Die sterre wink weer eens vir Anthonij Rupert Wyne!

Anthonij Rupert Wyne naby Franschhoek het twee vyfstergraderings ontvang vir wyne in die landgoed se veelbekroonde portefeulje. Die Anthonij Rupert Cabernet Franc 2013 en die Cape of Good Hope Laing Groendruif 2016 het dié eer te beurt geval in die jongste uitgawe van die gesaghebbende en internasionaal erkende Platter’s by Diners Club South African Wine Guide 2020 wat later die maand op die rakke verskyn.

Die Anthonij Rupert Cabernet Franc 2013 (bo), waarvan vroeër oesjare ook lof toegeswaai is, se druiwe kom uit wingerde wat op spesifieke persele geplant is. Die wynmaker, Dawie Botha, beskryf hierdie keldertrots as ’n wyn wat oorloop met aromas van vrugtekoek, cassis en speserye, met blomme wat in die agtergrond wink. In die mond is daar ’n kaleidoskoop van bessiegeure  met lewendige speserye en sweempies potloodskaafsels. Die duidelike ruggraat wat deur die eikehout verskaf word, bied puik ondersteuning aan die vrugtegeure en dra by tot die wyn se elegansie en verfynde nasmaak.

Hierdie is die ideale wyn vir die ernstige versamelaar en kos R600 per bottel op die plaas of via die landgoed se aanlynwinkel.

Die Cape of Good Hope Laing Groendruif 2016 (regs) is deel van die bekende Old Vine-inisiatief. Die druiwe vir dié Semillon kom van die plaas Trekpoort van Henk Laing wat geleë is tussen Lambertsbaai en Clanwilliam. Die wingerd lê teen die hange van die Skurfberg wat op die Atlantiese Oseaan kyk. Volgens die wynmaker, Mark van Buuren, is hierdie die ideale wyn om regdeur die jaar te geniet met sy aromas van steenvrugte en sweempies heuning en lanolien. Hierdie getekstureerde wyn bied ’n pragtige balans tussen steenvrugte en helder en lewendige suurlemoenskil wat eindig in ’n vars, vuursteenagtige nasmaak. Sy vars en aanloklike suur word puik gebalanseer deur ’n gestruktureerde volrondheid, die gevolg van die subtiele gebruik van eikehout. Die wyn se geure werk in harmonie om ’n lang, ryk einde te bewerkstellig.

Die Cape of Good Hope Laing Groendruif 2016 kos R120 per bottel in die landgoed se proelokaal en via die aanlynwinkel.

Vir meer inligting oor hierdie en ander wyne in die Anthonij Rupert Wyne-portefeulje, besoek www.rupertwines.com.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>