Die Stanford-wynroete: Ontdek die area se baie stories … en kom skryf jou eie!

Terwyl die meeste mense al van wynstreke soos Stellenbosch, Paarl, Wellington en Franschhoek gehoor het, is daar soveel ander wyngebiede wat versteekte juwele het (soms reg onder mens se neus!) waarvan min mense bewus is. Hierdie minder bekende wynroetes word aanbeveel vir mense met ’n avontuurlus, mense wat moeg is vir die bekende en alledaagse, mense wat na unieke, dikwels meer landelike ervarings soek vol kleurvolle karakters en baie stories … en veel, veel meer.

Vat ‘n rustige bootvaart op die Kleinrivier of pak die mond met jou kano of kajak.

Een so ’n area is die Stanford-wynroete, ’n kompakte wynproduserende gebied rondom die dorpie Stanford, geleë halfpad tussen Hermanus en Gansbaai.

Stanford is ’n pragtig gerestoureerde Victoriaanse dorpie met ’n ryk geskiedenis wat baie meer bied as wat mens met die eerste oogopslag besef. Drentel rustig deur die dorpie en besoek die vele kunsgallerye, winkeltjies en eetplekke, of vat ’n bootvaart op die Kleinrivier om voëls te besigtig, of sommer net te ontspan, verkieslik met ’n glasie of drie wyn uit een van die plaaslike kelders.

Net so terloops, hoewel die Kleinrivier sowat 80 km lank is, is sy begin en einde slegs 5 km uitmekaar soos die kraai vlieg, glo die kortste afstand tussen ’n rivier se oorsprong en sy monding ter wêreld! En die Kleinriviersvlei is sowat 10 km lank en 2 km wyd op sy wydste punt.

Koel af na die tyd met ‘n yskoue roomys!

Maar terug na kos, wyn en al die ander dinge wat die lewe die moeite werd maak. ’n Onlangse besoek aan hierdie wynroete het my weer eens laat besef hoe ons dikwels deur die lewe jaag (en deur landskappe) sonder om raak te sien en te waardeer dit wat dikwels reg onder die neus is.

Die wynroete is in ’n soort vallei tussen die Kleinrivierberge en die see geleë en het net nege lede, van klein, byna garagiste-wynmakers tot veel groter wynmakerye.

Chris besig om etikette met die hand op sy wynbottels te sit.

Ons besoek het op ’n hoë noot afgeskop by Welgesind waar die vriendelike en gasvrye Chris en Amanda de Wit minder as ’n dekade gelede kom nes skop het na byna ’n leeftyd in die noorde. Kort na die kennismaking, en terwyl ons so op die stoep gestaan en oor die sowat 2 hektaar wingerd en damme gestaar het, het ons besef ons paaie het eintlik dekades gelede al gekruis toe Chris Nissan SA se motorsportbestuurder was en ek ’n jongerige en jukkerige motorjoernalis.

Chris-hulle se moderne huis is bo-op sy klein en intieme kelder en proekamer gebou, en dis in laasgenoemde dat ons wyn geproe het voordat ons die gesprek oor wyn en motorsport na die etenstafel geneem het. En hier het ek weer eens besef agter elke bottel wyn se storie is daar nóg ’n storie, dikwels baie interessanter as die wyn s’n.  En Chris se storie – van motors en trokke tot wyn – is baie interessant en inspirerend.

Dis altyd ‘n groot voorreg om saam met ‘n wynmaker uit die vat te proe en so ‘n voorsmaak te kry van wat om te verwag!

Net so terloops, Chris beweer hy weet eintlik niks van wyn maak nie, maar sy wyne vertel ’n heel ander storie!

“Ek het in 2011 1½ hektaar shiraz geplant nadat Vinpro vir my die grond ontleed en ’n spesifike onderstok en kloon voorgestel het,” het hy vertel. “Ons het met behulp van ’n konsultant die eerste wyn in 2013 gemaak. In 2015 het ons eers goed op dreef gekom en ’n volwaardige

Kunswerke … in ‘n bottel! Welgesind se huidige twee wyne is maar net die begin!

Shiraz, asook ’n rosé van die shiraz, gemaak, en dit is wat ons tans hier op Welgesind produseer. Ons gebruik net ons eie druiwe en alles word in die kelder gemaak met ons eie toerusting.”

In 2017 het hy ’n klein blok malbec geplant, “net so 700 stokke”, en van volgende jaar af sal hy begin om ’n bietjie wyn daarvan te maak.

Vir ’n persoonlike en intieme wynproe, en lekker gesels, maak gerus ’n afspraak deur Chris by chris@multi-loads.co.za of 082 572 5856/082 536 0062 te kontak.

‘n Blik op die Kleinrivierberg en die Kleinrivier se mond vanuit die wingerde op Springfontein.

Van Welgesind is ons deur Stanford tot by Springfontein waar die dinamiese duo van Tariro Masayiti en Hildegard Witbooi die septer namens die eienaar, dr. Johst Weber, swaai. Hierdie Duitse myn-ingenieur het die stuk grond in 1995 saam met ’n groep vriende aangeskaf. Die eerste wingerdstokke is in 1998 geplant en die eerste wyn het in 2005 die lig gesien.

Lekker kos, lekker wyn en lekker geselskap is 3 van die vernaamste bestanddele vir ‘n lekker lewe! Hier geniet jors troelie, Sharon, Hildegard, Chris, Amanda en Tariro daai lekker lewe in een van Springfontein se twee eetplekke.

Tariro het verduidelik dat die klem op Springfontein op die twee ikoniese kultivars val wat so nou met Suid-Afrika geassosieer word, naamlik pinotage en chenin blanc. Dan is daar natuurlik ook “old faithfuls” soos merlot, cabernet sauvignon en chardonnay, terwyl kleiner aanplantings van petit verdot, semillon en sauvignon blanc ook voorkom.

Maar ek móét net eenvoudig by die wyne uitkom. Daar is vyf wynreekse – Ulumbaza, Terroir Selection, Daredevils’ Drums (met name soos Skins Agleam, Juices Untamed en Bunches Unbroken wat mens uitlok om hulle te proe), Single Vineyard en Limestone Rocks. En dis laasgenoemde wat my op ’n nostalgiese

As daai name jou hart nie vinniger en warmer laat klop nie, is jy te jonk om te verstaan! En die inhoud doen dieselfde aan die smaakkliere!

musiekreis terug na my jeug geneem het (en my ouderdom verklap!) met name soos Whole Lotta Love (Led Zeppelin, 1969), Dark Side of the Moon (Pink Floyd, 1973) en Child in Time (Deep Purple, 1970). Whole Lotta Love is ’n rooi Kaapse versnit, Dark Side of the Moon ’n wit Kaapse versnit en Child in Time ’n versnit van petit verdot en pinotage. Dan’s daar ook nog Gadda da Vida (Iron Butterfly, 1968) waar pinotage met petit verdot versny is.

Springfontein Eats with Chef Jurgen Schneider in Stanford, Western Cape, South Africa in September 2013 just before the restaurant opened. Photography by Clare Louise Thomas of Image Incubator.

Springfontein is egter veel meer as puik wyn. Daar’s ook eet- en blyplek wat dit ’n puik bestemming maak vanwaar om die area te verken.

Vir meer inligting, kontak Hildegard by 028 341 0651 of hildegard.witbooi@springfontein.co.za, of besoek www.springfontein.co.za.

Na ’n smaaklike middagete en gepaardgaande wyn is ons na Misty Mountains, die eerste wynplaas op die roete as mens van Hermanus se kant af kom.

Misty Mountains se interessante kroeg/proelokaal is reg langs die eetplek.

Misty Mountains lê aan die voet van die Kleinrivierberge en het sy naam te danke aan die oggendmis wat oor die berge neerdaal. Die plaas behoort aan ’n sakeman uit die noorde en het sowat 16 hektaar onder wingerd. Sauvignon blanc maak twee-derdes van die aanplantings uit en shiraz die res. Dan’s daar ook ’n klein blokkie semillon en ’n klein blokkie mourvèdre.

Onder die Misty Mountains-handelsmerk word daar tans ’n Sauvignon Blanc, ’n Shiraz, ’n wit versnit van semillon en sauvignon blanc, en ’n rosé van mourvèdre gemaak. Dan’s daar ook ’n MCC van chardonnay en pinot noir waarvan die druiwe aangekoop word.

Net die regte plek om te ontspan met iets smaakliks in sowel die bord as die glas!

Die lekker eindig egter nie daar nie. Daar is ook ’n reeks unieke jenewers, handgemaakte bier (oftewel craft beer) en siders.

Lekker kos, lekker wyn en lekker verblyf, alles op Misty Mountains.

Maar dis het einde nog niet! Reg langs die proelokaal met sy interessante dekor is ’n gemaklike, pretensielose eetplek met rustieksteenmure wat mens uitnooi om ’n pizza of ’n hamburger of iets soortgelyks van die swartbord te bestel en dit rustig en ontspanne met een van die Misty Mountains-wyne te geniet. En dan’s daar ook vier selfsorg-kothuisies.

Gaan loer by www.mistymountains.co.za vir meer inligting of skakel 082 973 5943.

Die ruim en gerieflike opstal was ons tuiste vir twee nagte. Dit kan glo 11 mense huisves.

Ons eerste dag in dié wynstreek het op Stanford Hills geëindig waar die ruim, gerieflike plaashuis vir twee nagte ons tuiste sou wees. Nadat ons afgepak het, het ek saam met die wynmaker, Mark Stephens, ’n paar van die landgoed se wyne in die restaurant geproe. Hulle bied ook daagliks wynproeë aan in die proekamer.

Inheemse blomme speel ‘n groot rol op Stanford Hills.

Van sauvignon blanc en chardonnay tot shiraz en pinotage is mildelik geproe, met rosé’s van shiraz en pinotage en ’n Kaapse versnit tussenin. Daar word ook blomme soos proteas en speldekussings op die plaas verbou en verkoop, en die blomme-tema word op die pragtige en opvallende etikette van die Veldfire-wyne voortgesit. Peter Kastner, die eienaar, vertel dat van Augustus tot November die plaas glo toe is onder dié kleurvolle blomme.

Stanford Hills se restaurant nooi mens uit om te ontspan en bied pragtige uitsigte.

Net so terloops, die kelder is geleë in een gedeelte van ’n ou vliegtuigloods.

Stanford Hills gaan egter oor veel meer as wyn, kos en blomme. Benewens die plaashuis, is daar ook twee opgeknapte arbeidshuisies en vyf “glamping”-tente om in te bly. En dan’s daar perdry, visvang of swem in die plaasdam en meer as genoeg grondpaaie vir stap en bergfietsry. En mens kan selfs gaan walvis kyk met ’n privaat vliegtuig wat van die plaas af bedryf word.

Vir meer inligting, kontak Stanford Hills op 028 341 0841 of besoek www.stanfordhills.co.za.

Die tweede dag het afgeskop met ’n besoek aan Panthera Africa, ’n sogenaamde big cat sanctuary waar die diere in groot kampe aangehou word. Al die luiperds, tiere en leeus is uit aanhouding gered en word hier beskerm.

Panthera Africa is net ’n paar kilometer buite Stanford geleë, langs die R326 na Caledon, en baie beslis ’n besoek werd. Die opvoedkundige toer is behartig deur ’n jong Amerikanertjie wat vrywilliglik hierdie werk doen en nie net baie kundig is nie, maar ook baie entoesiasties.

Vir navrae of om te bespreek, skakel 071 182 8368, of stuur ’n epos aan info@pantheraafrica.com. Vir meer inligting, besoek www.pantheraafrica.com.

Die mis hang laag in die Akkedisbergvallei.

Dit was weer tyd vir wyn (ek kon sweer ek het ’n hele paar vliegtuie oor die gebied hoor vlieg terwyl ons by Panthera Africa was!) en ons is verder die R326 af tot by Boschrivier Wines in die natuurskone Akkedisbergvallei, so 17 km van Stanford af. Dr. Theodore (Ficky) de Villiers is die derde geslag wat hier tussen die bloukraanvoëls en die reuk van fynbos wyn maak.

Boschrivier Wines, nóg een van die streek se boetiekwynmakerye, bestaan eintlik uit twee plase, Remhoogte waar die wingerde geleë is, asook die herehuis en wyn-en-koffiewinkel, en Boschkloof wat drie

Boschrivier se wyne maak ‘n besoek die moeite werd.

verskillende soorte verblyf aanbied.

Die eerste wingerdstokke is in 1998 op Boschrivier geplant, hoofsaaklik shiraz en cabernet sauvignon, en die eerste wyn, Boschrivier Shiraz, is in 2001 bekend gestel. Hoewel De Villiers hoofsaaklik op shiraz toespits, bestaan die plaas se wynreeks ook uit ’n Cabernet Sauvignon, ’n Sauvignon Banc en ’n Rosé.

Net so terloops, die Boschrivier verbind die Akkedisberg met die Kleinrivier wat deur albei plase loop.

Vir meer inligting, skakel 023 347 3313 of besoek www.boschrivierwines.co.za.

Die mis het gelig oor die Akkedisbergvallei en RAKA kan links gesien word.

’n Paar kilometer terug in die rigting van Stanford het die tuiste van RAKA op ons gewag. Die Dreyer-familie het die plaas Remhoogte in die Akkedisbergvallei in 1982 aangeskaf. RAKA is die handelsmerk en was ook die naam van Piet Dreyer, wat vir meer as drie dekades kommersieel vis gevang het in die suidelike oseaan, se vissersboot.

Lewende hawe is gevolg deur sitrus en uiteindelik, in 1999, het die Dreyers 10 hektaar cabernet sauvignon, merlot en shiraz aangeplant. Sedertdien is ’n paar hektaar druiwe elke jaar bygevoeg en vandag sluit die 68 hektaar wingerd ook pinotage, sangiovese, viognier, mourvèdre, petit verdot, cabernet franc, malbec en sauvignon blanc in.

RAKA het ‘n indrukwekkende reeks wyne wat enige wynliefhebber en -versamelaar breed sal laat glimlag.

Piet en Elna se tweede oudste seun, Josef, het sy landbougraad in 2006 aan die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch verwerf en is die wynmaker, terwyl die jongste seun, Pieter, die wingerdboukundige en plaasbestuurder is. Jorika, hul enigste dogter, is

Op RAKA is daar weer eens ‘n klip uit ‘n bos gesels en die een interessante storie op die ander het saam met die heerlike voggies gevloei. Om die tafel is jors troelie, Josef, Elna en Chris de Wit.

verantwoordelik vir bemarking en verkope. RAKA is dus ’n familie-onderneming in die volle sin van die woord!

Die plaas vorm deel van die Akkedisberg-bewaringsarea en is ryk aan natuurlike fynbos met ’n groot verskeidenheid proteas en ericas. Sommige van die spesies is endemies, soos die Erica Shannonea.

Saam met Josef en sy ma het ons 12 van die landgoed se 14 wyne geproe terwyl daar ’n klip uit ’n bos gesels is. En weer eens het ek besef, as jy in hierdie geweste by sy wynmense kom kuier, moet jy tyd aan jou kant hê want hulle is gasvry en vriendelik. Dis die platteland op sy beste!

Om meer te weet van RAKA en hul indrukwekkende wyne, skakel 028 341 0676 of stuur ’n epos aan info@rakawine.co.za, of besoek www.rakawine.co.za.

Die “paddaman van Stanford” is een van die streek se interessantste persoonlikhede.

Ons laaste besoek van die dag was by “die paddaman van Stanford” op Vaalvlei so 9 km noordoos van Stanford. Naas Terblanche het net twee tafelwyne, ’n Sauvignon Blanc en ’n Shiraz, en ’n gefortifiseerde wyn om te proe, maar hy is ’n besoek dubbel en dwars werd.

Die “paddaman van Stanford” se wyne.

Naas het sy bynaam te wyte aan die feit dat hy lank reeds navorsing oor paddas doen en ’n kenner op die gebied is. Oor ’n glasie of drie van eers sy Sauvignon Blanc en toe die Shiraz het hy ons op ’n video van paddas en hul geluide getrakteer in sy klein en intieme proekamer.

Vaalvlei het net sowat 3 hektaar onder wingerd, maar daar is ook twee kothuisies te huur, damme vir kunsvlieghengel (daar is glo reënboogforel, bruin forel en Mosambiekse tilapia wat wag om gevang te word!) en vele ander aktiwiteite.

Vir meer inligting, skakel 028 341 0170 of stuur ’n epos aan info@vaalvlei.co.za, of besoek www.vaalvlei.co.za.

Ons laaste dag in die wynstreek het afgeskop met ontbyt by Zesty Lemon op die Sir Robert Stanford-landgoed, nóg een met ’n lekker storie agter die storie. Die landgoed is geleë teen die suidelike helling van die Kleinrivierberg en het ’n baie interessante geskiedenis.

Baie kortliks, Kaptein Robert Stanford het in die Britse leër gedien. In die ouderdom van 32 het hy bedank

Sir Robert Stanford se wyne, gemaak om geniet te word!

en in die laat 1830s, vroeë 1840s met sy vrou, die dogter van ’n generaal, na die Kaap verhuis. Hy het later die plaas Kleine Riviers Vallei gekoop, en is nóg later tot kneg geslaan deur die Britse koningin.

Die plaas is later deur ene Phillipus de Bruyn aangeskaf nadat Sir Robert terug gekeer het Engeland toe. De Bruyn het die eerste erf van die dorpie wat later Stanford sou word op 30 September 1857 verkoop.

Maar laat ek terugkeer na wyn en ander lekker dinge. Ses wyne word onder die Sir Robert Stanford-etiket gemaak – ’n houtverouderde Chenin Blanc, ’n Sauvignon Blanc, ’n rooi versnit wat The Hansom genoem word, twee Pinot Noirs en ’n Shiraz.

Vir meer inligting, skakel 028 341 0441 of stuur ’n epos aan info@robertstanfordestate.co.za, of besoek www.robertstanfordestate.co.za.

Wyn en bier, jou keuse, maar vir hierdie wynliefhebber het die bier tweede viool gespeel!

Ons besoek van drie dae – heeltemal te kort om al die wynroete se juwele te ervaar – het einde se kant toe gestaan, maar ons laaste afspraak was vir ’n bierproe, keldertoer en middagete saam met wyne op Walker Bay Vineyards enkele kilometer van Stanford af.

En weer eens is daar heerlik gekuier, hierdie keer rondom wyn EN kos, en het die stories vryelik gevloei.

Die Walker Bay-landgoed het in 2003 ontstaan toe die eerste wyndruiwe aangeplant is. Vandag is dit ’n volwaardige wynprodusent met ’n reeks puik wyne en ’n restaurant met pragtige uitsigte. O ja, en die projek sluit die Birkenhead Brewery in waar ’n reeks sogenaamde craft-biere gemaak word.

Onder die Walker Bay-handelsmerk is daar ’n Cabernet Sauvignon, ’n Petit Verdot, ’n Pinot Noir en drie verskillende witwyne gemaak van sauvignon blanc-druiwe waarvan een se sap in vate gegis is.

Besoek www.walkerbayestate.com vir meer inligting, of kontak die landgoed op 028 341 0013

Waar om te bly

Die weelderige tente op Stanford Hills kyk uit oor ‘n dam en die vallei.

En so lyk die tente van naderby.

Die Stanford-wynroete bied ’n verskeidenheid verblyf-opsies, van eenvoudig en gerieflik tot weelderig.

Soos reeds genoem, bied Misty Mountains vier selfsorg-kothuisies. Twee van die pragtig gerestoureerde kothuisies kan twee mense elk huisves terwyl die ander twee vier kan vat. En twee van hulle het kaggels.

Stanford Hills bied die ruim plaashuis wat glo 11 mense kan huisves, glamping (oftewel “glamorous camping”) en die twee

Een van Vaalvlei se twee kothuisies waar mens kan uitspan en ontspan in die natuur.

opgeknapte arbeidshuisies, terwyl ’n wye keuse van verblyf op Springfontein wag. Daar’s die Riverside Cottage wat drie suites en ’n swembad bied, en die Fisherman’s Cottage en Milkwood Cottage wat elk twee mense kan huisves.

Dan is daar ook drie verblyf-opsies op Boschrivier Wines se Boschkloof-plaas en wag die Arum Lily- en Aloe-kothuisies op Vaalvlei.

Waar om te eet

Misty Mountains se eetplek bied ’n verskeidenheid ligte etes, en dan’s daar ook die Zesty Lemon op die Sir Robert Stanford-landgoed, die restaurant op Stanford Hills, twee eetplekke op Springfontein (waarvan een meer formeel is) en die een op die Walker Bay-landgoed. Daar is natuurlik ook eetplekke op Stanford self.

Wat om te doen

Wyntoere is een van die vele aktiwiteite wat in hierdie area wag. Waarvoor wag jy?

As jy moeg geproe en vol geëet is, is daar heelwat te doen wat die kalorieë kan help verdwyn. Soos reeds genoem, hier’s baie grondpaaie vir stapskoene en ysterperde. Vra maar net bietjie rond. Hopelik kry die roete iemand om so gou moontlik die wynmakerye te verbind met ’n lekker stap- en bergfietsroete. Soos reeds genoem, die area is nie so groot nie en daar’s genoeg steiltes, riviere, bosse en gelyktes om die fikses en adrenalienverslaafdes se oë te laat water. En die uitsigte is asemrowend!

Kom skryf jou eie storie in die Stanford-wynroete!

Dan’s daar varswaterhengel, perdry, voëlkyk, ’n kontreimark elke Saterdag op die dorp, ’n bootvaart op die Kleinrivier, die bierbrouery op Walker Bay, Die Stookhuis waar mens grappa kan koop, roei, swem en veel meer. Vra net, die wynroete se mense help graag.

En moenie van kaas, heuning, tuisgebakte beskuit, ingelegde vrugte en tuisgemaakte konfyt vergeet nie. Ons is met byna ’n jaar se voorraad daar weg want hand- en tuisgemaakte produkte is ALTYD beter en lekkerder as massagemaakte goed.

Ten slotte, die Stanford-wynroete het BAIE stories te vertel, maar bied ook aan besoekers die kans om hul eie stories hier te kom skryf. Gaan skryf gerus jou eie storie van kos, wyn en samesyn, en al die ander dinge wat la dolce vita verteenwoordig.

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>