Delheim vier 60 jaar van sy ikoniese Spatzendreck  

Een van Suid-Afrika se mees geliefde wyne vier vanjaar sy 60ste verjaarsdag met die jongste bekendstelling van Delheim se Spatzendreck 2019.

Wat sommige mense aanvanklik as ’n foutiewe wyn beskou het, het die oorlede Spatz Sperling van hierdie bekende Stellenbosse wynlandgoed laat verrys om een van wynliefhebbers se gunstelinge te word … en dit heel gepas Spatzendreck gedoop!

Die storie oor hoe dié wyn sy ontstaan gehad het, is legendaries. Spatz het self vertel dat dit alles op ’n Sondagmiddag in 1961 begin het. Die familie het vriende onthaal en hy het die gaste na die kelder genooi om sy jongste skepping te proe.

“Op daardie stadium was ek mal besig om te eksperimenteer omdat daar geen plaaslike kundiges of laboratoriums was om jou wyne na te gaan nie en ook nie veel ander produsente om notas mee uit te ruil nie,” verklaar sy geskrewe notas. “My enigste beweegredes was die vasbslotenheid om op een of ander manier ’n drinkbare wyn te maak én my groot liefde vir hierdie hemelse vloeistof. Alles het goed verloop … tot ’n proesel uit tenk nommer13 getrek is.”

Die wyn was glad nie wat dit moes wees nie. Een gas – nogal ’n goeie vriendin – het dit selfs “drek” genoem. Spatz se eer was gekrenk – soos sy dagboek later getuig het – maar hy was beslis nie heeltemal verslaan nie en “Spatz se Dreck” is gebore. Baie Suid-Afrikaners het geleer wyn drink met hierdie laatoes-witwyn wat die gehaltestandaard vir soetwyne in die vroeë 1960s gestel het.

Volgens die volgende geslag, Nora en Victor, is die wyn ’n herinnering aan die gees van hardnekkigheid en ’n sin vir humor wat die boustene van Delheim geword het.

Selfs die twyfelagtige “eer” vir die wyn se etiket om in 1978 in die gerekende Britse wynpublikasie, Decanter, as die lelikste etiket van die jaar genoem te word, het Spatz nie afgesit nie. Die tydskrif het berig: “Wat hierdie etiket sy Olimpiese klas verleen, is die vertaling van die wynnaam wat – om dit delikaat te stel – ‘mossie-mis’ is.”

Die stigtingshandelsmerk van ’n astrante mossie wat in ’n wynvat tjorts, sou egter bly voortleef.

Buitendien, hoe kon sy skepper met die naam wegdoen as sy van, Sperling, Duits is vir mossie en sy bynaam, Spatz, die verkleinvorm? Dit was klassieke Spatz-humor.

Dit is hierdie deursettingsvermoë en oortuiging wat die nimlike Michael Hans “Spatz” Sperling gevestig het as ’n pionier van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, veral waar dit wyntoerisme betref. Sy lys oorwinnings word gereeld erken en een hiervan is dat hy instrumenteel was met die stiging van die Stellenbosch-wynroete 50 jaar gelede in 1971 – ’n eerste vir Suid-Afrika.

Die laatoes-modegier het in Suid-Afrika van krag tot krag gegaan en die familie het uiteindelik besluit dat Spatzendreck nie langer in dié kategorie kon meeding nie. Spatzendreck se historiese waarde het aan Delheim metaforiese vlerke gegee en Delheim sal altyd onthou word vir die nederige begin van Spatz se eerste probeerslag.

Sedert 2013 het die familie die wynmaakstyl van Spatzendreck na ’n natuurlike soet, vatverouderde wyn verander. Dit is nou ’n versamelaarsitem om die plaas se geskiedenis te koester en die pionierswerk, deursettingsvermoë en sin vir humor te eer.

Die Spatzendreck 2019 kos R245 per 500ml bottel en is slegs van die plaas en ook deur Delheim se aanlynwinkel by https://www.delheim.com/shop-online/ beskikbaar.

Net so terloops, noukeurige veroudering sal die wyn vir 10-20 jaar ná oesjaar kan laat verouder.

Vir meer inligting, skakel 021 888 4600 of stuur ’n epos aan info@delheim.com, of besoek www.delheim.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>