Die kollig val op chenin blanc!

Suid-Afrika se chenin blanc maak wêreldwyd opslae! Plaaslike wyne van hierdie druifsoort is pas met groot welslae in Duitsland by ProWein, een van die wêreld se voorste handelskoue, aan besoekers bekend gestel. Daarbenewens is dit binnekort ook die kernfokus van ʼn internasionale wynkongres in Frankryk.

Hierdie getroue, veelsydige werkperd wat in ’n spoggerige skouperd omskep is, word elke jaar gevier op die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Challenge. Hierdie kompetisie gee jaarliks aan chenin blanc-aanhangers, wat met rasse skrede gegroei het oor die afgelope jare, die kans om na die jongste wyne van hierdie aspoestertjie-kultivar te kyk.

Inskrywings vir vanjaar se kompeisie word van 8 Julie af ingewag en hulle sal beoordeel word deur ʼn paneel ervare wynkenners.

Ken Forrester, een van die stigters en  voorsitter van die Chenin Blanc-vereniging, sê sedert die begin van die negentigerjare toe Suid-Afrikaanse wynmakers begin het om hierdie “saai, alledaagse” druifsoort te omskep in wyne wat kritiese aandag verdien, het chenin blanc se gewildheid onder alle wynliefhebbers dramaties toegeneem.

“Dit was verlede jaar die enigste wit druifsoort waarvan die uitvoere toegeneem het, in hierdie geval met 5%, ʼn prestasie wat in lyn is met ʼn langtermyn-tendens. Sedert die begin van die eeu het uitvoere feitlik sonder onderbreking toegeneem. Van 2010 tot 2018 het dit met 19% gegroei. In die plaaslike mark was die tendens dieselfde. Verlede jaar alleen het die totale volume met 45% gestyg.”

Forrester sê die keur van 60 chenin blanc-wyne wat vroeër vanjaar by ProWein geproe is, het ʼn groot indruk op afgevaardigdes gemaak. “Hulle het die geleentheid gehad om ernstige, komplekse wyne te proe gemaak van die druiwe van wingerdstokke wat 35 jaar en ouer is, en terselfdertyd kon hulle wyne proe  wat jeugdig, vars en vrugtig is, en wat op oortuigende wyse die beste van Suid-Afrika se nuwe, asook sy klassieke wynmaaktalent uitlig.”

Plaaslike chenin blanc-wyne sal binnekort weer in die kollig wees wanneer dit van 1 tot 3 Julie in Angers in Frankryk die spil is waarom alles draai in die eerste internasionale kongres wat volkome aan hierdie druifsoort toegewy is. Die kongres, getiteld “Chenin Blanc in ʼn Veranderende Wêreld”, bring byeen die twee grootste chenin-streke in die wêreld, Suid-Afrika en die Loire. Die fokus sal wees op groter kennis van die kultivar en verdere navorsing. Dit sal verder die klem laat val op chenin se uiteenlopende geskiedenis, terroir en benadering tot wingerdbou en wynmaak.

“Die kongres is ʼn kragtige gebaar van vertroue in chenin. Ons vertrou dit sal ʼn gereelde instelling word, met die volgende kongres in Suid-Afrika,” het Forrester gesê. Hy is een van ses sprekers op die kongres in Angers.

Dit is die sesde jaar dat die kompetisie gehou word. Inskrywings moet van 15 tot 18 Julie by Villiera buite Stellenbosch afgelewer word. Die wenners sal op 30 Augustus aangekondig word.

Gaan na www.chenin.co.za vir meer inligting of stuur ʼn epos na Ina Smith by cheninblancasso@gmail.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>