Derde brandewynfees vir die beste in die wêreld!

Date posted:
February 26, 2010

Die Standard Bank Fine Brandy Festival word van 5 tot 7 Mei in die Sandton Sun, Sandton, Johannesburg, aangebied en sal ‘n viering van die wêreld se beste brandewyn wees.

 

Daar is eenvoudig geen gelyke vir Suid-Afrikaanse brandewyn nie - dit kom van die wingerdstok, word gedistilleer tot perfeksie en is internasionaal bekroon.

 

Die Standard Bank Fine Brandy Festival word vanjaar vir die derde keer aangebied en is 'n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting, geborg deur Standard Bank. Die fees is 'n gesofistikeerde toonvenster waar besoekers die triomf en suksesse van die land se distilleerders self eerstehands kan ervaar.

 

Vanjaar se tema is “Suid-Afrikaanse Brandewyn: die wêreld se beste” en dit bied 'n blik op die plaaslike brandewynbedryf se volgehoue uitstekende internasionale prestasies. Dit is 'n samekoms van almal met 'n passie vir hierdie kosbare drankie. Fynproewers en ontluikende brandewyn-entoesiaste sal skouers skuur met vername distilleerders, brandewynmeesters wat spog met talle toekennings en pryse, en kleiner landgoedbrandewynmakers.

 

Die feesprogram sluit onder meer die grootste versameling Suid-Afrikaanse brandewyne nog onder een dak in, 'n unieke keur van brandewyne in alle style wat die volle spektrum van die bedryf se prestasies weerspieël. Feesgaste sal ‘n wye reeks verouderde Kaapse potketel-skatte kan proe, ruik en ontdek, asook oesjaarbrandewyne met hul unieke karakter en versnit-brandewyne van buitengewone kwaliteit.

By die Artisan Collection val die kollig op brandewyne wat in kosbare klein hoeveelhede geskep word en gewoonlik net by die kelder geniet kan word.

Die fees se nuwe 2010 Walk of Fame vereer die bedryf se pioniers en brandewyn-ikone wat al internasionaal bekroon is as dié beste. Die smaakpawiljoen “Reis van wynstok tot kuip” is iets wat veral brandewyngroentjies leersaam sal vind. By die Brandewyn-Aromawiel word besoekers getrakteer op die subtiele en komplekse geure en aromas van keurbrandewyn – dit wissel van viooltjies tot vanielje, van sitrus tot sederhout, van sjokolade tot sigare en van ment tot mokka. Nog ‘n nuutjie, die swierige sitkamer Cinema Paradiso, is ‘n gesellige kuier-en kletsplek met ongewone happies soos brandewyn-gebotterde springmielies om saam met brandewyn-meesterstukke te geniet.

 

Links: Brandwyn maak die beste mengeldrankies en skemerkelkies.

Moderne mengelkunstenaars – "mixologists" – wat deesdae die septer in die kroeg swaai, pak die Raising the Bar- uitdaging aan. Die skemerkelk-skeppers sal met hul kontemporêre aanslag vrydenkende mengelkonkoksies met versnitbrandewyn opdis, asook skemerkelkie-aanhangers aanspoor om nuut te dink oor klassieke kombinasies.     

Die gewilde Abie Valentyn, Van Ryn se veteran-kuiper met 36 jaar ervaring in dié vakmanskap, bring die tradisionele kuns van handgemaakte vate na die verhoog.

Kaartjies kos R195 per persoon en sluit ‘n brandewynglas en koepons in. Kaartjies kan by Computicket, Ticketweb of by die deur gekoop word.

Besoek www.brandyfestival.co.za vir volledige besonderhede oor die fees of om te bespreek, of stuur e-pos na  info@brandyfestival.co.za

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram