Die geskiedenis van die glas-wynbottel

Wyn in ’n glasbottel het so alledaags geraak dat ons nie eintlik meer daaroor wonder nie. Hulle kom in verskillende vorms en groottes, en dikwels ook in verskillede kleure. Jip, wyn kom ook in papsakke en bokse, maar ’n glasbottel sal altyd voorkeur geniet by kieskeurige wynliefhebbers.

Glas is natuurlik al baie lank met ons. Lawaglas wat natuurlik voorkom, is sedert die Steentydperk deur die mens gebruik om  gereedskap mee te maak. Die eerste ware glas is om en by 3000 vC in Noord-Sirië geskep. Ongeveer 1730 vC is glas in Suid-Asië gebruik. Die antieke Romeine is veral bekend vir hul glaswerk wat sowel tuis as buite die huis gebruik is, op nywerheidsvlak. Hulle het die glasblaastegniek ontwikkel wat gebruik is vir die maak van wynbottels. Dit is dus geen verrassing nie dat die woord “glas” vir die eerste keer deur die Romeine gebruik is.

Ongelukkig was die delikate glas van destyds nie ’n goeie manier om wyn te bewaar nie aangesien dit te broos was om mee te reis. Wyn is dus eerder in kleipotte bekend as amfora opgegaar. Glas is egter steeds van tyd tot tyd gebruik aangesien mense wyn in handgeblaasde glasbottels geskink het vir spesiale geleenthede. Wanneer glasbottels verskeep moes word, is hulle in strooi toegedraai vir beskerming. Sodoende kon die bottels ook regop gestoor word.

In antieke Rome is amfora gebruik pleks van glas-wynbottels.

In die 17de eeu het die uitvinding van die steenkool-smeltoond alles verander. Die warmer temperature het daartoe gelei dat dikker, donkerder glas vervaardig kon word as tevore. Voeg hierby die uitvinding van ’n kurkprop en skielik was daar ’n deegliker manier om wyn te vervoer!

Bottels was egter steeds nie gestandaardiseer nie, wat beteken hulle is in allerhande vorms en groottes gemaak. Die kleur het ook aansienlik verskil, en pleks van standard-wynetikette, is die bottels gewoonlik net met ’n stempel van die bottelmaker gemerk.

Teen die 1730s het mense die belangrikheid van verskillende wynmakers, kultivars en wingerde begin besef. Daar is ook begin om wyn in die bottel te verouder … deur dit te stoor nes ons dit vandag doen! Die bottels is op hul sye gestoor om bederf te voorkom en om die eienaars in staat te stel om moontlike afsaksels raak te sien. As gevolg hiervan het die vet, ronde bottels ongewild geraak en plek gemaak vir die lang, slanke bottels wat ons vandag gebruik.

Wynbottels was egter steeds nie gestandaardiseer nie. Hulle was ’n “longvol” van die blaser se asem, gewoonlik tussen 700 en 800ml. Daarom was dit in sommige lande, soos Engeland, onwettig om wyn per bottel te verkoop. Wyn is eerder per vat verkoop en dan in bottels geskink. Dit was die wet in Engeland tot 1860.

In 1979 het die VSA die standaard-grootte vir ’n glaswynbottel daargestel, naamlik 750ml. Om handelsbetrekkinge te vergemaklik, het die Europese Unie gou dieselfde standaard aanvaar.

Vandag is die 750ml-bottel natuurlik ’n alomteenwoordige deel van die wêreld van wyn. Die gevoel van ’n koel glasbottel in die hand word net geëwenaar deur die geure van die wyn in jou mond!

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>