersdorp, die ander been van die roete. Ek is terug na die R60, regs in die rigting van Worcester, toe links na Aan de Doorns en weer links by die T-aansluiting op die R43 by Aan de Doorns-kelder.
‘n Klompie kilometer verder in die Breedevallei af is ek toe weer links by die Eagle’s Cliff-bord (023-340-4112) en vandaar grondpad langs tot by die kelder wat uitkyk oor die vallei. En aan die anderkant van die vallei sien ek toe mos my verblyf vir die nag, die Eagle’s Rest Cottage (082 886 9839), rustig in die middagsonnetjie.
Regs: Met die natuurskone Worcester-wynroete wat tot doer agter teen die Langeberge strek, geniet Hendrik Botha van Stettyn naby Villiersdorp 'n glasie witwyn.
Christiaan Groenewald maak ‘n omvattende reeks rooi- en witwyne wat onder die Eagle’s Cliff-, Eagle’s Cliff Reserve-, Dwyka Hills- en Arendskloof-handelsmerke verkoop word, en die man weet wat hy doen! So tussen die geproe deur vertel hy my ook toe dat hulle hul eie eetplek hier het, Eagle’s Cliff Restaurant, en dat stap, bergfietsry, voëlkyk en waterski op die Kwaggaskloofdam van die vele aktiwiteite is om in hierdie kontrei te doen.
Nou-ja, na ‘n heerlike nagrus in die ruim selfsorghuis, ‘n lekker koppie koffie op die voorstoep met sy pragtige uitsigte op die wingerde (ek het soos die baas van die plaas gevoel!) is ek toe vort met daai grondpad langs na Brandvlei-kelder waar die mense onbeskaamd spog dat hulle waarde-vir-geld-wyne maak. En as jou duurste wyn slegs R24 kos en jou goedkoopste ‘n skamele R16.50, en hulle vloei so gemaklik in jou keel af, sal jy ook spog!
My laaste besoek op hierdie heerlike ervaring van wyn, kos en mense was by Alvi’s Drift (023-340-4117), ‘n paar kilometer van Brandvlei af, van die Van der Merwe-broers, Alvi (‘n algemene praktisyn) en Johan (‘n prokureur). Alvi is die wynmaker.
Die plaas Alfalfa is in 1928 deur hul pa, Alvi senior, aangeskaf en vandag word hier nie net bekroonde wyne gemaak nie, maar ook kaas wat jou van jou cholesterol laat vergeet en Parma-ham (ek hoor eintlik hoe water vroulief se mond!). Die naam Alvi’s Drift is afgelei van die laagwaterbruggie oor die Breederivier op die plaas.
Die Worcester-wynroete het net tien kelders, wat dit ‘n baie intieme atmosfeer gee, en die ongekunsteldheid van sowel die omgewing as die gawe, ruimhartige mense het my sterk opgeval. Hul slagspreuk, The visit that will linger longer, of in my eie vertaling, Die besoek wat langer sal luier, is baie gepas.
WYNWIELE:
Renault se sprankelnuwe es-joe-wie, die Koleos, was my metaalmetgesel op hierdie besoek. So ‘n pikswarte.
Reeds in my motorskryfdae het ek ‘n voorliefde vir Franse motors ontwikkel. Nes ek vandag ‘n groot liefde vir Franse kos en wyn bygekry het. Ek het dus gretig uitgesien na hierdie gesofistikeerde, sjarmante Fransman, en ek was nie teleur gestel nie. Oukei, nie almal sal van sy voorkoms hou nie, maar nes wyn is dit ‘n baie persoonlike saak.
Byskrif: Oukei, hy's miskien nie gemaak vir ploeg nie, maar Renault se Koleos maak van enige pad 'n plesier.
Vat egter die pad en hy sal gou van jou ‘n vriend maak, en jou vooroordele oor sy voorkoms sal ook vinnig verdwyn. Lekker, wakker werkverrigting en ‘n oordosis weelde en gerief maak van die Koleos ‘n heerlike padmetgesel.
Wanneer ek aan die einde van die pad kom met ‘n voertuig (bedoelende ek moet hom terug gee) en ek soek ‘n verskoning om dit uit te stel, dan weet ek hy’s beslis die moeite werd. En so het ek oor daai pikswart Renault Koleos gevoel. Maar nou-ja, ...
Einde.
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast