Delheim lig die sluier op sy jongste ‘vegan’-vriendelike Rosé en Sauvignon Blanc

Die jongste wyne uit die Delheim-kelder sal beslis ’n huppel in “veganis”-wynliefhebbers se stap sit. Die rede? Wel, dis omdat dié bekende Stellenbosse wynkelder geen diereprodukte wat tradisioneel in die wynmaakproses aangewend word in hul Delheim Pinotage Rosé 2018 en Sauvignon Blanc 2018 gebruik het nie.

 

Diereprodukte wat van melk, eiers en vis gemaak word en gelatien bevat, word in die wynmaakproses gebruik om die vloeistof skoon en helder te maak voor dit gebottel word. Dit beperk die aantal wyne wat vir veganiste en vegetariërs toeganklik is. Delheim het egter net ’n tipe klei, bentonite, en ’n plant-proteiën gebruik toe dié twee wyne gemaak is.

 

Die Delheim Pinotage Rosé was die breinkind van Delheim se oorlede patriarg en bedryfslegende, Spatz Sperling. Die bekende pienk blos het ’n lojale ondersteunersklub sedert dit vir die eerste maal in 1976 beskikbaar gestel is. Dit was Suid-Afrika se eerste pinotage rosé, en die afgelope paar jaar is dit drie maal deur die glansryke Weinwirtschaft-tydskrif uitgesonder as die beste rosé in die Duitse mark.

 

“Alhoewel ons uiters droë toestande ervaar het, was die gemiddelde temperatuur gedurende die oesseisoen koeler as vorige jare,” sê Altus Treurnicht, die wynmaker. “Die resultaat was stadiger rypwording, wat ideaal is vir vrug-ontwikkeling, maar die kleiner korrels wat deur die droogte veroorsaak is, het sy eie uitdagings gestel. Die sap moes sorgvuldig onttrek word om die elegansie van die pinotage-druiwe te behou.”

 

Die gevolg is ’n wyn met ’n ryk salmkleur en ’n diep pienk skynsel. In die neus vertoon dit aromas van granaat en bosbessie, met skeutjies spookasem en bloeisels. Delikate rooibessiegeure talm op die tong en dra by tot die varsheid van hierdie vruggedrewe dog gebalanseerde wyn.

 

Die “vegan”-vriendelike Delheim Pinotage Rosé 2018 herinner aan ’n fris lentebriesie en het ook ’n spatsel Muscat de Frontignan (3.5%) by wat die vars suur en rooibessie-soetheid balanseer met ’n sappige karakter wat bydra tot die wyn se parfuum-karakter.

 

Die Delheim Sauvignon Blanc 2018 is ook soos die Rosé deur die droë toestande beïnvloed. “Toestande soos hierdie het ’n spesifieke uitwerking op sauvignon blanc se aromatiese profiel” sê hy. “In hierdie wyn is die profiel baie meer tropiese vrugte.”

 

Hierdie “vegan”-vriendelike wyne is by vooraanstaande wynwinkels, restaurante en ook by die plaas beskikbaar. Dit kos sowat R75 vir die Rosé en R79 vir die Sauvignon Blanc.

 

Vir meer inligting, besoek www.delheim.com of kontak Delheim by info@delheim.com of 021 888 4600.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>