Delaire Graff haal top 50-lys van ‘World’s Best Vineyards Awards’

Die Stellenbosse wynlandgoed Delaire Graff het die 14de plek los geslaan op die jongste lys van die World’s Best Vineyards Awards. Die World’s Best Vineyards Awards is geskep om die beste in wyntoerisme wêreldwyd te huldig.

Die Delaire Graff-landgoed was die enigste verteenwoordiger vir die toekenning uit Suid-Afrika en die algehele wenner in die Afrika-kategorie. Die landgoed was 39ste in verlede jaar se toekennings.

Die beoordelaars het die volgende oor Delaire Graff te sê: “Ongelooflike uitsigte oor die asemrowende Banghoek-vallei, geurvolle Asiatiese tapas in die Indochine-restaurant.”

Uit die toekennings blyk dit dat Suid-Amerika steeds die beste bestemming is vir ’n wynbesoek. Die wenner in sowel 2019 as vanjaar is die Argentynse landgoed Zuccardi Valle de Uco in die hart van die Uco-vallei aan die voet van die Andes. Uruguay se Bodega Garzón het weer eens die tweede plek ingeneem.

Die toekennings word gedoen uit die nominasies van ’n sogenaamde Voting Academy van meer as 500 wynkenners regoor die wêreld. Om te verseker dat die akademie verteenwoordigend is, word die wêreld in 18 geografiese streke ingedeel met 36 kenners in elkeen.

“Daar is geen voorafopgestelde lys van kriteria nie,” sê Andrew Reed, die stigter van die toekennings. “Die ervaring neem ’n hele lys goed in ag wat verband hou met ’n besoek – die proe, die atmosfeer, die argitektuur, die wyn, die kos, die uitsigte, die personeel … Die lys gaan aan.”

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>