Die wyn wat glo die oudste rooiwynversnit in Suid-Afrika is, vier vanjaar sy 80ste verjaardag. Chateau Libertas is in 1932 bekend gestel deur ’n Amerikaanse geneesheer, avonturier en voormalige “Texas Ranger” wat wyn begin maak het toe hy na Stellenbosch verhuis het. Die wyn is nog in elke jaar daarna gemaak.
Chateau, soos dit in die volksmond bekend staan, is só diep in die geskiedenis van só baie Suid-Afrikaners ingebed dat dit nou bykans die status van ’n ikoon geniet. In 1985 is ’n bottel van die 1940-oesjaar by ’n liefdadigheidsveiling vir R20 000 verkoop.
Al was daardie gebaar op publisiteit gemik, toon dit nogtans die agting wat daar vir die wyn bestaan. By verlede jaar se Nederburg-veiling is drie bottels van die 1961-oesjaar vir R20 000 verkoop, of R6 666 per bottel. ’n Kas van ses bottels van die 1965-oesjaar het R14 000 gehaal, en ’n kas van ses van die 1967-oesjaar R8 800.
Chateau Libertas het sy oorsprong daaraan te danke dat dr. William Charles Winshaw ’n wyn wou hê wat hy saam met kos kon geniet. As geneesheer het hy gereken wyn is goed vir die spysvertering en deel van ’n gesonde lewenswyse. In die jare tussen die twee Wêreldoorloë was die wynkeuse in die plaaslike mark maar beperk, en die meeste dáárvan was soet en gefortifiseer. Dit het hom aangespoor om self ’n smaaklike rooiwynversnit met ’n bietjie hout vir Suid-Afrikaners te skep.
Wie weet of dit sy eie spysvertering gehelp of sy gesondheid beïnvloed het, maar ons weet wel hy het op 92 nog gewerk, en was met sy afsterwe 96 jaar oud.
Winshaw is in 1871 gebore en het op 12-jarige leeftyd van sy huis in Kentucky in die VSA weggeloop. Hy het graag vertel dat hy saam met ’n ou landloper in ’n kano op die Tennessee-rivier suid gevaar het. Hy het talle avonture beleef, Buffalo Bill (eintlik kol. William Cody) ontmoet, en op 22 ’n “Texas Ranger” geword. Later het hy hom aan die Tulane-universiteit in New Orleans in die geneeskunde bekwaam waarna hy hom in Nieu-Mexiko gaan vestig het. Dit was die tyd van die Anglo-Boere-oorlog. In Nieu-Mexiko het hy iemand ontmoet wat vir die Britse magte in Suid-Afrika muile opgekoop het. Hy’t gereken dis hoog tyd dat hy iets van die wêreld sien en het die 4 000 muile op hul reis na Kaapstad vergesel. Na hy hier aan wal gestap en die muile afgelewer het, het hy hom by die Britse magte aangesluit. Dit was die jaar 1900.
Hy het verlief geraak op die land en besluit om hom hier te vestig en as geneesheer te praktiseer. Na ? paar jaar het hy in sy kombuis begin eksperimenteer om wyn te maak. Kort voor lank het hy ’n groep gereelde klante voorsien, en dit was die aansporing om die Stellenbosch Grape Juice Works in 1909 op te rig. Hy het aanvanklik baie goed gevaar, maar die oormaat wyn wat in die moeilike jare na die Eerste Wêreldoorlog in die mark beskikbaar was, het in 1921 tot die ondergang van sy besigheid gelei.
Ná ’n blaaskans het hy onverskrokke ’n nuwe onderneming begin. Hy het die Stellenbosse plaas Oude Libertas gekoop, en Stellenbosch Farmers’ Winery (SFW) in 1925 daarop gevestig. Dié onderneming het veel blywender geblyk en talle Suid-Afrikaanse wyne wat nog steeds alom bekend is, het hul oorsprong aan dié maatskappy te danke. Chateau Libertas het een van sy gunstelinge gebly. SFW het in 2000 met Distillers Corporation saamgesmelt om Distell te skep.
Winshaw was daarvan oortuig dat as hy iets in ’n toeganklike styl kon skep wat goed gemaak is en mense kon bekostig, selfs diegene wat nie met wyn vertroud is nie, só ’n aanbod moeilik weerstaan kon word. Daar was dan ook gou 80 000 geesdriftige volgelinge wat sy versnit teen een sjieling per bottel gekoop het.
Bo: Die advertensie in The Wine Book of South Africa wat in 1936 verskyn het.
’n Advertensie in The Wine Book of South Africa (1936) het lesers “wat per spoor of motor reis” aangespoor om sy spesiale versnit met hul maaltye “te laat bedien”. Sy raad aan lesers was om “by die bestuur te kla” as dit nie beskikbaar was nie. Hy het hulle ook verseker die wyn sal hulle nie “hoenderkop maak nie, maar die spysvertering net mooi reg stimuleer, soos reisigers nodig het”.
Chateau Libertas was só ’n goeie ambassadeur vir Suid-Afrika dat dit by die amptelike staatsbanket bedien is toe die Britse Koningsgesin die land in 1947 besoek het. Dit is ook bedien toe burggraaf Montgomery van Alamein in 1954 in die land was, en weer in 1960 toe die Britse premier, Harold Macmillan (van “Wind van Verandering”-faam), die land besoek het.
Chateau Libertas is aanvanklik as ’n elegante versnit met cabernet sauvignon as basis en met houtveroudering bedink, en word steeds met dieselfde doel voor oë gemaak. Dit het deesdae egter ’n meer bessievrugkarakter om vandag se smaakvoorkeure beter te pas. Diegene wat by die maak van die versnit betrokke was, kan getuig dat daar nooit ’n vaste “resep” was nie. Die enigste maatstaf was om aan die wyn se oorspronklike bedoeling getrou te bly: om mense se smaakbehoeftes met ’n toeganklike, goed gebalanseerde samevoeging van vrug te bevredig; ook een met die nodige struktuur om goed te kan verouder. Cinsaut het tot die eeuwending deel van die versnit uitgemaak, maar omdat daar deesdae só min van dié druifsoort oor is, is dit nie meer die geval nie.
Die huidige versnit bevat steeds cabernet sauvignon, maar ook shiraz, merlot, ruby cabernet en selfs petit verdot.
Jackie Olivier, die bemarkingswoordvoerder vir die handelsmerk, het gesê “almal is gaande oor die gulhartige ontploffing sappige ryp vrugte gerugsteun deur ’n tikkie hout. Dis glad en heerlik, en pas uitmuntend by talle soorte kos. Probeer dit met gerookte vleis, smaaklike pasta, pizza, roostergeregte en bredie.”
Die wyn word landwyd verkoop, en die kleinhandelprys is sowat R34 per bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast