Die ‘kloof’ en die ‘heuwels’ is in goud getooi!

Date posted:
September 14, 2011

Du Toitskloof-Wyne het ’n drietal goue medaljes op vanjaar se Michelangelo International Wine Awards gewen vir sy 2011- Beaukett, 2010- Hanepoot Jerepigo en 2008- Chardonnay Viognier-versnit in sy Reserwereeks.

 

Die kompetisie, nou in sy 15de jaar, word beoordeel deur ’n paneel internasionale beoordelaars wat van die wêreld se voorste  wynkenners insluit. Volgens Shawn Thomson, die hoof-wynmaker, maak die betrokkenheid van hierdie deskundiges die toekennings net soveel meer betekenisvol.

 

“Ons maak graag daarop aanspraak dat ons buitengewone waarde vir geld bied. Deur met soveel welslae teen die beste in Suid-Afrika mee te ding, bewys ons dat hierdie stelling nie grootpratery is nie.

 

“Ons ligging in die Breëriviervallei is ideaal geskik vir die verbouing van gehaltedruiwe, ook danksy die nabyheid van die Du Toitskloofberge wat skaduwee van vroegmiddag in die somer bied. Dit, gekoppel met min reën in die somer, verseker dat die wingerde gesonde, geurvolle druiwe lewer.”

 

Die kelder, wat by die ingang tot die bekende Du Toitskloofpas met sy skouspelagtige natuurskoon geleë is, het vir hom ’n reputasie vir uitstekende gehalte teen hoogs mededingende pryse opgebou. Dit is in 1962 deur ses wynboere as ’n koöperasie gestig en het vandag 22 lede waarvan baie tweedegenerasie-afstammelinge van die stigters is.

 

Die Du Toitskloof Beaukett 2011 en Hanepoot Jerepigo 2010 is teen onderskeidelik sowat R27 en R43 in die kleinhandel beskikbaar. Die 2008- Chardonnay Viognier in die Reserwereeks is in beperkte hoeveelhede by die kelder beskikbaar teen R51 per bottel.

 

Links: Martin Moore, die charismatiese keldermeester van Durbanville Hills.

Nog ‘n kelder wat in goud getooi weg gestap het van Michelangelo is Durbanville Hills wat goue medaljes vir wyne in al drie sy produkreekse ontvang het. Durbanville Hills se 2011- Sauvignon Blanc, 2008- Rhinofields Merlot en 2008- Caapmans Cabernet Sauvignon Merlot-versnit is met goud vereer.

Die 2011 Durbanville Hills Merlot Rosé, 2009 Rhinofields Chardonnay en 2009 Rhinofields Outer Valley Sauvignon Blanc het silwer ontvang.

Die keldermeester, Martin Moore, sê hy is verheug oor die uitslae, veral omdat wyne in elk van die drie produkreekse bekroon is.

“Sedert ons eerste oesjaar in 1999 het ons ons produkreeks uitgebrei  om die reserwereeks – ons Rhinofields-wyne - en ’n wingerdspesifieke reeks wat slegs in uitsonderlike jare gemaak word, in te sluit. Die drie reekse gee uitdrukking aan die uiteenlopende terroirs van die gebied en het hul persoonlikhede deeglik en diep gewortel in die heuwels van Durbanville. Ons het die afgelope dekade daarin geslaag om merkwaardige wyne te maak wat werklik die unieke geurspektrum van hierdie manjifieke vallei se hange vasvang.”

Moore het gesê die kelder het die Rhinofields-wyne vernoem na die bedreigde, inheemse renosterveld om bewustheid van die moontlike uitwissing daarvan te verhoog. Die name van die wingerdspesifieke reeks - Caapmans, Biesjes Craal en Luipaardsberg –bring daarenteen hulde aan die vroeë wynboujare in hierdie gebied.

“Ons glo vas dat wyne wat toekennings wen, beskikbaar moet wees vir verbruikers om te geniet. En omdat ons voortdurend daarna streef om deurlopende gehalte en varsheid te verseker, kan hulle gerus wees in die wete dat die wyn wat hulle ’n paar maande gelede geproe het, presies dieselfde is as wat hulle nou drink.”

Durbanville Hills het onlangs ook die nasionale kategorietoekenning op vanjaar se Suid-Afrikaanse Terroir-wyntoekennings ontvang vir sy 2009- Biesjes Craal Sauvignon Blanc  (beskikbaar by die vinoteek by info@Vinoteque.co.za of 021-809-8280) en die 2009 Merlot Rosé 2011 wat landwyd te koop is.

 

Die 2011- Durbanville Hills Sauvignon Blanc is oral beskikbaar teen sowat R50 per bottel, terwyl die 2008- Rhinofields Merlot en die 2008- Caapmans Cabernet Sauvignon Merlot hoofsaaklik  te koop is by spesialiteitswynwinkels, van die vinoteek by info@Vinoteque.co.za, of by die kelder self.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram