Die Jonkershoekvallei bied die beste van beide wêrelde… in een dag!

Vriende uit Kanada wat ons in 2015 in Portugal ontmoet het, het na vele oorweging besluit om, soos hulle dit stel, hul lewens in hul eie hande te neem en Suid-Afrika te besoek. Hulle sal drie dae in Kaapstad wees en wil graag een dag in die wynlande deurbring, verkieslik Stellenbosch.

Op Lanzerac wag eeue se se geskiedenis … en die luukse-lewe.

Die Stellenbosch-wynroete dek egter ’n allemintige groot area en die Kanadese wil ’n rustige wyntoer onderneem, met middagete en “afternoon tea”. En hulle wil ’n keur van Suid-Afrika se beste wyne proe.

Mrs. English, die Pionier en Le General “verwelkom” mens by die kelder.

Om hulle ’n goeie voorsmaak te gee van wat die Kaapse wynlande in die algemeen, en Stellenboch in die besonder, bied, het ons toe besluit op die Jonkershoekvallei. ’n Kronkelende pad in die vallei op vat mens van die ikoniese en geskiedkundige Lanzerac aan die buitewyke van Stellenbosch, verby die boetiekwynmakery Rudera tot by Stark-Condé. En al drie lê slegs ’n paar kilometer uit mekaar, ideaal vir ’n rustige besoek.

Maar eers moes ons darem ’n “recce” doen! Ons “recce” het om elfuur die oggend met ’n keldertoer op Lanzerac begin. Die toer het sowat ’n uur geneem en is beslis die moeite werd. Dit is opvoedkundig én vermaaklik, met die regte toerleier.

Proe elegante wyne in ‘n elegante omgewing.

Maar so bietjie meer oor Lanzerac. Hierdie wynplaas, wat vandag ook ’n luukse-hotel en spa insluit, dateer terug na 1692. Dit bied nie net bekroonde wyne nie, maar ook puik verblyf, nie minder nie as 5 restaurante – van ligte etes tot fynproewerkos – en ’n spa om die kersie op die koek van die luukse-lewe te plaas.

Wat sy wyne betref, Lanzerac is die tuiste van die wêreld se eerste gebottelde pinotage.  Die landgoed se wynportefeulje bestaan uit drie reekse, naamlik Premium, Heritage en Keldermeester.

Die Premium-reeks bestaan uit bekroonde enkelkultivarwyne wat nommerpas vir elke smaak en elke

‘n Keur van die wyne wat jou tong op ‘n opwindende wynreis sal neem.

geleentheid is. Dit behels ’n Pinotage Rosé, Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Chardonnay, Merlot, Cabernet Sauvignon, Pinotage en Syrah.

Vier vlagskipwyne wat in beperkte volumes gemaak word, maak die Heritage-reeks uit. Hulle is die MCC Blanc de Blancs, Mrs English (’n chardonnay), Le Général (’n rooi Bordeaux-versnit) en die Pionier Pinotage.

Lanzerac se keldermeester, Wynand Lategan, het ’n paar jaar gelede die Keldermeester-versameling begin. Dit is wyne wat ook in beperkte volumes gemaak word en bestaan uit ’n Sauvignon Blanc/Semillon-versnit, ’n Pinot Blanc en ’n Malbec.

Vir meer inligting, skakel 021 887 1132 of stuur ’n epos aan info@lanzerac.co.za, of besoek www.lanzerac.co.za.

In hierdie gebou word Rudera se uitmuntende wyne gemaak en geproe.

Ry ’n kilometer of twee in die teerpad op terwyl jy jou verwonder aan die Hottentots-Holland-berge wat hierdie natuurskone vallei omvou en jy vind Rudera se bordjie aan jou linkerkant. Hier moet mens ’n afspraak maak want Rudera Wines is ’n boetiekwynmakery in die volle sin van die woord. Riana Hall, met ’n doktorsgraad in die sielkunde, is nie net die eienaar nie, maar ook die wynmaker, en ’n wynproe met hierdie gulhartige en vriendelike vrou is iets besonders.

Wat Rudera Wines ekstra spesiaal en besonders maak, is die feit dat Riana die keldergeriewe huur en dat sy haar druiwe kry uit noukeurig uitgesoekte wingerde elders. Ek’s nie seker of dit in die wingerde self is of wanneer die druiwe in die kelder aankom nie, maar iewers pas sy sielkunde op daai korrels toe want die wyne wat hulle voortbring, met haar bloed en sweet natuurlik, is uitsonderlik.

Riana spesialiseer in wyne gemaak van chenin blanc-, syrah- en cabernet sauvignon-druiwe. Sy bied enkelkultivar-wyne sowel as versnitte aan, en daar’s ook ietsie dekadents soet! Die “outydse” kelder is smaakvol gerestoureer en straal ouwêreldse sjarme uit, en dis hier waar jy proe.

Jors troelie en Riana besig om ‘n klip uit ‘n bos te gesels terwyl daar lustig aan haar puik wyne geteug word. Jammer alle goeie dinge moet tot ‘n einde kom!

“Die druiwe wat ek gebruik, kom uit wingerde wat in verskillende grondsoorte geplant is en op verskillende plekke om die beste uit elke kultivar na vore te bring,” verduidelik sy. “Dit lei tot wyne met groot kompleksiteit wat elkeen ’n kenmerkende karakter ten toon stel, asook die plek van oorsprong.”

Riana se wyn praat vir hulle self … en hulle is vol lof vir die wynmaker!

Sy volg ’n “streng klassieke benadering” in die maak van Rudera se wyne met noukeurige monitering van en aandag aan die wingerdstokke en minimale inmenging in die kelder. “Ons poog om ’n eg Suid-Afrikaanse karakter in ons wyne te bewerkstellig wat hul oorsprong in terme van die terroir reflekteer.”

Omdat sy met puik wingerde werk wat op ideale plekke aangeplant is, word die wingerde in die wyn weerspieël, sê sy, en kom die konsep van terroir tot sy reg.

En dit alles het twee dekades gelede begin met net 4 vate wyn, twee chenin blanc en twee cabernet sauvignon!

Vir ’n intieme en persoonlike wynproe, of ’n keldertoer, skakel 021 882 8214 of stuur ’n epos aan info@rudera.co.za, of besoek www.rudera.co.za.

Stark-Conde se proekamer het die pragtigste ligging … en dit laat die wyne sommer ook lekkerder smaak.

Waar Lanzerac se wynproe in ’n meer formele, klassieke en geskiedkundige omgewing en atmosfeer aangebied word, en Rudera s’n weer informeel, persoonlik en intiem is, word Stark-Condé se wyne in die middel van ’n dam aangebied. Toemaar, jou voete sal nie nat word nie!

Die wyne laat reg geskied aan die pragtige ligging.

Maar eers bietjie meer oor hierdie relatiewe nuweling. Hans en Midori Schroder het die plaas in 1989 aangeskaf toe dit bekend was as Oude Nektar. Die volgende dekade is toegewy aan die aanplant van wingerde. In 1998 het hul dogter, Marie, en haar man, José, by hulle aangesluit en is Stark-Condé gestig. Die naam is ’n samevoeging van Stark, die nooiensvan van Hans se moeder, en Condé, wat erkenning gee aan José se pa, ’n Kubaanse immigrant na Amerika.

Die eetplek bied pragtige uitsigte op die omliggende berge en die dam en proekamer.

José Condé het sy wynmaakloopbaan met net ’n paar vate cabernet sauvignon en basiese wynmaaktoerusting begin. Die eerste oesjaar was in 1998. Vandag word sowat 10 000 kiste wyn hier gemaak.

In 2010 is die Postcard Café geopen, en vandag spog Stark-Condé ook met ’n weelderige selfsorg-kothuisie wat 4 mense kan huisves.

Vir meer inligting, skakel 021 861 7700 of stuur ’n epos aan info@stark-conde.co.za, of besoek www.stark-conde.co.za.

Die Jonkershoekvallei bied natuurlik genoeg te sien, te doen en te ervaar vir ’ n langer besoek as net een dag, en met verblyf op sowel Lanzerac as Stark-Condé is dit beslis ’n langer besoek werd. Die natuurskone Jonkershoek-natuurreservaat bied staproetes, bergfietsroetes, perdry, piekniek en swem in rotspoele, en die teerpad van Lanzerac tot by die reservaat sal padfietsryers ook genoeg oefening gee. En die pragtige en geskiedkundige studentedorp Stellenbosch is op jou voorstoep.

Ons gaan dus aan ons Kanadese vriende voorstel hulle skop hul besoek af met ’n keldertoer en wynproe op Lanzerac, gevolg deur middagete, dan ’n persoonlike en intieme proe en lekker gesels by Rudera, gevolg deur Stark-Condé. As hulle daarna nog krag het, kan hulle terug ry Lanzerac toe vir “afternoon tea”.

Miskien doen ons nog die besoek saam met hulle! Lanzerac, Rudera en Stark-Condé is beslis meer as een kuier werd.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>