Die Breedekloof: Vallei van vele Verrassings!

Ek het dit al vantevore gesê en ek sê dit weer: Suid-Afrikaners is afgryslik bederf met die omvang, gehalte en uiteenlopenheid van die wynlande se vele aanbiedings. En dis nie net die wyn en natuurskoon waarvan ek praat nie, dis ook die kos, verblyf en aktiwiteite wat aangebied word. Elke wynstreek is baie meer as net ’n vinnige besoek werd. Hulle is bestemmings waar ’n ieder en ’n elk kan gaan ontspan en uitspan.

Min streke illustreer dit so deeglik soos die Breedekloof. Van klein boetiekwynmakerye tot allemintige wynmaatskappye, van heerlike drinkwyn tot ernstige dinkwyn, van heilsame kuierkos tot haute cuisine, van gerieflike tot weelderige verblyf, en tussen dit alles deur is daar baie om die avontuurlus te bevredig. En alles word aangebied met ware plattelandse gasvryheid!

As jy nie van hengel hou nie, kan jy gaan roei, en as die water nie juis vir jou enige bekoring inhou nie, kan jy gaan stap of fietsry, of dit nou in die veld of op die oop pad is. En wanneer jy op enige plek in die kloof sit en rustig en tydsaam aan ’n wyntjie teug en ietsie stewiger peusel, omring deur wingerde en die statige berge wat regdeur die dag van karakter verander, sal jy wens dat jy Vader Tyd se briek kan trap.

Du Toitskloof-kelder se ingang en heerlike Dimension Shiraz Malbec word weg gegee teen R45 per bottel en Dimension Chardonnay teen R30 per bottel!

As jy van Kaapstad se kant af kom, is Du Toitskloof Wines jou eerste “pit stop”, jou inleiding tot hierdie streek. En wat ’n heerlike inleiding! ’n Indrukwekkende reeks wyne teen pryse wat jou laat wonder of die mense die kluts kwyt geraak het. As ek net meer plek in my ou “keldertjie” gehad het …

Die “reis”, met passie en entoesiasme aangebied!

Ek is op ’n wynreis “van Suid-Afrika na Italië” geneem deur die baie entoesiastiese en passievolle rooiwynmaker, Tian Loubscher, beginnende met chenin blanc (wat anders!) en eindigende met nebbiolo. En tussenin was daar iets vir elke smaakklier.

Die wynmakery het groot planne in die spreekwoordelike pyplyn. Dit sluit sy eerste Breedekloof Makers Chenin Blanc in, asook die Ou Meul-bakkery reg langs die proelokaal.

Skoonheid in die kelder, Ivy du Toit van Jason’s Hill!

’n Ligte middagete by De Eike op pad na Jason’s Hill en die sjarmante en charismatiese Ivy du Toit het gevolg. ’n Besoek aan die Slanghoek-vallei wat hierdie landgoed nie insluit nie, is eintlik ’n mors van tyd. Wanneer mens Ivy se wyne proe, verstaan jy hoekom sy al soveel toekennings en lofbetuigings ontvang het. Jason’s Hill se bistro met sy asemrowende uitsigte op die vallei en die omliggende berge is ook sterk aan te beveel.

My mond het gewater voor die tyd en gelag na die tyd!

Maar nog was dit het einde niet! ’n Sjokolade- en truffel-proe het by Slanghoek-kelder gewag. Vier wyne – Vin Doux, Chardonnay, Pinotage en Crème de Chenin – en vier verskillende truffels – Red Velvet, Lemon White Chocolate, Cherry & Dark Chocolate en Salted Caramel & Dark Chocolate – het vir ’n groot glimlag op my gesig en ’n gejubel in my mond gesorg.

Die immerglimlaggende Attie Louw bederf jors troelie met ‘n paar van Opstal se uitmuntende wyne. Dis ‘n tawwe djob maar iemand moet dit doen!

Die eerste dag is afgesluit met ’n besoek aan Opstal-wynlandgoed van die Louw-familie. Attie Louw, wat ek nog nooit sonder ’n glimlag gesien het nie, laat mens altyd voel of jy familie is. ’n Heerlike en splinternuwe chenin blanc-gedrewe versnit, twee oesjare van Opstal se indrukwekkende Carl Everson Chenin Blanc en ’n droë, salmkleurige wyntjie later, en lekker gesels oor wyn en politiek, en jy kon maar sê ons het dieselfde bloedlyn!

Die klein, intieme en opvallende kapel op Bosjes waar verliefdes trou aan mekaar sweer.

Goed, Beter, Bosjes!

Dag een van drie het net te vinnig verby geflits en dit was tyd om te gaan inbespreek by ons verblyf vir die volgende twee nagte. Mense wat al van Bosjes gehoor het, dink gewoonlik aan daardie intieme kapelletjie met sy opvallende, golwende dak, maar Bosjes is veel meer as ’n romantiese droom vir paartjies wat op die punt staan om af te haak en ewige trou aan mekaar te sweer. Dis weelderige verblyf, ’n restaurant wat jou op ’n kulinêre reis neem, ’n tuin om jouself in te verloor, ’n staproete van 5 km waartydens jy wild kan sien en ’n plek waar jy die pragtige vallei en sy majestieuse berge oopmond gade kan slaan.

Tongbederf is iets alledaags in die wynlande, maar tong-uitdaag is iets unieks en besonders, en baie opvoedkundig.

Dag twee het afgeskop met ’n ligte onbyt by Bosjes en toe is ons na Deetlefs, glo die tweede oudste wynlandgoed in familiebesit in Suid-Afrika, anderkant Rawsonville vir ’n “interaktiewe” proe met die wynmaker, Ferdi Visser. Kos-en-wynpasmaak is niks nuut nie en baie gewild, maar nou en dan kom ’n kelder met iets unieks en baie interessants vorendag, ’n uitdaging om self te kyk wat pas die beste by wat. Dis nie net interessant nie, maar ook baie opvoedkundig.

By Deetlefs het hulle dit ’n treetjie verder gevat. Jy kry ’n bord met twee skyfies verskillende appel, twee blokkies verskillende kaas, ’n snytjie suurlemoen, sojasous, ’n pretzel en ’n balsemblaar. Dan kry jy ’n glas Deetlefs Sauvignon Blanc en moet jy elkeen met die wyntjie proe om vas te stel wat werk en wat nie. Wragtig pragtig!

Hierna het twee van die landgoed se chenin blancs gevolg … en net daar het ek besuit dat ek eendag gaan terugkeer om ’n fokus-artikel oor Deetlefs self te doen. Hier’s ’n baie lekker storie om te vertel, en dit gaan oor veel meer as die wyn.

Op Kirabo speel tradisie nog ‘n groot rol en die hele familie is betrokke.

Al ooit van Kirabo Private Cellar gehoor? Toemaar, voor hierdie besoek het ek ook nie. Hierdie boetiekwynmakery is reeds vyf geslagte in die hande van die Le Roux-familie en spesialiseer in rooiwyn – merlot, shiraz en petit verdot. En dan’s daar ook craft bier, iets wat mens al hoe meer in die wynlande aantref. Net so terloops, kirabo is glo Rwandees vir “geskenk”.

Die restaurant op Bosjes, uitstekend … nes die res!

Dit was tyd vir middagete en ons is terug Bosjes toe om bederf te word. Die restaurant bied fynproewerkos in ’n ontspanne atmosfeer en met asemrowende uitsigte, en die diens is flink en vriendelik.

Op Bergsig het De Wet Lategan my tong op nog ‘n wonderlike Breedekloof-reis geneem!

Daar was nog een wynkelder wat ingepas moes word voor die son sak, een waarna ek baie uitgesien het. Bergsig is ook reeds geslagte lank in die besit van die Lategan-familie en De Wet Lategan het besluit om my dag op ’n hoogtepunt af te sluit met ’n proe van hul vlagskip-wynreeks, die Bergsig Reserve-reeks.

Die Icarus White 2015 (’n elegante versnit van chardonnay, chenin blanc en weisser riesling), die Icarus Red 2012 (’n heerlike versnit van cabernet sauvignon en touriga nacional), die Reserve Chenin Blanc 2016 en die Reserve Cabernet Sauvignon 2012 het dan ook my stoutste verwagtinge oortref.

Bergsig het ook ’n volledige reeks wit- en rooiwyne, ’n rosé gemaak van shiraz en dessertwyne.

WS, Nicholas en jors troelie gesels en proe wyn, Steen, oor ‘n paar oesjare.

Ons laaste dag in die Breedekloof het heeltemal te vinnig aangebreek, maar alle goeie dinge kom mos tot ’n einde. Na nog ’n heerlike kontinentale ontbyt het ons die pad gevat na Daschbosch anderkant Rawsonville waar die wynmaker WS Visagie, en Nicholas Bruyns, die wingerdboukundige, ons ingewag het met verskillende oesjare van hul Steen (die tradisionele naam vir chenin blanc). So ’n ligte “vertikale” proe skuins na ontbyt is dikwels net die regte ding om mens se dag bietjie spoed te gee!

Al ooit van clairette blanche gehoor? Wel, Daschbosch se 2018-weergawe was nog bloedjonk, maar sy vars en verfrissende smaak het my onmiddellik van die winterkoue laat vergeet en aan soel somersdae begin dink!

Daschbosch is saam met Goudini en ’n paar ander handelsmerke deel van uniWines. Dit sluit Wild Clover Craft Beer in.

Net so terloops, Nicholas het my mond laat water met die nuus dat uniWines met nuwe kultivars eksperimenteer en ek het onderneem om in die nabye toekoms weer daar ’n draai te maak om uit te vind wat gaan vir wat!

Die ideale afsluiting van ons besoek, ‘n wynproe met twee pragtige “young guns”, Elizma en Lieze.

Die laaste besoek van hierdie heerlike avontuur was by Merwida waar Lieza van der Merwe (van Merwida) en Elizma Visser van Olifantsberg (sy’s die beter – en mooier – helfte van Deetlefs se Ferdi Visser!) my hul puik wyne laat proe het. Hierdie twee young guns is lewende bewys dat die drie T’s van wynmaak – Terroir, Tegnologie en Tradisie – hand-aan-hand loop in die Breedekloof. Waar familiegeskiedenis regdeur die vallei die belangrike rol van tradisie weerspieël, is dit die jonger geslag wynmakers wat tegnologie en vernuwing, wat so belangrik is om Suid-Afrika sy regmatige plek in die wêreld van wyn te laat inneem, verteenwoordig.

Merwida se 2017- Sauvignon Blanc, Family Vintners Chenin Blanc 2016, 2016- Cabernet Sauvignon en 2016- Barbera het getoon dat Lieza beslis nie net ’n mooi gesiggie is nie, terwyl Elizma se entoesiasme en passie vir wynmaak weerspieël is in Olifantsberg se Lark 2017, Blanc 2016, Pinotage 2017 en Silhouette 2014.

Chenin Blanc: Van Werkperd na Skouperd

Die Breedekloof gaan oor veel meer as lekker wyn en kos en aktiwiteite, buitemuurs sowel as binnenshuis, die natuurskoon is skouspelagtig!

Ek het vroeër verwys na die Breedekloof Makers. Vir diegene wat nog nie weet nie, dis ’n chenin blanc-inisiatief wat die kollig op hierdie uitsonderlike en veelsydige kultivar laat val. Chenin blanc was vir eeue lank die werkperd van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, maar vandag het Suid-Afrika se wynmakers hom in ’n ware skouperd omgeskep, en Breedekloof Makers wys waartoe hy in staat is.

Die Breedekloof gaan egter oor veel meer as uitmuntende chenins. Daar is seepgladde pinotages, sappige shiraz’e, heerlike Rhône-versnitte en veel, veel meer. Dink aan barbera, dink aan pinot grigio, dink aan sensoriese reise vir jou tong … en die Breedekloof het dit!

En wat baie mense nie weet nie, is dat die Breedekloof die bron van oorsprong is vir baie wyne uit Suid-Afrika se voorste en bekendste kelders en handelsmerke.

Chenin blancs uit die Breedekloof bewys watter uitmuntende wyn hierdie kultivar kan skep.

Of jy net vir die dag iewers in die wynlande wil gaan uitspan of langer, plaas die Breedekloof onmiddellik op jou lysie. Ons sal beslis terug gaan, nie net om weer gesig te wys by kelders wat ons hierdie keer besoek het nie, maar om ook by die ander wat ons op hierdie besoek gemis het, te gaan inloer en kennis te maak. En om ander wyne te proe en eetgoed te geniet. En om ander verblyf te ervaar. En hierdie keer vat ek my twee ysterperde saam – een vir die veld en een vir die pad – en my stapskoene.

Sien, dis wat die Breedekloof aan mens doen! Jy kom aan as vreemdeling en vertrek as vriend, en vriende kuier mos gereeld saam rondom kos en wyn! En hierdie vriende laat jou nie wegry sonder om ook ander produkte uit die vallei, soos heerlike olyfolie, druiwekonfyt en tuisgebakte biskuit, aan te skaf nie! Nodeloos om te sê, meer as wyn is saam met ons terug huistoe.

Vir meer inligting, skakel 023 349 1791 of stuur ’n epos aan info@breedekloof.com, of besoek www.breedekloof.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>