Die Nuy-vallei bied ’n skatkis vol verrassings

Hoeveel keer het jy al die R62 tussen Worcester en Robertson aangepak en verby die afdraai na die Nuy-vallei gery sonder om twee keer te dink? Dis soms beter om nie te weet wat jy nie weet nie, né. Maar dit is jou verlies.

Ons – dis nou ek, vroulief en haar neef en sy vrou uit Edinburgh in Skotland – het een naweek in Februarie besluit om “the road less travelled” te vat en vir ’n naweek by Penhill Toontjiesrivier te gaan bly en die vallei te verken. Nie dat ek die vallei nie reeds ken nie. Ek is darem al jare lank versot op sy natuurskoon, sy vele aanbiedings wat betref wyn, kos, verblyf en aktiwiteite en sy regte, egte plattelandse gasvryheid. Maar selfs ek was nie voorbereid op sy “onontdekte” juwele nie.

Penhill Toontjiesrivier is sterk aanbeveel deur die Worcester-wynroete se mense. Dis ’n splinternuwe, luukse-verblyfplek aan die voet van die Langeberg so ’n paar kilometer anderkant die Nuy-wynmakery en bestaan uit ’n geskiedkundige herehuis uit die 1850s en vier tweekamer-, en suite-kothuise.  Daar is ook ’n tennisbaan, swembaddens en ’n dam, ’n boule-baan, kroketveld en pragtige tuine, terwyl jy jouself goed fiks kan hou op die stap- en bergfietsroetes.

Ons het in The Fruit Barn gebly wat ten volle toegerus is en oor sy eie stoep met Weber-braaier en dek met swembad beskik, asook ’n ruim grasperk en pragtige tuin.  Ons eerste aand het ons op daai einste stoep gebraai terwyl ons heerlik geteug het aan ’n wyntjie uit die vallei wat almal gaande gehad het. Dit was ’n 2014- Sauvignon Blanc van Conradie Family Vineyards, een van die wynprodusente in die vallei.

Vir meer inligting, skakel 023 342 0908 of stuur ’n epos aan info@penhill.co.za, of besoek www.penhill.co.za.

Die Saterdagoggend na brekvis het ons ontdekkingsreis begin met ’n besoek aan die Nuy-wynmakery waar Christo Pienaar sorg vir tafelwyn en muskadel wat jou smaakkliere in vervoering bring. Hoewel dit ’n koöperatiewe kelder is, word drie present van die kelder se totale produksie van 10 000 ton wyn onder die Nuy-etiket gebottel. En wanneer jy daai wyn proe, weet jy sommer dis ook die heel beste drie present!

Ons het begin met Nuy se 2014- Chenin Blanc, wat gevolg is deur die 2014- gehoute Chardonnay en die Rouge de Nuy, en toe het ons oorgeskakel na dit waarvoor hierdie wynmakery al talle toekennings ontvang het, muskadel. ’n Witte sowel as ’n rooie is geproe, druppel vir druppel,  en terwyl die McNairns na die tyd tafelwyn aangeskaf het (wit sowel as rooi), het ek myself bederf met ’n bottel van Nuy se rooi Muscadel 50 Vintages.  Ek het nou maar net ’n swakte vir ’n dekadent lekker dessertwyn! Ons gebruik dit in die koeler maande ook as ’n aperitif.

Vir meer inligting oor Nuy en sy wynreekse, besoek www.nuywinery.co.za.


Die eienaars se skoonseun (tweede van links) het die wynproe in die kelder op Leipzig aangebied. Links is jors troelie, met Ian en Jenni McNairn regs.

Hiervandaan is ons ’n entjie verder die vallei op na Leipzig (www.leipzigcountryhouse.co.za) waar ek en vroulief ook al ’n paar keer in absolute gerief oorgebly het. Hier is nie net heerlike blyplek en plek vir konferensies en troues nie, maar in 2013 is wynmaak na ’n hele paar dekades weer hervat met die amptelike opening van die nuwe kelder waar mens ook sommer ligte etes kan geniet.

Ons het 8 wyne geproe, maar die White Leipzig van 2014, ’n versnit van chardonnay, sauvignon blanc en viognier, het vir my uitgestaan bo die res, terwyl die Masterblend 2013, ‘n versnyding van pinotage, cabernet sauvignon en merlot, die opmerking “a real multi-purpose wine” (oftewel ‘n MPW!) by die Ian McNairn ontlok het. ’n Baie gepaste beskrywing.

Voor ek vergeet, hier by Conradie Famly Vineyards is ook eet- (lekker, heilsame kontreikos) en verblyfplek. Vir meer inligting, besoek die webblad hierbo of kontak hulle by 023 342 7025 of wine@conradievineyards.co.za.


By Conradie Family Vineyards kan jy ook sommer daar langs die rivier gaan ontspan met jou wyn en vriende.

Ons laaste wynproe vir die dag was ondertoe in die vallei by Conradie Family Vineyards (www.conradie-vineyards.co.za) waar ons net twee van CP-hulle se ses wyne geproe het, die 2014- Sauvignon Blanc wat die vorige aand ons tonge so betower het en hul 2012- Pinotage. Die beste klompliment vir enige wynmaker is seker die feit dat mense onmiddellik nadat hulle sy wyne geproe het daarvan koop! By die kissies vol!

Dit was tyd vir middagete en ons het die paar honder meter verder af in die vallei by Willow Creek gaan stop vir ’n ligte middagete gevolg deur ’n olyfproe. Willow Creek is een van die bekendste name in die olyfbedryf en na ’n ontspanne ete (met ’n bottel van Nuy se lekker Chenin Blanc) is ons tonge verder getrakteer op verskillende olywe en olyfolies, en weer eens kon ons nie die versoeking weerstaan nie en is ons daar weg met genoeg olyfprodukte om ons ’n tyd lank tevrede te hou, die McNairns ook want mens kry glo nie sulke lekker olyfprodukte in Skotland nie.


Na ‘n heerlike, ligte middagete by Willow Creek is daar eers olywe en olyfolie geproe dat die biesies bewe voordat die plastiek nader gesleep is.

Willow Creek is beslis ’n besoek werd, al is dit net om jou te verlustig aan al hul olyfprodukte. Besoek www.willowcreek.co.za vir meer inligting, of kontak hulle by 023 342 5793 of info@willowcreek.co.za.

Die res van die middag het ons langs ons privaat swembad by Penhill deurgebring, die aand het ons by Leipzig gaan eet en die volgende oggend het ons lekker ver gaan stap op die plaas in ’n desperate poging om van oortollige vet ontslae te raak! Dis maar ’n verlore stryd met soveel lekker kos en wyn binne reikafstand, maar ons baklei onverpoos voort!

Ons sou ons naweek by Saggy Stone afsluit, ’n paar kilometer verder af op die grondpad verby Penhill. En hier het nog ’n verrassing op ons gewag.


Eers is Saggy Stone se handgemaakte biere geproe en beoordeel, en toe is daar weg geval aan nog ‘n heerlike ete. Hier pronk jors troelie en sy prinses vir die kamera!

Saggy Stone is soos die spreekwoordelike oasis in die woestyn, in hierdie geval in die Klein Karoo. Bome en grasperke omring die eetplekkie, en met kinders wat heerlik baljaar en ouers wat rustig kuier aan tafels onder sonsambrele, het ons ’n tafel op die stoep gevind en onsself tuis gemaak. Eers is die mikro-brouery se vier biere geproe, en toe is daar op middagete besluit … met nog ’n bottel van daai Conradie Sauvignon Blanc.

Versadig en verkwik is ons later die middag daar weg, maar die herrinneringe aan ’n heerlike naweek vol verrassings sal ons almal seker nog lank bybly. Tjorts op die Nuy-vallei!

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>