Desiderius Pongrácz 2001, die charismatiese Méthode Cap Classique, is met ‘n trofee bekroon as Suid-Afrika se beste vonkelwyn van meer as £10 by die toonaangewende 2009 Decanter World Wine Awards in Londen.
Decanter is Brittanje se vernaamste wyntydskrif en die grootste in sy soort met verkope in meer as 92 lande. Vanjaar het meer as 10 285 wyne aan die gesogte jaarlikse wyntoekennings deelgeneem wat as die belangriste wynkompetisie in die wêreld beskou word.
Die 2001-oesjaar van die elegante Cap Classique, gekenmerk deur sy stylvolle gegroefde bottle, is op eie bodem ook reeds beloon met ‘n Veritas- goue medalje en as die algehele wenner van die 2006 Wine Magazine Amorim Cork Cap Classique Challenge.
Geïnspireer deur die Hongaarse edelman en vlugteling, Desiderius Pongrácz, is die vonkelwyn geskep volgens die klassieke Franse metode van bottel-fermentasie waardeur delikate, fyn borreltjies gevorm word. Desiderius Pongrácz 2001 is ‘n eiesoortige, edelvonkelversnit van die edeldruif-variëteite chardonnay en pinot noir. Die pinot noir verleen ‘n skoon, mineraalagtige karakter, terwyl die chardonnay struktuur en ‘n unieke smaak aan die Cap Classique skenk.
Die genotvolle en elegante Desiderius Pongrácz 2001 het ‘n klassieke gis- en beskuitjiekarakter op die neus met ‘n goeie balans van vrugte en suur in die mond. Soos die wyn verouder, ontwikkel dit wonderlike romerige en neutagtige karakters op die neus en 'n volronde tekstuur wat talmend op die tong dans.
Desiderius Pongrácz 2001 is beskikbaar by fynproewerrestaurante en uitgesoekte wynwinkels vanaf R200 ‘n bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast