Die Helderberg onbloot sy wyn- en ander geheime

Date posted:
January 18, 2011

Daar gaan nie ‘n maand verby waartydens ek en vroulief nie ‘n draai in die wynlande maak nie, en ons vind altyd ‘n nuwe area om te besoek, selfs na byna sewe jaar! Dit kan ook nie anders nie as mens in ag neem die omvang van en die groot verskeidenheid wat die Kaap se wynlande bied ... in kos, wyn, natuurskoon en vermaak. En dan praat ek nie eers van die mense nie.

Daarom bly ek verstom wanneer ek Kapenaars hoor kla dat daar kwansuis niks te doen is oor naweke nie. Regtig? Word wakker, mense, en ruik die ... wel, kos, wyn en natuur!

Die Helderberg-area is vir my ‘n effense anomolie. Dit lê tussen Stellenbosch en Sir Lowryspas, maar ek’s nooit seker presies waar Stellenbosch eindig en die Helderberg begin nie. Hoe dit ookal sy, dis ‘n area wat bekend is vir sy uitmuntende wyne en kos, om van asemrowende natuurskoon nie eers te praat nie. En daar’s ‘n hele paar wynmakers wat ek van weet, maar by wie ek nog nie ‘n draai gemaak het nie. Om dit reg te stel, het ek vir Annareth Bolton, die pragtige meisie in beheer van die Stellenbosch-wynroete, gevra om vir my ‘n besoek aan die area te reël en veral op daai landgoedere te konsentreer wat ek nog nie by was nie.

My wielemaat vir die besoek was Renault se opvallende Mégane Coupé Cabriolet (lees berig hieronder), ‘n seepgladde “tourer” wat jou sintuie behoorlik prikkel en jou om een of ander onverklaarbare rede aanhoudend na teer laat verlang!

 

 

 

Danielle le Roux en Amanda de Klerk geniet 'n Lyngrove-rooie terwyl die Helderberg in die agtergrond pronk.

 

 

 

My eerste stop van die dag was by Lyngrove (021-842-2116 / info@lyngrove.co.za) langs Wineryweg. Ek het hierdie wynplaas en sy wyne glad nie geken nie en baie uitgesien na die besoek. En ek was nie teleurgestel nie! Amanda de Klerk, verantwoordelik vir bemarking en verkope, en Danielle le Roux, wynmaker, het my in die pragtige gastehuis ingewag en nadat ons mekaar se ore so bietjie gebuig het, is ons na ‘n ander vertrek vir die proe.

Ek het met Lyngrove se Sauvignon Blanc Limited Release 2010 afgeskop - net om darem die maagwande te seël – en die eerste druppels het nog skaars my tong geraak toe spring al wat ‘n smaakklier is kiertsregop en skreeu: Hierjy jou lekker ding! En toe die Latitude 2007 (‘n versnit van cabernet sauvignon, shiraz en pinotage) ook nog die mat onder my kliere uitruk, toe weet ek Annareth het reg gekies! Die 2008- Shiraz het ‘n “WOW!” op my telkaart gekry, terwyl die Pinotage van dieselfde oesjaar ‘n “’n Meneer!” ontlok het.

Omdat die dag lank was en nog ‘n hele paar proeë op my gewag het, het ek daar volstaan, maar Lyngrove se mense kan hulle maar reg hou: ek gaan beslis weer daar inloer! Daar’s ‘n Cabernet Sauvignon, Merlot en Shiraz/Pinotage wat ek beslis nog aan my smaakkliere moet bekend stel.

 

Jeremy Walker by sy "tradisionele" botteleringsmasjien op Grangehurst. Handgemaakte wyn kry hier nuwe betekenis!

 

 

 

 

 

Hiervandaan is ek terug met die R44 tot by die afdraai na Grangehurst (021-855-3625 / winery@grangehurst.co.za) waar Jeremy Walker spesialiseer in die maak van rooiwyn. Grangehurst lê teen die onderste hange van die Helderberg en is ‘n boetiekwynmakery wat slegs sowat 140 ton druiwe op ‘n tradisionele wyse verwerk sonder veel tegnologiese inmenging. Die druiwe kom vanaf wingerde in die Helderberg, Firgrove en Groter Simonsberg.

Nadat hy tien jaar lank op cabernet sauvignon, pinotage en merlot gekonsentreer het, het Jeremy drie bykomende kultivars – shiraz, mourvèdre en petit verdot – by sy wynlys gevoeg. Sy Cape Rosé Blend 2009 (cabernet sauvignon, pinotage, merlot, shiraz en chenin blanc) het onmiddellik indruk gemaak, terwyl die twee rooies wat ek geproe het, beslis nie vir enige Jan Rap en sy maat is nie. Dis “groot” wyne met sterk persoonlikhede wat jou smaakkliere voor die bors gryp en sê: Hoesit, my China, is jy man of muis?

 

 

 

Annareth en Rianie geniet 'n wyntjie op die ruim stoep by die Langtafel-restaurant op Haskell Vineyards. Let op die asemrowende uitsig!

 

 

 

Dit was tyd vir middagete en Haskell Vineyards se Langtafel-restaurant. Haskell Vineyards (021-881-3895 / info@haskellvineyards.com) wag hoog teen die Helderberg anderkant Bilton en langs Rust en Vrede. Op die stoep van die nuwe restaurant, onder ‘n lowergroen boom-“afdak”, en met asemrowende uitsigte oor die vallei, berge en wingerde het ek, Annareth en Haskell se bekende en bekroonde wynmaker, Rianie Strydom, mekaar raak gedrink.

Ons het besluit om sommer net daar en saam met middagete te proe. Daar op die ruim stoep. Onder die bome!

Haskell Vineyards bemark twee wynreekse onder die Haskell- en Dombeya-etikette. En kyk, hierdie meisiekind weet wat om in ‘n kelder te doen! Drie Dombeya-wyne – die 2009- Chardonnay, 2006- Samara (‘n versnit van cabernet, merlot en malbec) en 2007- Cabernet Sauvignon – en twee Haskell-wyne - die Pillars Syrah 2008 en IV 2007 – het my gou-gou laat verstaan hoekom Rianie al verskeie toekennings ingepalm het.

O ja, die restaurant kan ek ook op groot skaal aanbeveel. Die kompetisie vir eetplekke in die wynlande word by die dag strawwer en eetplekke moet uithaal en wys om nie agter gelaat te word nie. Die Langtafel-restaurant is beslis ‘n besoek werd. Selfs meer as een!

 

So lyk 'n man wat vir die kamera poseer! Gee net vir Marius 'n glasie met van sy lekker wyn en daai ernstige uitdrukking versag in 'n wynboer-"smile"!

 

 

 

 

Dit was tyd vir my laaste besoek van die dag en ek’s terug R44 en Somerbosch (021-855-3615 / sales@somerbosch.co.za) toe. Dis hier waar Marius, Japie en Wrensch Roux ‘n ontspanne en intieme atmosfeer geskep het om in wyn te proe en by hul Bistro jou ander behoeftes te bevredig. Twee wynreekse onder die Somerbosch- en Poker Hill-etikette word hier gemaak, terwyl die Somerbosch Kylix hul vlagskip is en in beperkte hoeveelhede gemaak word.

Die plan was om net een of drie wyne te proe, maar dit het so lekker om die tafel op die grasperk en onder die bome geraak dat Marius daarin geslaag het om my byna die hele wynreeks te laat proe! Elf wyne agter mekaar! Van die Poker Hill Semillon/Chenin Blanc 2010 en Somerbosch Cabernet Sauvignon 2005 tot die Somerbosch Kylix 2004 wat uit cabernet, merlot en shiraz bestaan. En dit spreek natuurlik boekdele vir hoe lekker hul wyne is!

Ek dink ek moet dieper die Helderberg-area in om te sien watter geheime en verrassings daar nóg op my wag!

Renault se Mégane Coupé Cabriolet baie ‘sjiek’

Ek het baie jare gelede ‘n afslaandak-sportmotor gehad. Ek het toe ook nog hare gehad! En ‘n kam of borsel altyd byderhand, net vir ienkys!

Vandag het ek nie veel hare meer oor nie. En daar’s dus geen noodsaaklikheid meer vir ‘n kam of borsel nie. Net ‘n keppie.

Franse styl en elegansie op wiele.

Toe Renault se Mégane Coupé Cabriolet dus hier voor my huis stop, het ek onmiddellik terug verlang na my hare! En daai kam en borsel! Net vir ienkys!

Ek het my keppie opgesit en die pad gevat. En hoe verder ek met hierdie Cabriolet gery het, hoe meer het ek hom geniet. Sy rygerief, hoë vlak van toerusting, sofistikasie en jeugdige karakter het hom sommer gou onder my vel laat inkruip. Selfs sy sesgang-handratkas kon my nie afskrik nie. Deesdae verkies ek outomaties! Seker maar ‘n teken van die ouderdom.

Oukei, hy’s nie ‘n sportmotor nie, eerder ‘n gerieflike “tourer” vir twee mense. En as die dak afgeslaan is (wat ten volle outomaties plaasvind), dan is daar nie juis meer plek in die bagasiebak nie en word daai agterste twee sitplekke baie praktiese bergplek. Maar dit maak nie saak nie. Dis so lekker om hom te ry.

En hoewel daai viersilinder-sestienklepenjin slegs 1 397 cc het, sorg die turbo-aanjaer vir ‘n lekker 96 kW en 190 N.m. Volgens die vervaardiger help dit die Fransman om 100 km/h in onder 11 sekondes te haal en ‘n topspoed van 200 km/h, terwyl die gemiddelde brandstofverbruik ‘n suinige 7,3?/100 km is.

Oukei, R360 000 is nie peanuts nie, maar wat anders is daar in hierdie prysklas wat jou soveel pret en plesier gaan verskaf?

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram