Die Worcester-wynroete bied ietsie vir almal

Date posted:
June 30, 2010

‘n Onontdekte juweel lê en wag net anderkant Worcester, so ‘n uur se ry van Kaapstad af. Dis die Worcester-wynroete waar egte plattelandse gasvryheid hand aan hand gaan met heerlike wyn, en ‘n groot verskeidenheid daarvan, kos en olyfprodukte te kies en te keur.

 

‘n Groot verskeidenheid verblyf, van basies gerieflik tot weelderig, sal verseker dat jy langer sal kuier as wat jy aanvanklik beplan het, en vir diegene wat bietjie aksie soek, is daar die Breërivier, die reusagtige Brandvleidam wat ook kampeerplek bied, verskeie stap- en bergfietsroetes, en 4x4-roetes wat jou en jou wiele deeglik sal toets.

 

Om al sy geriewe en aktiwiteite te vier, insluitende die area se heerlike wyn en kos, bied die Worcester-wynroete nou ses selfbestuur-wyntoerpakkette aan teen bekostigbare pryse. Die toere bied nie net geleentheid om die roete se groot verskeidenheid bekroonde wyne te proe nie, maar sluit ook aktiwiteite in soos ‘n besoek aan die wêreldbekende olyfplaas Willow Creek, ‘n besoek aan die La Rochelle-bokmelkkaasfabriek, ‘n asemrowende bootrit op die Breërivier (op die De Breede Otter) en trekkerritte deur die wingerde. Elke pakket sluit ook ‘n middagete in by een van die heerlike eetplekke op die roete. Die pryse wissel van R110 tot R270 per persoon.

 

 

 

Byskrif: Die Breederivier is maar een van vele uitdagings wat vir diegene met adrenalien wag op die Worcester-wynroete. Daar's ook staproetes, bergfietsroetes, 4x4-roetes en vele meer!

 

 

 

 

Wat die Worcester-wynroete so uniek maak, is die feit dat hy kompak is en uit net tien wynkelders bestaan, van groot kelders soos Brandvlei, Aan de Doorns en Overhex tot kleiner produsente soos Nuy, Conradie Family Vineyards en Stettyn. En dan’s daar ook nog De Wet, Alvi’s Drift, De Doorns en Eagle’s Cliff. En die roete is baie gesinsvriendelik met ‘n groot verskeidenheid aktiwiteite vir pa, ma en kinders.

 

Deur die jaar word gereeld spesiale aktiwiteite aangebied soos 4x4-dae, veilings, bazaars, wa- en trekkerritte deur die wingerde, bergfietsry, roei, hengel, gholftoernooie en dies meer.

 

Vir meer inligting oor wat alles op die Worcester-wynroete gebeur en wat die spesiale pakkette behels, of om te bespreek, besoek gerus www.worcesterwineroute.co.za, stuur ‘n epos aan info@worcesterwineroute.co.za of skakel die roete se hoof- uitvoerende beampte, Elzabé Morkel, by 023-342-8710.

 

Omring deur van die Kaap se mooiste berge en met die Breërivier wat ‘n ellelange oase deur die vallei skep, bied die Worcester-wynroete verblyf, kos, wyn en gasvryheid wat van vreemdelinge gou-gou vriende maak.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram