Die Strandveld roep!

Date posted:
April 16, 2009

“Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was. En hulle het daar by die water laer opgeslaan.”

 

Toe die oudste dorpie in die Strandveld halfpad tussen Gansbaai en Bredasdorp in 1824 deur Morawiese sendelinge gestig is, het hulle heel gepas sy naam in Die Bybel gevind. In Exodus 15:27 om presies te wees.

 

Vandag is die Elim-wyk die suidelikste wyngebied in Afrika met die mees suidelike wingerde op die vasteland. Maar hier gaan dit nie net oor wingerd en wyn nie. Nee, dit gaan ook oor graan en fynbos; vee, wildsbokke en voëls; vleilande en natuurreservate; wonderlike mense en heerlike kos.

 

Hier in die Strandveld is daar so baie te sien en te doen dat geen mens binne ‘n dag of twee reg kan laat geskied aan hierdie pragtige kontrei nie. Nee, hier moet jy kom uitspan.

 

Onlangs het ek koers gekies soontoe oor Caledon en Bredasdorp, net anderkant Bredasdorp regs gedraai na Die Dam/Elim/Gansbaai (R317) en ‘n ent verder weer regs by die T-aansluiting na Elim/Baardskeerdersbos. By die bord wat sê Wolvengat/Die Dam/Buffelsjags is ek links op die grondpad tot by Strandveld Vineyards (028-482-1906) waar allemintige walvisgebeendere my ingewag en verwelkom het.

 

Hier sou my basis wees vir die volgende twee dae in een van die twee pragtig gerestoureerde, selfonderhoudende arbeidershuisies op die plaas.

 

As mens nou met daai teerpad aanry na Elim/Baardskeerdersbos, kry jy links die tuiste van Black Oystercatcher-wyne (Moddervlei van Dirk “Vaatjie” Human), gevolg deur die tuiste van The Berrio-wyne (ook Moddervlei, maar van Francis “Frankie” Pratt) en regs Zoetendal-wyne van Johan “Idols” de Kock. Zoetendal (028-482-1717) het ook ‘n heerlike gastehuis met pragtige uitsigte.

 

Strandveld Vineyards en Zoetendal het geruime tyd reeds proekamers, terwyl Black Oystercatcher (028-482-1618) en The Berrio (028-482-1880) s’n einde November/begin Desember hul deure vir die publiek oop gegooi het.

 

Onder die natuurreservate in hierdie omgewing wat enige eko-toeris se mond sal laat water, is die bekende De Hoop-natuurreservaat, Andrew’s Field (‘n privaat reservaat), Agulhas Nasionale Park en Geelkop Privaat Natuurreservaat. En dan’s daar natuurlik Elim.

 

Nadat ek die Saterdag ‘n heerlike dag die gasvryheid, wyne en kos van die kontrei geniet het saam met ‘n groep Britse wynskrywers en internasionale wynaankopers, het ek bietjie die omgewing en al sy wonderlike natuurskatte gaan verken.

 

Elke dan en wan het ek op ‘n fietsryer of drie afgekom en na ‘n ruk besef dat die driehoek tussen Bredasdorp, Agulhas en Elim absoluut perfekte teer- en grondpaaie het om jou oortollige energie vrye teuels te gee. Of om net van die skuldgevoel oor die vergryp aan al die lekker wyne ontslae te raak!

 

En van wyne gepraat, tussen Strandveld Vineyards se First Sighting- en Strandveld Vineyards-reekse (wat ‘n Sauvignon Blanc, ‘n Chardonnay/Semillon/Viognier, Shiraz en Pinot Noir insluit); Black Oystercatcher se Sauvignon Blanc, White Pearl, Cabernet Sauvignon/Merlot, Triton en Rosé; The Berrio se Cabernet Sauvignon, Sauvignon Blanc en Weathergirl; en Zoetendal se Sauvignon Blanc, Shiraz en Milé is my arme smaakkliere op so ‘n sensoriese reis geneem dat ek steeds wag dat hulle terug keer!

 

Die volgende oggend is vier van ons per bergfiets tot by Vaatjie se strandhuis by die see waar die ander manne ons ingewag het. En daar het die manne gewys dat hulle net so handig in die kombuis en voor kosmaakvure is soos in die kelder.

 

Namibiese oesters en sauvignon blanc is gevolg deur perlemoen en ‘n verskeidenheid wittes. Toe volg vars galjoen en nog wittes. En asof dekadensie g’n einde het nie, word ontbeende Springbokboud (nee, gelukkig nie Luke s’n nie!) met shiraz aangebied, gevolg deur halfgaar beesfillet en nog shiraz, en terwyl ons bid vir nog pens, verskyn die bord met tjops en wors! En nog heerlike rooies!

 

Daar was ook nagereg gewees, maar teen daai tyd was ek teen die planke en het ek geweet dat daar geen manier was dat ek daai middag nog sou terug ry huistoe nie. Nee wat, môre is nog ‘n dag, het ek gereken, en ‘n mens is mos maar net een keer jonk!

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram