Die Nagtegaals sing oor Swartland se wyne!

Date posted:
June 26, 2009

WC Fields het eendag gesê dat ‘n vrou hom na drank gedryf het en dat hy nooit eers die ordentlikheid gehad het om haar daarvoor te bedank nie!

 

Wel, as jy ‘n draai by Swartland Kelder gaan maak en van hul spoggerige wyne proe, sal jy beslis weet wie om te bedank! Maar ek loop myself nou vooruit.

 

Swartland Kelder (022-482-1134) buite Malmesbury het sowat 60 lede wie se wingerde ‘n area van sowat 3 200 hektaar dek. Die wingerde strek oor die rollende heuwels en op in die klowe in ‘n radius van 22 km rondom Malmesbury, en meer as 80% bestaan uit bosstokke wat maar so gemiddeld 7 ton per hektaar lewer.

 

Hierdie reuse-kelder verwerk jaarliks sowat 20 000 ton druiwe en as jy kyk na die ellelange lys toekennings wat die wyne wat hier met sorg en passie gemaak word al ingepalm het, weet jy hierdie mense doen iets reg. Nodeloos om te sê, ‘n hele paar voorbeelde van Andries Blake (keldermeester) en sy span se handewerk rus in my ou versamelinkie, wagtende op die dag en geleentheid dat hulle met liefde oopgemaak en met waardering geniet gaan word.

 

Kos en wyn is egter nie my enigste twee passies nie. Ek’s ook passievol oor my moedertaal en toe ek die kans kry om twee bekende Afrikaanse skrywers as Buite met Bacchus (Die Burger) se glansgaste saam Swartland Kelder toe te vat, het ek die geleentheid met albei hande aangegryp.

 

Dirk, Jackie en Reinet Nagtegaal het geen bekendstelling nodig nie. Dirk is ‘n regsman van formaat, en so ook ‘n skrywer, beskermheer van die kunste en vele ander goeie dinge. Kok & Skinker, die jongste bydrae uit sy pen, is ‘n kombuisbybel. G’n kombuis behoort sonder een te wees nie.

 

Links: Hier geniet (in die gewone volgorde) Dirk, Jackie, Chris Whelpton, Marinda Blake, Andries Blake en Jannie Vermeulen 'n ligte middagete saam met Swartland se nektar.

 

 

 

 

 

 

 

Jackie en Reinet is gesiene skrywers in eie reg. Hul jongste, gesamentlike poging, In limbo, lyk na ‘n wenner. Dit handel oor die delikate verhouding tussen 'n ma en dogter. Die ma verdryf haar tyd as lewensmentor saam met haar poedel en katelknaap terwyl die dogter 'n jong entrepreneur is wat haar winste gebruik en die land volrits om opbouende praatjies oor straatkinders te lewer. Die situasies waarin die twee beland, is tegelyk skreeusnaaks en hartverskeurend. 

 

Aangesien Reinet die betrokke dag besig was, het Jackie saam met haar pa gekom. Van die os op die jas, Dirk skat sy wynkennis so op ‘n beskeie 6 uit 10, terwyl Jackie haarself net ‘n 1 gee.

 

Ons het afgeskop met ‘n wynproe waar nege van Swartland Kelder se lang lys wyne geproe is, sewe rooies en twee wittes. Nie een van die wyne het swak gevaar nie (nie dat enigeen van ons dit verwag het nie!), maar die idelia 2005, ‘n rooi versnit, het al drie van ons teen die planke gehad. Jackie het hom ‘n 19 uit 20 gegee en “wonderlik sag” en “awesome” beskryf, terwyl Dirk hom ‘n punt minder gegee het (soos ek) en die idelia 2005 as “satynsag en vrugtig” en “lieflik kompleks” met ‘n “pragtige kleur” beskryf het.

 

Die Swartland Chenin Blanc 2008 het by sowel my as Jackie die beste onder die twee wittes gevaar, terwyl Dirk weer die Sauvignon Blanc 2008 verkies het.

 

Terloops, Swartland Kelder se omvattende wynreeks bied werklik ‘n voggie vir elke smaak, van die Swartland Lifestyle- en Swartland-reekse tot die Eagle Crest- en Indalo-reekse. En dan’s daar natuurlik ook idelia, as jy gelukkig genoeg is om van hierdie beperkte wyn in die hande te kan kry.

 

 

Regs: Met die Swartland wat in die agtergrond pronk en vol Hollanse waagmoed (!) spot die roos en die drie dorings met die lewe. Wys jou maar weer wat lekker kuier kan

regkry!

 

 

 

 

 

Na die proe is ons in fô-baai-fô’s in die Aprilskloof op vir middagete, Dirk, Jackie, Chris Whelpton (bemarkingsbestuurder) en ek saam met Jannie Vermeulen (besturende direkteur) en Andries en vroulief Marinda agterna in hul gemeganiseerde bobbejaan.

 

Met asemrowende uitsigte op die Swartland het ons middagete geniet, die vaste goedjies afgesluk met Swartland Kelder se nektar van die gode en gesels soos ou Bacchus dit toentertyd al beplan het, soos ou vrinne!

 

‘n Lekker samesyn moet eintlik nie tyd ken nie, maar omdat dit in die regte lewe nie so werk nie, is ons later weer terug teen die berg af (met beloftes dat daai klowe en berge en chalets beslis nog besoeke werd is) tot by die kelder vanwaar die drie van ons maar teësinnig huiswaarts gekeer het.

 

Het Zwarte Land, soos onse Jan dit destyds gedoop het, is vol verrassings as jy die moeite doen om bietjie van die gewone stuk teer af te dwaal, en met ‘n wyntjie, ‘n kossie en ‘n mooi meisie as geselskap, kan jy dalk net besluit om langer te bly as wat jy beplan het!

 

Terloops, die naam is afkomstig van die inheemse renosterbos wat die landskap sekere tye van die jaar swart laat lyk het.

 

Wynwiele:

Links: Wynmaker Sean Nieuwoudt poseer saam met Jackie en Dirk by die Renault Logan in die wingerde.

 

 

 

 

 

 

Vir die besoek aan die Swartland Kelder het Renault my hul nuwe Logan 1.6 geleen.

 

Nou kyk, as oud-motorjoernalis en steeds ‘n passievolle motorryer wat spoed graag met weelde en gerief kombineer in sy moutirkarre, was dit nogal ‘n aanpassing.

 

Sien, die Logan is ‘n intreevlakmotor en ek’s bederf met haastige, luuksemotors. Maar nadat ek aanvanklik gereken het ek en die Logan gaan mekaar nie vind nie, het ek hom gewoond geraak en besef dat hy eintlik baie goeie waarde vir geld bied. En dis uiteraard baie onregverdig om ‘n motor soos die Logan, wat baie meer tot jou verstand as jou hart spreek, te meet aan wiele wat jou hartsogtelik maak.

 

Die Renault Logan bied eintlik baie: kragstuur, lugversorging, ‘n gerieflike rit, goeie werkverrigting, en dan werk hy heel suinig met brandstof.

 

Ek sal beslis nooit een besit nie, maar mense wat ‘n sinvolle, moderne intreevlakmotor soek met voldoende ruimte vir ‘n gesin van vyf en ook heelwat bagasieplek, sal nie verkeerd gaan met hierdie Fransman nie.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram