Dit is tyd om te besef port is nie net vir die ouer garde met hul vol beursies nie. Nooi die 2006- Monis Vintage Port na jou volgende ete en ontdek ‘n merkwaardige smaaksensasie.
Dié portwyn is 'n elegante gefortifiseerde wyn met uitstekende verouderingspotensiaal. Dit is 'n versnit van die klassieke portkultivars touriga naçional, sousão en tinta roritz.
Aanloklike, ryp bessiegeure word gevolg deur donker kersies en sjokolade, en 'n sweempie brame en ryp pruime in die neus. Op die tong maak dit stadig oop in 'n ryk dog taamlik droë bessiegeur en eindig met goeie balans en subtiele tanniene.
Die Monis Vintage Port is besonders saam met 'n verskeidenheid van kase en ingelegde vye of nageregte soos truffels, roomkoek en vrugte geweek in port. Dit is ook ‘n veelsydige aanvulling tot souse en reduksies en verleen 'n heerlike geur aan enige winterdis.
Maar sou jy verkies om jou port ongestoord te geniet, is dit ook uitsonderlik na ete op 'n koue wintersaand.
Die 2006 Monis Vintage Port is beskikbaar by voorste drankwinkels en verkoop teen sowat R80.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast