Devon Crest – van weeskind tot klassieke Meinert-meesterstuk

Date posted:
March 18, 2009

 

Een ding is seker van Stellenbosch-wynmaker Martin Meinert se klassieke  Bordeaux-styl-rooiwynversnit, Devon Crest: sy voortdurende verandering. Na vele naam- en gedaanteverwisselings het hierdie eens weeskindwyn nou tot sy eie reg gekom as ‘n ware meesterstuk in die erkende Meinert-wynreeks.

 

In pas met die Meinert-reeks se unieke, moderne en handgemaakte voorkoms, pronk die Devon Crest in ‘n blink nuwe baadjie met ‘n kenmerkende, heraldriese  embleem wat die rooiwyn se status en plek van herkoms – die wingerde van waar die wyn sy naam kry – uitbeeld .

 

Die Devon Crest staan vandag beslis nie in die skaduwee van die gewilde en gesogte Synchronicity – Martin se unieke Suid-Afrikaanse versnit met ‘n meer moderne en onkonvensionele aanslag – nie. Met sy onstaan is die wyn eers gedoop as Meinert Cabernet Sauvignon/Merlot 1997 en was dit, en ‘n Merlot, die eerste twee wyne wat Martin in 1999 die lig laat sien het; alles moontlik gemaak deur die uitsonderlike ligging en terroir van sy wynplaas, Devon Crest, in die hartjie van die Devonvallei buite Stellenbosch.

 

Die pas vrygestelde Devon Crest 2005 is gemaak van merlot (37%) en cabernet sauvignon (63%), vandaar die wyn se rykheid en lang, droë, speseryagtige nasmaak.  

 

Die Devon Crest 2005 is vir 18 maande in ‘n kombinasie van nuwe, tweede- en derdehandse Franse eikehoutvate verouder en het ‘n sensuele, dieprooi gelaat. Dit verlei die sintuie met ryp bessie en kersie smake met onderliggende ment- en leer- nuanses wat die palet fluweelsag streel.

 

Die wyn is ‘n wenner as dit by vleisgeregte kom en besit oor uitstekende verouderingspotensiaal wat kan strek tot en met 2015. Probeer dit gerus met prima rib met ‘n rooiwyn-en-beenmurg-sousie, peperfilet bedruip met ‘n romerige brandewynsous of ‘n lamsrak met roosmaryn.

 

Elk van die wyne in die Meinert-reeks het hulle eie persoonlikheid en karakter, dus is elke aspek van die vervaardigingsproses persoonlik en uniek, selfs die verpakking. Ander wyne in sy reeks sluit in die gewilde rooiwynversnit, Synchronicity, ‘n Cabernet Sauvignon, ‘n Merlot en sy eerste witwyn, ‘La Barry’ Sauvignon Blanc, wat vernoem is na sy vrou.

 

Die Devon Crest 2005 is beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante teen ongeveer R130 per bottel.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram